Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kommer oor toekoms van kleuterskole, kindersentrums

Talle geregistreerde kleuterskole in die Wes-Kaap wat steeds nie mag open op vlak 3 van die staat van inperking nie, probeer desperaat om die wolf van die deur weg te hou.

’n Eienaar van twee geregistreerde kleuterskole en ’n nasorgsentrum in die Brackenfell-gebied sê by navraag die nasorgsentrum was slegs drie weke oop voordat die inperking begin het, en huur en salarisse moet betaal word. Talle ouers kan nie die skoolgeld bekostig nie, omdat hulle nou moet betaal vir oppassers. Sy het gevra dat haar naam nie genoem word nie.

Volgens haar het ’n groep kleuterskool-eienaars verlede week ’n Zoom-vergadering gehou en die gevoel onder almal was dat sentrums vir vroeë kinderontwikkeling (VKO’s) in die duister gelaat word oor moontlike datums waarop hulle weer kan begin werk.

Werkgewers is nie almal ondersteunend dat ouers van die huis af kan werk nie.

“Daar is baie goed wat in plek sal moet val, asook nuwe regulasies en prosedures. Hulle sal wil begin beplan om hul skole te herstruktureer sodat dit veilig is vir personeellede en kinders.”

Sy sê in die Staatskoerant is gepubliseer dat VKO’s mag oopmaak wat by die departement van basiese onderwys geregistreer is (gewoonlik dié wat gr. R aanbied).

Die eienaar sê VKO’s wat by die departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer is, het nog niks van die departement gehoor nie. Na wat verneem word, moet ondersoek ingestel word na kwessies soos skole wat nie geregistreer is nie en die eienaars is bevrees dat so iets maande lank kan neem.

Volgens die eienaar sit honderde ouers wat weer begin werk het, met die hande in die hare, want hulle weet nie waar om hul kinders te los nie.

“Werkgewers is nie almal ondersteunend dat ouers van die huis af kan werk nie,” sê die eienaar.

Volgens die eienaar moet ouers alternatiewe reëlings tref en oppassers kry wat betaal moet word. Dit beteken dat hulle nie nog skoolgeld ook kan betaal nie.

“Die meeste eienaars het ‘top-ups’ betaal saam met WVF-Covid19Ters-uitbetalings – die Werkloosheidsversekeringsfonds en die tydelike werkgewer/werknemer-verligtingskema – maar die situasie is drasties besig om te versleg en die bybetalings vir salarisse sal nie meer gedoen kan word nie omdat ouers nie meer kan betaal nie.

“Einde Julie is daar nie meer WVF-hulp vir werknemers nie, en eienaars kry nie meer skoolgeld in om salarisse te betaal nie.”

Volgens die eienaar mag net nasorgsentrums wat op persele van die departement van basiese onderwys is, op 6 Julie open.

Joshua Covenant Chigome, woordvoerder van Sharna Fernandez, Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, sê by navraag hulle wag nog op leiding van die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling. “Die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling moet nog datums aankondig wanneer VKO’s sal kan heropen.”

Ongeregistreerde en in private VKO’s

Alexandra Abrahams, parlementslid en DA-lid van die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling, sê in ’n verklaring geregistreerde VKO’s in private besit bly tydens die vlak 3-inperking toe, terwyl Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, op 2 Junie saam met die Nelson Mandela Stigting die veldtog Vangasali-Every Child Counts begin het.

Die veldtog sal ongeregistreerde VKO’s teiken in drie fases (fase 1: opsporing en getalle, fase 2: kategoriseer; en fase 3; ingrypings) om hulle te help om aan die norme en standaarde vir registrasie te voldoen soos wat in die Kinderwet gestipuleer word.

Ongeregistreerde VKO’s is ’n historiese uitdaging in Suid-Afrika en ’n mens wonder oor die tydsberekening van die veldtog.

Abrahams vra of dit nie ’n publisiteitsfoefie is om nie sleg te lyk nie, terwyl die VKO-sektor permanent kan sluit en hardwerkende Suid-Afrikaners in die WVF-tou sal moet gaan staan.

Luidens die verklaring het die DA op 29 Mei op ’n vergadering van die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling die kwessie geopper dat daar geen VKO-sektor meer sal wees nie teen die tyd dat VKO’s hul deure mag oopmaak.

Volgens die DA kom ongeregistreerde VKO’s oral in die land tot stand weens die desperaatheid van die situasie omdat ouers ’n veilige plek vir hul kinders benodig terwyl hulle werk of werk soek, terwyl geregistreerde VKO’s toe bly.

Dit is naïef om te dink dat ongeregistreerde VKO’s nie tans in verskeie gemeenskappe in bedryf is nie.

Om geregistreerde VKO’s toe te hou, is die mees teenproduktiewe stap wat die departement van maatskaplike ontwikkeling kan doen.

Deur geregistreede VKO’s toe te hou, gaan die uitgebreide registrasiewerk wat voorheen deur die regering en die openbare gemeenskap gedoen is, verlore.

In die opgedateerde regulasies oor onderwys van 1 Junie word aangedui dat VKO’s wat by ’n skool geregistreer is, op 6 Julie mag open, maar dat geregistreerde VKO’s in private besit toe moet bly tydens die vlak 3-inperking.

Die DA hou by sy standpunt dat VKO’s moet heropen tydens die vlak 3-inperking as hulle die Covid-19-gesondheidsprotokolle kan nakom.

Dienste vir kinders word beskou as ’n noodsaaklike diens soos vervat in die Staatskoerant op 25 Maart en VKO’s is ’n noodsaaklike diens.

Kinders, tesame met personeellede en praktisyns met gesondheidsprobleme, moet tuis bly en die voortgesette onderwys en ontwikkeling van die kind is die primêre verantwoordelikheid van die ouer/versorger.

Die finale besluit om ’n kind na ’n VKO-sentrum te stuur berus by die ouer of ’n voog wat deur ’n hof aangewys word.


Meer oor:  Wes-Kaap  |  Kleuterskole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.