Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kougomkamp ‘help Kovsies geestelik groei’

Die Kovsiekerk se 31ste Kougomkamp het eerstejaars vandeesweek weer geestelike pitkos vir die aanbreek van hul studies gebied.

Talle studente wat dié jaarlikse kamp by die Retief-kampterrein by Maselspoort buite Bloemfontein bygewoon het, sê hulle voel geestelik verryk.

Van links is Bianca Homsek, Nicole Lutjens en Janine de Beer in volle vaart op pad na die modderpoel. Foto: Kougom-fotospan
Janke Botes maak kennis met die watergat. Foto: Kougom-fotospan
Stoffel Forster, een van die kampleiers, word deur Danie Naudé vasgevat in die moddergat.Foto: Kougom-fotospan

Sowat 140 eerstejaars was van Sondag tot Donderdag op die kamp waar allerlei prettighede soos buitelugaktiwiteite, lofsang en aanbidding, en die sluit van vriendskappe, op die program was.

Susan van Zyl, kampvoorsitter, sê die lekkerste deel van die kamp is om te sien hoe die eerstejaars, wat aanvanklik “vrekbang” was, vriende maak.

Volgens haar was vanjaar se groep baie volwasse. Dit is die sesde keer dat sy die kamp bywoon. Sy sê studente wat die Kougomkamp bywoon, is soveel meer gereed vir die jaar – “dit is die perfekte manier om jou jaar te kickstart”.

Die modder en water het soos gewoonlik gespat met eerstejaars wat op die kamp se voorlaaste dag van ’n glybaan tot in ’n modderput met oorskietkos geduik het. Studente beskou dié aktiwiteit as een van die hoogtepunte. Die jaarlikse passiespel waarin studente die kruisiging uitbeeld, asook ’n talentkompetisie en ’n potjiekosdag is ook aangebied.

Pieter Hoogenboezem, Volksblad en die Universiteit van die Vrystaat se Matrikulant van die Jaar van 2019, was ook op die Kougomkamp en sê die geestelike sy het baie vir hom beteken. Foto: Marita Herselman
Kesia Pohl van Limpopo het die lofsang en aanbidding baie geniet. Foto: Marita Herselman
Edmund de Wet van Harrismith het baie vriende op die kamp gemaak. Foto: Marita Herselman

Pieter Hoogenboezem, Volksblad en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Matrikulant van die Jaar vir 2019, het die kamp terdeë geniet en sê hy het baie vriende op die kamp gemaak.

Pieter, wat aan die Hoërskool Pietersburg in Limpopo gematrikuleer het, gaan fisioterapie aan die UV studeer.

Sy gunstelingdeel was om tot in die modderpoel te gly.

“Niemand het daarna uitgesien nie, ons almal het eintlik daarteen opgesien. Maar toe ons daar kom, het ons almal minstens tien keer afgegly.”

Die geestelike sy het ook vir hom baie beteken.

Kesia Pohl van Tzaneen in Limpopo sê sy het geestelik gegroei op die kamp.

“Dit was vir my regtig wonderlik en pret, want jy leer soveel nuwe mense ken, ook mense van vrek ver.”

Kesia, wat BCom regte aan die UV gaan studeer, sê die lofsang en aanbidding was vir haar die lekkerste.

Edmund de Wet van Harrismith in die Vrystaat sê die kamp het sy verwagtinge oortref. Die geestelike aspek van die kamp het vir hom uitgestaan.

“Ek het ook ’n hele paar vriende gemaak – dit is altyd lekker.”

Hy gaan oogkunde aan die UV studeer.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kovsies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.