Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kos by skole: Angie, LUR’e moet nuwe planne maak

Die departement van basiese onderwys moet binne ’n maand ’n hersiene plan vir die nasionale skolevoedingskema (NSNP) opstel en implementeer sodat alle leerlinge wat vir die voedingskema kwalifiseer, daagliks ’n maaltyd kry.

Dié hofbevel Dinsdag deur die hooggeregshof in Pretoria spruit uit ’n skikkingsooreenkoms tussen die drukgroep Equal Education (EE) en Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sowel as die nege provinsiale LUR’e vir onderwys.

Die ooreenkoms kom nadat EE en twee skole in Limpopo se beheerliggame die hof in Junie genader het omdat meer as ’n miljoen leerlinge sedert April nie maaltye kry nie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die hooggeregshof in Pretoria het verlede jaar gelas dat alle leerlinge wat vir die NSNP kwalifiseer, hul maaltye moet ontvang – selfs al is hulle nie terug by die skool nie. Ingevolge die Covid-19-regulasies woon talle leerlinge steeds skool op ’n rotasiegrondslag by.

Die onderwysdepartement en sy provinsiale departemente moes deurlopend verslae indien om te bewys dat die planne om etes aan leerlinge te verskaf uitgevoer word.

EE het die hof weer genader omdat dit sedert Maart nie gedoen is nie. Hulle het ook gevra dat die planne realisties en werkbaar moet wees.

Volgens EE kon baie leerlinge nie hul maaltye kry nie omdat hulle nie vervoer na hul skole gehad het nie en omdat kommunikasie oor die NSNP onduidelik was.

Die onderwysdepartement het hierna ’n vir skikkingsooreenkoms gevra.

Volgens die hofbevel moet Motshekga en die LUR’e se hersiene planne die uitdagings wat die koronaviruspandemie en die inperking meebring, in ag neem. Dit sluit in planne vir die tye wat skole weens die inperking gesluit is. Hoe leerlinge oor die voorsiening van maaltye ingelig gaan word, die beskikbaarheid van vervoer en ander praktiese reëlings moet ook in die planne vervat wees.

Die hersiene planne moet binne ’n maand by die hof ingedien word en daarna moet maandelikse vorderingsverslae ingedien word om aan te dui hoe die planne in werking gestel is en wat gedoen word om te verseker dat dit suksesvol is.

“Ons verwelkom die hofbevel en vier die oorwinning vir meer as nege miljoen leerlinge en miljoene huishoudings wie se voedselsekerheid deur die inperking en huidige onrus in Suid-Afrika in die gedrang gebring is,” sê EE in ’n verklaring.

“Ons sal die hersiene planne van die onderwysdepartement en provinsiale departemente evalueer. In die gees van samewerking en gedeelde belange om leerlinge eerste te stel, sal ons die vorderingsverslae deeglik monitor en ontleed.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, sê die ooreenkoms is die gevolg van gesprekke tussen die partye. “Dit beteken al die partye stem saam oor die pad vorentoe en dit word verwelkom” sê hy.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Skole  |  Maaltyd  |  Voedingskema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.