Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Kommer oor matriek-eindeksamen nou onnodig’

Matriekleerlinge hoef in dié stadium nie bekommerd te wees dat die eindeksamen moontlik weens die Covid-19-uitbreking uitgestel gaan word nie, meen onderwyskenners.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Saterdag op ’n nuuskonferensie gesê dié departement doen alles in sy vermoë sodat die eindeksamen kan voortgaan.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, sê dit is nog haalbaar.

“Ons verloor weens die nasionale inperking sowat tien skooldae, wat sowat 55 uur se onderrigtyd is.

“Daar is reeds besluit om die Junie-vakansie korter te maak, en ander vakansies, soos die September-vakansie, kan ook moontlik verkort word. Dit behoort dus nie ’n probleem te wees nie.”

Klopper sê leerlinge moet egter onmiddellik met ’n gestruktureerde program begin om werk in te haal wanneer die skole ná die inperking heropen.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie. Foto: Marietjie Gericke

Geen onoorkombare probleme

“Daar is ’n moontlikheid dat die Junie-eksamen met ’n week aangeskuif sal word, en so ook die rekordeksamen. Ek voorsien egter geen onoorkombare probleme vir matriekleerlinge nie.”

Hy sê skole kan ook reëlings tref dat skoolure verleng word sodat leerlinge kan inhaal eerder as om die Junie-vakansie te verkort.

“Dit sal beter wees om die Junie-vakansie te hou soos dit is, omdat dit ’n tyd is waarin baie leerlinge griep of verkoue opdoen. Dit kan dus in skooltyd makliker versprei, en dit sal beter wees as skoolure net verleng word en die vakansie bly soos dit is.”

Volgens Klopper moet daar egter nie meer as 20 skooldae verlore gaan nie, omdat probleme dan kan ontstaan.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, sê ook daar is geen rede tot kommer nie.

“Daar is reeds baie aanlyn hulpbronne beskikbaar vir leerlinge, en skole doen baie moeite daarmee.”

Paul Colditz
Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van SA Skole.

Al word die staat van inperking tot middel Mei verleng, voorsien hy steeds geen probleme vir matrikulante nie.

“Dan sal pogings om aanlyn klasse en so meer aan te bied net geïntensifiseer moet word.”

Span slimfone in

Volgens Colditz kan leerlinge wat nie toegang tot ’n rekenaar het nie dié hulpbronne vanaf hul slimfone bereik.

“Onder tieners in Suid-Afrika is daar die grootste verspreiding van slimfone ter wêreld. Leerlinge kan ook hul slimfone gebruik om te leer, hulle hoef nie noodwendig ’n rekenaar te hê nie.”

Colditz sê hy voorsien nie dat die eindeksamen uitgestel sal word nie.

“Nie in my wildste drome dink ek sal die eindeksamen heeltemal uitgestel word nie. Dit kan dalk ’n week of twee aanskuif. Indien dit wel gebeur dat die eksamen uitgestel word, is daar baie ernstiger probleme in die land waarop ons moet fokus as die matriekeksamen.”

Klopper se raad aan matrieks tydens die tyd van inperking is om soveel moontlik werk wat reeds afgehandel is te hersien.

Matrieks volwasse genoeg

“Matriekleerlinge is volwasse genoeg om self hul werk te hersien, en daar is meer as genoeg werk om deur te gaan. Leerlinge hoef egter nie meer as een of twee uur per dag aan skoolwerk te bestee in dié stadium nie.”

Colditz sê as hy self nou in matriek was, sou hy die tyd wat hy gewoonlik by die skool sou wees tuis aan skoolwerk bestee.

“Leerlinge kan ook onderwysers se selfoonnommers kry sodat hulle kan bel wanneer hulle vasbrand. Onderwysers kan WhatsApp-groepe stig waar hulle inligting aan leerlinge kan verskaf.”

* Intussen het Motshekga Saterdagaand deur haar woordvoerder, Elijah Mhlanga, laat weet dat die publiek die verkeerde inligting versprei oor wanneer die skole heropen.

“Daar is geen waarheid in gerugte dat skole in September heropen nie. Ignoreer dit, asseblief.

“Die presiese datums vir die heropening sal later bekend gemaak word.”

Meer oor:  Chris Klopper  |  Paul Colditz  |  Skole  |  Eindeksamen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.