Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kovsies vereer Louzanne en sy netbalsterre
Die Kovsie-netbalspan. Voor is Elri Groenewald, Bianca de Wee, Sikholiwe (Sne) Mdletshe, Arné Fourie, Xandri Fourie en Liané Burger. Agter is Jana Scholtz, Ané Retief, Sheneca Smith, prof. Francis Petersen, Rolene Streutker, Pheladi Mametja en Claudia van den Berg. Foto: Mlungisi Louw

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Maandag hulde gebring aan die Kovsie-netbalspan en die Paralimpiese atleet Louzanne Coetzee ná hul puik vertonings die afgelope tyd.

Die universiteit se netbalspan het koning gekraai in vanjaar se Varsity-netbaltoernooi, terwyl Coetzee ’n silwer- en bronsmedalje op die Paralimpiese Spele in Tokio verower het.

Prof. Francis Petersen, die UV se rektor en visekanselier, het gesê die UV is geweldig trots op dié sportlui se prestasies op plaaslike én internasionale vlak.

Die UV se netbalspan het einde Augustus die beker gelig op vanjaar se Varsity-netbaltoernooi, wat by die Universiteit Stellenbosch (US) plaasgevind het.

Kovsies het in die eindstryd teen die Maties te staan gekom en hulle met 55-39 geklop. Dié oorwinning het gevolg nadat die “maroen masjien” die Vrystaters in die eerste ronde van die toernooi met 54-46 gewen het.

KovsieSport berig dit is die vierde Varsity-netbaltitel wat die span in die toernooi se agt bestaansjare verower. Kovsies was ook in 2013, 2014 en 2018 die kampioenspan.

Burta de Kock, afrigter van die Kovsies- en Vrystaat-netbalspan, sê dit is ’n reuse voorreg om betrokke te kan wees by die universiteit se span.

De Kock is al 19 jaar betrokke by Kovsies-netbal en het 20 Protea-spelers in dié tydperk afgerig.

Die universiteit is bevoorreg om Suid-Afrika te kan verteenwoordig deurdat die volle diversiteit van die land in die span verteenwoordig word, sê sy.

Louzanne Coetzee en haar twee gidse, Claus Kempen en Erasmus Badenhorst, by prof. Francis Petersen. Foto: Mlungisi Louw

De Kock sê spelers kom uit eie oorweging na die UV om netbal te kom speel omdat die universiteit “werklik omsien na sy spelers”.

“Hulle kyk regtig na ons en elke speler kan self kies wat sy wil studeer, daar word nie voorgeskryf nie. Tans het ons twee studente wat vir geoktrooieerde rekenmeesters studeer én vir fisioterapie en (daar is) ander mediese studente in die span.”

Sy sê die UV bied aan elke speler die kans om as individu holisties op en van die baan te ontwikkel.

Coetzee het die land trots gemaak toe sy op vanjaar se Paralimpiese Spele twee medaljes ingeryg het, brons in die marathon vir T11- en T12-vroue met ’n nuwe wêreldrekord in die T11-kategorie (vir vroue met geen sig en geen ligpersepsie nie), en silwer in die 1 500 m (T11-kategorie), waarin sy ook ’n Afrika-rekord opgestel het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.