Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Krisis: Duisende in Gauteng soek nog plek in skole

Die onderwysdepartement in Gauteng het ’n krisis op hande met duisende voornemende leerlinge wat nog nie vir volgende jaar plek in skole het nie.

Plasings van gr. 1 en gr. 8-leerlinge moes teen 31 Oktober afgehandel gewees het, maar die departement is genoop om sy spertyd tot 30 November uit te stel nadat chaos Sondag by van sy streekkantore ontstaan het.

By sommige van die streekkantore is toerusting beskadig en personeellede aangerand.

Die departement het Saterdag ouers wie se kinders nog nie geplaas is nie per SMS laat weet om Sondag na hul plaaslike streekkantoor te gaan, maar by van die kantore was daar te min personeel om te help.

By die Tshwane-Suid-kantoor is die metropolisie ingeroep om orde te handhaaf nadat gemoedere hier oorgeloop het.

Panyaza Lesufi Foto: Elizabeth Sejake

Daar was te min werknemers aan diens om die honderde ouers te help wat antwoorde gesoek het oor hoekom hul kinders nie geplaas is by die skole waarvoor hulle aansoek gedoen het nie.

Ouers kon aanlyn by tot drie skole aansoek doen en die departement, wat die kind se uiteindelike lot bepaal, moet die ouers inlig waar die kind geplaas is. Ouers kan die aanbod aanvaar of verwerp.

Talle ouers, wat betyds aansoek gedoen het, het aan Netwerk24 gesê dié stelsel werk nie.

’n Lys met skole in Tshwane-Suid waar daar nog plek beskikbaar is, is by die streekkantoor aan die ouers uitgedeel.

“Ons het aansoek gedoen vir ’n skool wat 2 km is van waar ons bly. Van die skole op die lys is die naaste een 18 km van ons huis af,” sê Government Letsoalo van Pretoria, wie se seun volgende jaar hoërskool toe moet gaan.

Volgens hom skryf sy kind eksamen en hy het nie nou ekstra stres nodig nie. “Hy vra elke dag of hy al plek het. Ek het al hoeveel keer die inbelsentrum gebel, dan verwys hulle ons na die streekkantoor. Nou kom ek hier en daar is honderde mense wat nie gehelp kan word nie,” sê Letsoalo.

Selfs meer kommerwekkend is dat daar volgens die lys nog net 1 280 plekke in skole in Tshwane-Suid beskikbaar is.

Luidens ’n verklaring wat die departement Sondag uitgereik het, is daar in Gauteng tot 43 797 leerlinge wat nog nie plek in skole het nie. Daarby het 4 700 ouers nog nie hul kinders se plasing aanvaar nie.

Luidens die verklaring is 411 skole in die provinsie tot oorlopens toe vol.

“Aansoekers wat nie by die skole plek kry nie, word geplaas by skole waar daar plek beskikbaar is,” lui die verklaring.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, sê die departement is verplig om alle leerlinge te plaas, hoewel dit dalk nie by die skool van hul keuse is nie.

“Ons is bewus dat sommige van ons amptenare aangerand is en dat toerusting en geboue gevandaliseer is. Ons doen ’n beroep op ouers om kalm te bly en nie geweld te gebruik nie,” sê Lesufi.

Steve Mabona, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, ontken dat die aanlyn stelsel “uitdagings” het.

“Ons het nie probleme met die stelsel nie. Die stelsel werk baie goed. Die probleem is dat die ouers ’n agterstand veroorsaak deur nie die plasings te aanvaar nie omdat skole aan die ouers toegeken is wat hulle nie wil hê nie,” sê Mabona.

Lesufi het in sy termyn nuwe kriteria deurgevoer vir plasings in skole deur onder meer die toelatingsgebied van skole tot ’n radius van 30 km te vergroot.

Meer oor:  Steve Mabona  |  Panyaza Le­Sufi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.