Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Koffiefontein-skole gerem deur onluste

Koffiefonteinse skole en leerlinge sal nog ’n ruk lank die wrange vrugte van verlede jaar se maande lange onrus pluk.

Verlengde skoolure, naweek- en vakansieklasse. Dít word vir dié Vrystaatse leerlinge beplan nadat hulle in 2018 weens die onluste nie hul finale eksamen kon aflê nie.

Leerlinge van gr. 1 tot gr. 11 is dus nog in verlede jaar se klasse.

Die onluste in Koffiefontein in November verlede jaar het die skole se beplande finale eksamens in die wiele gery. Foto: Argief

Matriekleerlinge van die dorp se onderskeie skole is in die eindeksamen na ander gebiede geneem om dit veilig te kon aflê. Die oproer is vir eers gestaak, met geen voorvalle sedert die skole vanjaar geopen het nie.

MJ Mothebe, direkteur van die Xhariep-onderwysdistrik, het bevestig dat 2018 se gr. 4- tot gr. 11-leerlinge binnekort beslis dié eksamen sal moet aflê. Die gr. 1- tot gr. 3-leerlinge sal egter op hul jaarpunte geëvalueer word. Mothebe sê dit is die voorskrifte soos deurgegee deur Tate Makgoe, LUR vir onderwys.

Leerlinge is tans besig om verlede jaar se werk te hersien voordat die eksamen begin, met die gevolg dat hulle met 2019 se werk agter raak.

’n Datum vir die eksamen sal vandeesweek vasgemaak word, nadat die departement met die leerlinge se ouers vergader het, sê Mothebe.

Hy sê dit was nie vir sommige leerlinge moontlik om al die assesserings deur die jaar te voltooi nie en hulle sal dus benadeel word indien ’n eksamen nie afgelê word nie.

“Die leerlinge sal met 2019 se werk op datum kom as die voorgestelde bestuursplan aanvaar word. Daar is verskeie voorstelle wat die verlenging van skoolure en naweek- en vakansieklasse insluit,” sê Mothebe.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die voorgestelde bestuursplan wat Vrydag met die skole bespreek is, “is nie in alle opsigte bevredigend vir almal nie”.

Daar is verskeie vergaderings gehou en verskeie berigte en inligting aan ons deurgegee oor watter grade se gemiddeld gebruik mag word en watter grade eksamen moet skryf.
Susan Nieuwoudt, hoof van die Gekombineerde Skool Koffiefontein.

Fedsas is tans in gesprek met die onderwysdepartement.

“Ons voorstel is om die gemiddelde jaarsyfer, die skoolgebaseerde assessering, te gebruik en op grond daarvan te besluit watter leerlinge bevorder word. Gaan aan met vanjaar se kurrikulum.”

Colditz sê die verlenging van skoolure om 2019 se werk in te haal, hou “geweldige implikasies” vir die skole en leerlinge in. Dit sluit vervoerreëlings in wat getref sal moet word.

Susan Nieuwoudt, hoof van die Gekombineerde Skool Koffiefontein, sê hulle wag nog op ’n amptelike skrywe oor die eksamen van die departement af.

Nieuwoudt sê hulle was onder die indruk dat slegs gr. 10- en gr. 11-leerlinge die eksamen sou aflê, maar is Vrydag anders ingelig.

“Daar is verskeie vergaderings gehou en verskeie berigte en inligting aan ons deurgegee oor watter grade se gemiddeld gebruik mag word en watter grade eksamen moet skryf.”

Sy versoek die departement om so gou moontlik duidelike riglyne rondom die eksamen aan die skole te gee – “die tyd loop uit, elke dag is kosbaar”.

Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, het nie Maandag op versoeke om kommentaar gereageer nie.

  • Inwoners van Koffiefontein het maande lank betoog weens griewe teen Thandiwe Reachable, burgemeester van die Letsemeng-munisipaliteit, en die dorpsraad.
Meer oor:  Fedsas  |  Paul Colditz  |  Koffiefontein  |  Onluste  |  Onderwys  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.