Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kommer oor veiligheid by KSUT in Wellington

Inbrake, ’n beweerde verkragting, vreemde mense wat op die koshuisgronde rondloop en geen veiligheidswagte in sig nie.

Dit is net enkele van die klagtes van studente aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus.

Sondagaand was daar twee inbrake by twee vrouekoshuise van KSUT.

Een van die televisiestelle wat ’n inbreker wat by KSUT-koshuise ingebreek het, wou steel.

By Huis Meiring en by Huis Bliss het ’n man glo ingebreek en van die televisiestelle probeer steel.

Koshuisinwoners sê toe een van die koshuisvaders die veiligheidswagte se hulp wou inroep, was hulle nêrens te vind nie.

Die studente vra dat hul name nie genoem word nie omdat hulle bang is die universiteitsbestuur viktimiseer hulle.

Daar is geen diefwering voor die koshuisvenster by die KSUT-kampus in Wellington nie.

Niemand kon sê hoe die man by die koshuis ingekom het nie. Hy het glo met minstens een televisiestel weggekom.

’n Foto wat na Netwerk24 gestuur is, wys ’n televisiestel wat reeds ontkoppel is.

Die studente sê wat hulle ontsenu, is dat die man hoegenaamd in die koshuis was. “Dit is ’n vrouekoshuis. Wat as hy by een van die kamers ingegaan en een van die studente verkrag het?”

’n Vrouestudent wat by Huis Wouter Malan inwoon, is glo juis ’n ruk gelede verkrag.

Studente sê hulle voel nie veilig om saans op die koshuisgronde te wees nie.

Daar was glo al gevalle waar vreemde mans van die vrouestudente agtervolg het.

In een voorval ’n week gelede het twee vrouestudente in die rokershoekie gesit toe hulle nog ’n vrouestudent na hulle sien aankom. Hulle sê hulle het gesien daar is ’n man wat haar agtervolg.

“Ek dink nie hy het ons gesien nie, want toe ons vra, ‘Hè, wie is jy?’ het die man omgedraai en weggehardloop.”

Nog ’n televisiestel wat reeds deur die inbreker ontkoppel is.

Die studente sê hulle is na die veiligheidswagte se kantoor op die koshuisgronde om hulle oor die agtervolger in te lig, maar daar was niemand nie.

Daar was glo ook twee voorvalle waar studente by die ingangshekke van die koshuise aangeval en beroof is. Volgens die studente het van die wagte reguit gesê hulle gaan nie hul lewe vir dié van die studente op die spel plaas nie.

’n Polisievoertuig Maandag by Huis Meiring, ’n koshuis van KSUT in Wellington.

“Hulle het ook al aan die onderskeie koshuisouers gesê hulle is onderbeman. KSUT se bestuur steur hulle ook nie aan ons griewe en onveiligheid hier nie,” sê die studente.

Navrae oor die bewering van verkragting by Huis Wouter Malan, die inbrake by Huis Meiring en Huis Bliss en die beweerde aanvalle op studente by die ingangshekke is na KSUT gestuur.

Die vrae is nie beantwoord nie.

Lauren Kansley, woordvoerder, sê wel die direkteur van kampusveiligheid ondersoek die klagtes oor die veiligheid by die koshuise.

“Ondersoekers het die koshuise besoek om verklarings van studente en koshuisouers te neem.”

Volgens haar sal dit help met die nuwe verbeterde veiligheidstrategie, wat moontlik verskerpte veiligheidsmaatreëls sal insluit.

Volgens Kansley is koshuise na aan die kampus en in woongebiede geleë. “As sulks is hulle nie immuun teen ’n verskeidenheid veiligheidskwessies soos byvoorbeeld inbrake nie.”

Meer oor:  Ksut  |  Wellington  |  Veiligheid  |  Onderwys  |  Verkragting  |  Inbrake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.