Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kommer oor gereedheid voor onnies Maandag skool toe gaan

Onderwysers moet Maandag aanmeld by skole, maar daar is steeds kommer oor die gereedheid van die skole asook ’n dringende behoefte aan leiding oor onderwysers wat onderliggende gesondheidstoestande het.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê daar is steeds nie voldoende riglyne vir die prosesse wat gevolg moet word vir dié mense nie en niemand weet hoe dit gedokumenteer moet word nie. Niks is ook nog oor moontlike toesigsentrums vir die onderwysers se eie kinders gesê nie.

Kommer bestaan ook oor die gereedheid van talle skole in veral KwaZulu-Natal, Noordwes, Limpopo en die Oos-Kaap.

Tog moet onderwysers nie net wegbly van die skool nie, sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU.

“Vestig ’n papierspoor en meld aan. Verwittig die plaaslike departement as daar nie beskermende toerusting (PPE) is nie. Bevestig dat jy vir diens aangemeld het en bereid is om te werk as dit veilig is. Herhaal die proses die volgende dag.”

Onderwysorganisasies is ook bekommerd oor van die planne wat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, Donderdag vir skole in die provinsie bekend gemaak het.

Een daarvan is om voor 1 Junie ’n ope dag vir ouers by alle skole te hou voordat leerlinge in gr. 12 en gr. 7 terugkeer skool toe.

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê hy verstaan ouers wil versekerings hê, maar dit sal die poging om beweging by skole te beperk en skole te ontsmet voordat die leerlinge opdaag, ongedaan maak.

As ’n kind deur die loop van die dag siek word, is daar goeie riglyne in plek daarvoor. Die relevante beamptes moet ingelig word en dit is nie die skool se probleem om die situasie te bestuur nie.

Volgens Klopper is dit strydig met die Covid-19-regulasies en Lesufi se eie voorstelle om aan die een kant ’n verbod op besoekers te hê en dan groot groepe besoekers op die skoolterrein te ontvang.

Lesufi het ook aangekondig dat personeel en leerlinge drie keer per dag deur ’n siftingsproses moet gaan.

“Dit is onprakties en sal doodgewoon te lank neem. Die vereiste is een keer per dag,” sê Klopper.

Colditz stem saam dat dié plan nie sinvol is nie.

“As ’n kind deur die loop van die dag siek word, is daar goeie riglyne in plek daarvoor. Die relevante beamptes moet ingelig word en dit is nie die skool se probleem om die situasie te bestuur nie.”

Die organisasies voorsien ook probleme met die omstrede aanlyn aansoekstelsel vir gr. 1 en gr. 8 vir 2021 wat net ’n maand lank (vanaf 25 Junie) gaan oop wees.

Volgens Klopper maak die verandering nie sin nie en moet die duur van die proses volgens die getal beskikbare skooldae aangepas word.

Colditz meen dit gaan ’n groter chaos afgee as ooit tevore.

“In dié stadium is daar geen alternatief nie. Ouers kan nie in rye by skole gaan staan nie. Ek dink hulle moet die tydperk verleng en werk dat dit klap om die plasings gedoen te kry.

“Ons het gevra of ons ’n proeflopie kan doen om die platform te toets en dit het nog nie gebeur nie. Ons het al vir hulle gesê die platform moet aandag kry en toe kom die aankondiging sonder enige kommunikasie,” sê hy.

Daar is ook kommer oor die Gautengse departement se plan om 7 000 werklose mense tussen die ouderdom van 18 en 35 op te lei en aan te stel om regulasies by skole af te dwing en Klopper meen dié plan “het die potensiaal om ’n kruitvat te wees”.

Die Kinderwet verplig almal wat met kinders werk om ’n polisieklaring te verkry wat verseker dat hulle geen vorige veroordelings het wat kinders betref nie.

“Om kinders aan onbekende mense bloot te stel sal nie werk nie. Ons stel voor dat geld beskikbaar gestel word en dit in die hande van die skoolbestuur gelaat word,” sê hy.

Skole in Gauteng is ook Woensdag in ’n omsendbrief van die provinsiale onderwysdepartement ingelig dat sommige skole se beheerliggame verantwoordelik daarvoor is om skole gereed te kry.

Luidens die brief is skole in twee groepe verdeel. Die eerste groep van 1 623 skole se beheerliggame is verantwoordelik vir die ontsmetting en skoonmaak van die skool, terwyl die departement vir die tweede groep van 577 skole verantwoordelik is.

Die skoolhoof van ’n laerskool in Pretoria wat in groep A val, sê dit weerspreek wat hulle vroeër meegedeel is.

Dié skool het intussen sy eie voorsorgmaatreëls getref en voldoen aan die regulasies sodat onderwysers Maandag kan aanmeld nadat hy teen Vrydag steeds nie die beloofde ontsmettingsmiddels en PPE van die departement ontvang het nie.

Volgens Colditz erken die departement daar is funksionele skole wat self kan aangaan en disfunksionele skole wat meer bystand benodig.

Klopper sê daar is geen twyfel dat dit die departement se verantwoordelik is om die werkplek gereed te kry nie.

“Die algemene gevoel is dat die departement besef het dat hy nie in staat is nie en beheerliggame dus versoek het om hom by te staan. Dit is egter belangrik dat die aanspreeklikheid vir eise steeds by die departement berus.”

Hy meen dit is onbillik dat skole eers vandeesweek oor die verantwoordelikhede ingelig is.

Volgens Lesufi sal R15 432 aan die skole se beheerliggame vir die ontsmetting van hul skoolgebou betaal word.

Die skoolhoof sê egter die ontsmetting van sy skool kos nagenoeg R20 000. Klopper sê ook dat R15 000 die skole nie lank sal hou nie, omdat dit daagliks skoongemaak moet word.

“Ons het al telkemale versoek dat die planne vir die aanvulling van die eerste produkte aandag moet geniet en bekend gemaak word. Ek vermoed hier gaan probleme kom omdat die proses wat nou twee weke neem, hierna weekliks sal moet plaasvind.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Saou  |  Inperking  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.