Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Koshuis tydelik hernoem, wyl UK permanente naam soek

Die Universiteit van Kaapstad (UK) se raad het die naweek besluit om Smuts Hall-koshuis se naam te verwyder en tydelik te hernoem terwyl daar na ’n nuwe, permanente naam gesoek word.

Die Smuts Hall-koshuis van die Universiteit van Kaapstad (UK) is tydelik hernoem terwyl ’n permanente naam gesoek word. Foto: Jaco Marais

Dié besluit dui op die aanbreek van ’n “nuwe oomblik” vir die universiteit en wys “hoe ver die instelling gekom het” sedert die #RhodesMustFall-betogings, het die UK Maandag gesê.

Aan die hand van aanbevelings deur die UK se komitee oor gebouname het die raad Saterdag goedgekeur dat die koshuis op die bokampus se naam onmiddellik verwyder word en dit tydelik as die “Bo-Kampus Koshuis” (Upper Campus Residence) sal bekend staan.

Die koshuis is in 1950 na Jan Smuts, voormalige eerste minister, genoem om sy kanselierskap te vier, luidens die UK se webwerf.

Smuts het ook kommando’s in die Anglo-Boereoorlog gelei en die weermag van die Unie van Suid-Afrika tydens die besetting van Duits-Suidwes-Afrika in die Eerste Wêreldoorlog, onder meer.

Die standbeeld van Cecil John Rhodes is in 2015 van die UK se bokampus verwyder ná betogings en in Desember 2018 is die Jameson-saal ook tot die Sarah Baartman-saal herdoop.

In dié tyd het die UK reeds aangedui dat Smuts Hall saam met die Beattie-gebou, Wernher Beit-gebou en Otto Beit-gebou hernoem gaan word.

Babalwa Ngonyama, voorsitter van die UK-raad.Foto: UK


Babalwa Ngonyama, UK-raadsvoorsitter, het Maandag gesê daar was “aansienlike pyn en lyding” met die besluit om van die Rhodes-standbeeld ontslae te raak.

“En tog het ons as ’n kampus beweeg na ’n gemeenskap wat met mekaar kan praat, die kompleksiteite van die verlede kan erken, maar ook die gawes daarvan vereer.”

Sy sê die kampusgemeenskap kan ook met mekaar praat om ooreen te kom op nuwe name wat sy huidige waardes en “wie ons as ’n inklusiewe geheel is” beter verteenwoordig.

“Hoewel ons verskillende perspektiewe en diverse agtergronde het, kan ons saam ’n meer inklusiewe toekoms en gedeelde identiteit sien en smee.”Volgens Ngonyama sal die raad se besluit die UK in staat stel om aan te beweeg van die verlede, “terwyl ons voortgaan om die gewig van ons nalatenskap te erken”.

“Daar is talle kreatiewe moontlikhede om die UK-kampus te herskep op maniere wat inklusiwiteit uitbou en na die toekoms kyk.”

Studente loop Maandag in by die voorlopige ‘Bokampus-koshuis’ nadat die UK die naweek besluit het om die Smuts Hall-koshuis te hernoem. Foto: Jaco Marais

Oor die komende maande sal gesprekke oor ’n nuwe naam vir die gebou aangebied word, asook van die ander geboue op kampus.

Ngonyama sê in ’n verklaring die benaming van geboue moenie geag word as bloot om “dit waarvan ons nie hou nie te vervang deur iets wat ons beter laat voel nie”.

“Dit behoort verder te gaan as dat die naam wat ons verander ’n bron van ongemak of pyn is vir diegene wat daarop aandring. Dit behoort ook nie in te hou die verkleining, wegdoen of afwyking van die geskiedenis deur diegene wat wens dat die status quo in plek moet bly nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.