Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Klas van 2020 sál vanjaar matriekeksamen skryf – kenners
Colditz

Matriekleerlinge hoef nie in dié stadium bekommerd te wees dat die eind­eksamen weens die uitbreking van die virussiekte Covid-19 uitgestel sal word nie, meen onderwyskenners.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Saterdag gesê haar departement doen alles in sy vermoë sodat die eindeksamen kan voortgaan.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, sê dit is nog haalbaar.

“Ons verloor weens die nasionale inperking sowat tien skooldae, wat sowat 55 uur se onderrigtyd is. Daar is reeds besluit om die Junie-vakansie korter te maak en ander vakansies, soos die September-vakansie, kan ook moontlik verkort word.”

Klopper sê leerlinge moet onmiddellik met ’n gestruktureerde program begin om werk in te haal wanneer die skole ná die inperking heropen.

“Die Junie-eksamen kan met ’n week aangeskuif word, en so ook die rekordeksamen. Ek voorsien egter geen onoorkombare probleme vir matriekleerlinge nie.”

Volgens Klopper moet daar egter nie meer as 20 skooldae verlore gaan nie omdat probleme dan kan ontstaan.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, sê ook daar is geen rede tot kommer nie.

“Daar is reeds baie aanlyn hulpbronne beskikbaar vir leerlinge en skole doen baie moeite daarmee.”

Al word die staat van inperking tot middel Mei verleng, voorsien hy steeds geen probleme vir matrikulante nie.

“Dan sal pogings om aanlyn klasse en so meer aan te bied, net geïntensifiseer moet word.”

Klopper

Volgens Colditz kan leerlinge wat nie toegang tot ’n rekenaar het nie, dié hulpbronne op ’n slimfoon bereik.

Hy sê hy voorsien nie dat die eindeksamen uitgestel sal word nie.

“Nie in my wildste drome dink ek die eindeksamen sal heeltemal uitgestel word nie. Dit kan dalk ’n week of twee aanskuif.

“Indien dit wel gebeur dat die eksamen uitgestel word, is daar baie ernstiger probleme in die land waarop ons moet fokus as die matriekeksamen.”

Klopper se raad aan matrieks gedurende die inperking is om soveel moontlik werk wat reeds afgehandel is, te hersien.

“Matriekleerlinge is volwasse genoeg om self hul werk te hersien en daar is meer as genoeg werk om deur te gaan. Leerlinge hoef in dié sta­dium nie meer as een of twee uur per dag aan skoolwerk te bestee nie.”

Colditz sê as hy self nou in matriek was, sou hy die tyd wat hy gewoonlik by die skool sou wees, tuis aan skoolwerk bestee. “Onderwysers kan in WhatsApp-groepe inligting aan leerlinge verskaf.”

Die gerugte dat skole eers in September sal heropen, is onwaar, sê Elijah Mhlanga, Motshekga se woordvoerder.

“Die presiese datums vir die heropening van die skole sal later bekend gemaak word,” sê hy.

Meer oor:  Koronavirus  |  Matriekeksamen  |  Kommer  |  Matrieks  |  Onderwys  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.