Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kommer oor onreëlmatige gebruik van NSFAS-toelae

’n Student wat aan sy meestersgraad in wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) werk, maak in ’n ommesientjie tot R100 000 deur met studente se staatstoelae te woeker, het ’n ondersoek deur Netwerk24 oor die misbruik van die skema getoon.

’n Lektor aan die UV beweer dat studente wat afhanklik van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) is, nie hul voorgeskrewe boeke met die geld koop nie.

Hy voer aan dat die meestersgraadstudent die NSFAS-studente glo kontant vir hul handboekgeld aanbied.

Die studente kry glo sowat R4 000 op hul studentekaarte wat spesifiek vir die aankoop van boeke in spesifieke boekwinkels bedoel is. Die meestersgraadstudent gee die beurshouers R2 800 kontant, waarna hy op hul kaarte die aankope gaan doen en die boeke weer verkoop en die verskil in sy sak steek.

Daar is vermoedelik verskeie gevalle waar studente onreëlmatig kos-, handboek- en behuisingstoelae vir ander doeleindes gebruik.

Hy beweer verder dat hierdie student vanjaar reeds sowat R100 000 gemaak het deur die studente met NSFAS-beurse te teiken.

Akademici vermoed egter dat daar verskeie sulke gevalle is sedert die NSFAS-beleid in 2018 verander is. In plaas van boekbewyse kry studente nou ’n kontant toelaag wat regstreeks by hul rekeninge inbetaal word.

Daar is vermoedelik verskeie gevalle waar studente onreëlmatig kos-, handboek- en behuisingstoelae vir ander doeleindes gebruik.

Dit blyk uit advertensies dat eienaars van studentehuise nie NFSAS-studente toelaat nie omdat hulle nooit die geld kry nie. Van die studente kry elders goedkoop blyplek en gebruik dan van die sowat R3 000 wat hulle per maand vir behuising kry om luuks te lewe.

Lacea Loader, woordvoerder van die UV, sê by navraag die universiteit aanvaar geen verantwoordelikheid vir die huurooreenkoms tussen die student en ’n derdeparty vir verblyf nie.

“Die universiteit het sekere maatreëls om die onreëlmatige gebruik van NSFAS se verblyftoelae te probeer uitskakel.”

Die feit dat NSFAS-studente op die UV se aanlyn stelsel moet inteken en aansoek doen om ’n private verblyftoelaag is ’n voorbeeld hiervan. Die huurkontrak moet as bewys aangeheg word en die studente se versoeke gaan deur ’n streng keuringsproses.

Loader sê alle private verblyf moet aan die riglyne vir geakkrediteerde behuising van die departement van hoër onderwys en opleiding voldoen.

Die bepaling het verskeie uitdagings aan studente gestel en dus het die universiteitsbestuur en die Bloemfontein-kampus se studenteraad ooreengekom dat maandelikse toelaag vir verblyf op al drie UV-kampusse slegs vir 2020 se akademiese jaar regstreeks in hul bankrekeninge inbetaal sal word, al is die behuising nie geakkrediteer nie.

Volgens die universiteit se webtuiste is elke NSFAS-student wat aan die UV geregistreer is geregtig op ’n handboektoelaag van R5 200, ’n kostoelaag van R15 000 en ’n toelaag vir private verblyf van R34 400 per jaar.

Die UV sê hy gee alle bedrae deur aan die administrasiekantoor van die NSFAS, wat die geld oorbetaal.

“Alle bedrae wat tot op hede van die NSAFS geëis is, is betaal.”

Loader sê die meeste van die toelae word nie op kampus spandeer nie en dat die UV, net soos die departement, van die studente verwag om die geld verantwoordelik aan te wend.

Meer oor:  Uv  |  Bloemfontein  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.