Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Koshuistwis: US ‘nie bewus van klagtes’
huis marais, stellenbosch
Die ouer deel van die koshuis Huis Marais. Foto: Google Maps

Die Universiteit Stellenbosch (US) se sentrum vir studentegemeenskappe (SSG) is nie bewus van ouers wat ontevrede is dat hul dogters by ’n manskoshuis intrek nie.

So sê Pieter Kloppers, voorsitter van die SSG, ná gerugte dat sekere van die mans in Huis Marais beplan om die omgewing vir die vroue onaangenaam te maak wanneer hulle intrek.

Sommige ouers het anoniem hul ontsteltenis oor hierdie bewerings teenoor Netwerk24 geopper.

Die US het vroeër vandeesweek bekend gemaak dat sekere van die vroue wat voorheen in Huis ten Bosch gewoon het, volgende jaar in Huis Marais gehuisves gaan word omdat Huis ten Bosch onbewoonbaar is ná ’n brand in Augustus.

Sekere inwoners van Huis Marais het egter teëgeskop en gesê as die vroue intrek, sal dit ’n negatiewe impak op die koshuis hê, veral omdat minder nuwe eerstejaars in 2020 by Huis Marais sal intrek en die koshuis se prestasies op sportgebied daaronder sal ly.

Van hierdie groep ontevrede inwoners het die plan glo gekom om die vroue se ervaring onaangenaam te maak.

Regs is die nuwe vleuel van Huis Marais waar die vroue sal intrek.Foto: Google Maps

Aparte vleuel van koshuis

Huis Marais se huiskomitee (HK) het egter, na wat verneem word, ’n positiewe houding oor die vrouestudente en sê hulle verstaan hulle het blyplek nodig.

Kloppers sê van die vroue het op ’n vergadering gesê hulle kry die indruk hulle is nie welkom in Huis Marais nie.

Kloppers sê die plan is nie dat die vroue tussen die mans woon nie, maar in ’n aparte vleuel van die koshuis.

“Ons beplan om ’n tydelike muur op te rig tussen die koshuis en die vleuel waar die vroue gaan woon. Die vroue sal dus heeltemal op hul eie funksioneer,” sê Kloppers.

Die mans en vroue sal glo ook verskillende ingange gebruik en as twee onafhanklike koshuise funksioneer.

“Hulle hoef nie eens die eetsaal met die mans te deel nie. Daar is baie ander koshuise waar hulle kan eet en dit staan hulle vry om self daaroor te besluit.”

Volgens Kloppers gaan ongeveer 74 vroue by Huis Marais intrek, waarvan ongeveer 30 eerstejaars sal wees. Die res van die Huis ten Bosch-inwoners sal elders gehuisves word, of die geleentheid kry om na ander vrouekoshuise te trek.

“Sover my kennis strek, het sowat 20 vroue reeds aangedui dat hulle na ander vrouekoshuise gaan trek. Nog nege trek na ander blyplek in Victoriastraat, en ’n paar trek na ’n private koshuis in Cluverstraat.

“Van die inwoners van Huis Marais sal wel uit die koshuis moet trek om plek te maak vir die vroue. Sowat 18 Huis Marais-inwoners sal na Huis Visser moet trek, sowel as 11 seniors wat na in ’n senior koshuis sal trek.

“Daar word beplan dat dié reëlings net vir 2020 sal geld – totdat herstelwerk aan Huis ten Bosch voltooi is.”

Aanlyn petisie

Intussen is ’n aanlyn petisie wat deur sowat 200 Huis Marais-inwoners onderteken is, teruggetrek. Hierin is geëis dat die inwonende hoof, dr. Johan Groenewald, uit sy amp verwyder word omdat hy onder meer nie inwoners ingelig het dat die vroue in 2020 in ’n deel van Huis Marais gaan intrek nie.

Daar is ook beweer dat as die vroue eers ingetrek het, dit ’n permanente instelling gaan word en dat Huis Marais ’n gemengdegeslagkoshuis sal word. Kloppers sê egter daar “was geen gesprekke oor samesmelting nie”.

Groenewald is onlangs aangestel as die bestuurder van inwonende hoofde in die Validus Cluster en is as sodanig aangestel as die inwonende hoof van Huis Marais.

Hy was voorheen inwonende hoof van Hippokrates, die manskoshuis op die Tygerberg-kampus wat onlangs ’n gemengdegeslagkoshuis geword het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.