Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kovsies se nuwe taalbeleid ‘bevorder meertaligheid’
Alana Bailey, adjunkhoof van AfriForum.Foto: Nico Gous

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se nuwe slegs-Engels-taalbeleid is ’n mylpaal en sal meertaligheid ook bevorder, sê die universiteit.

Dis nonsens, sê kritici.

Volgens prof. Lis Lange, viserektor van akademie aan die UV, sal die Afrikaans-Engels-taalbeleid einde vanjaar uitgefaseer en die nuwe een volgende jaar ten volle in werking gestel word.

Die UV het verlede Dinsdag in die appèlhof die groen lig vir sy nuwe taalbeleid, met Engels as primêre onderrigtaal, gekry.

“Dink die betrokkenes ons is dom?” vra prof. Wannie Carstens, direkteur van die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Hy sê die UV praat oor meertaligheid, maar “Engelse eentaligheid word gedoen”.

Lange sê die ontwikkeling van inheemse tale word in die nuwe taalbeleid vervat.

“Die nuwe beleid sit dit duidelik uiteen dat die UV toegewyd is om ’n ryk taalomgewing te skep en aan meertaligheid wat verder as net Afrikaans en Engels strek. Sotho en Zoeloe sal veral aandag kry en ander tale wat in die gebied van die UV se drie kampusse gepraat word,” sê Lange.

Carstens sê die literatuur wys duidelik dat “kleiner tale mettertyd uitgefaseer sal word (Afrikaans) en selfs nie van die grond af sal kom nie (Sotho) in ’n omgewing waar ’n sterker taal soos Engels begin oorheers en gesanksioneer word soos by die UV”.

“Engels is boonop nogal die meerderheid se tweede taal,” sê Carstens.

Prof. Wannie Carstens, direkteur van die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.Foto: Liza van Deventer

Op ’n vraag oor hoe die UV se slegs-Engels-taalbeleid tot die doeltreffende hoër onderrig en opleiding van studente gaan bydra wat Engels nie verstaan nie, het Lange geantwoord daar gaan verpligte tutoriale wees.

Sy sê die tutoriale het twee hooffunksies:

* Om konsepte wat in Engels aangebied word, te verduidelik.

* Dit gaan studente help om die nodige akademiese geletterdheid in Engels onder die knie te kry om goed te vaar in hul assesserings.

Volgens Alana Bailey, adjunkhoof van AfriForum, sal tutoriale geen taal tot tersiêre status verhef nie.

“Dit het nog nooit in die geskiedenis so gebeur nie en dit sal ook nie nou nie. Hierdie is baie mooi lippediens wat in die praktyk nie die studente se Engels gaan verbeter nie en nog minder hul inheemse moedertale gaan versterk.”

Bailey is ook bekommerd dat daar nog nie genoeg hulpbronne en volledige dienste vir die aanbied van tutoriale beskikbaar is nie en dat dit nie volgende jaar beskikbaar gaan wees nie.

Lange gee toe dit gaan tyd neem om die meertalige tutoriale stelsel in werking te stel.

“Wie gaan die UV verantwoordbaar hou vir die langdurige proses? Gaan ons weer regsaksie moet neem?” vra Bailey.

Lange sê een van die hoofdoelwitte van die tutoriale gaan die “progressiewe bekendstelling van Sotho en Zoeloe as gereedskap vir akademiese geletterdheid” wees.

Die manier om dit te doen, meen Bailey, is om die tale as “volle funksionele taal van tersiêre onderrig te ontwikkel en nie met tutoriale en woordelyste nie”.

Bailey sê die mylpaal waarna die universiteit verwys, is teenstrydig met alle internasionaal erkende onderwyspraktyke wat aandui dat moedertaalonderrig die beste vir enige student is.

“Die universiteitsbestuur loof dus iets wat teenstrydig is met enige goeie menseregte- en onderwyspraktyk.”

Volgens haar is dit tragies dat Engels op almal afgedwing word.

“Dis ’n koloniale taal en die moedertaal van minder as 6 miljoen van die 55 miljoen Suid-Afrikaners.”

Carstens sê Suid-Afrika is nie ’n Engelse land nie.

“Ek wens die politici wil dit in hul koppe kry. Afrikaans word opgeoffer vir politieke gedienstigheid en ander inheemse tale word gevolglik nie ontwikkel tot volwaardige akademiese en standaard-tale nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.