Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kritiek, woede ná dood van Parktown Boys-leerling

Die Parktown Boys’ High School loop deur onder kritiek ná die dood van Enock Mpianzi (13) ten tyde van ’n oriënteringskamp vir gr. 8-leerlinge van dié skool.

Daar is baie negatiewe kommentare op die skool se Facebook-blad ná ’n verklaring Vrydagaand oor die seun se dood.

Saterdagoggend het die skool op die blad gesê hy neem kennis van die vrae en bekommernisse, maar negatiewe kommentare word verwyder. Dit word egter nie geïgnoreer nie, sê die skool.

“Ons neem kennis van jul vrae en geldige bekommernisse en besef hoe belangrik dit is om antwoorde en duidelikheid te verskaf oor elkeen van die kwessies,” lui die verklaring.

Die besluit om die kommentare te verwyder is glo geneem weens die sensitiwiteit van die kwessie en uit respek vir die familie, vriende en almal wat geraak word.

“Bespiegelings en besprekings op oop forums kan die ondersoek belemmer en vertraag,” sê die skool.

Enock het Woensdag verdrink in die Krokodilrivier by die Nyati-oord, waar die oriënteringskamp gehou is. Sy lyk is Vrydagoggend ná ’n uitgebreide soektog van bykans 24 uur langs die rivier gekry.

Enock Mpianzi Foto: Facebook

Hy was een van sowat 200 gr. 8-leerlinge wat die oriënteringskamp sowat 60 km buite Brits bygewoon het.

Die skool het Vrydagaand in ’n verklaring gesê die leerlinge het Woensdag by die kamp aangekom.

Malcolm Williams, skoolhoof, Luke Lamprecht, ’n senior konsultant vir kinderontwikkeling en -beskerming, die hoofseun, onderhoofseun en sewe personeellede was saam met hulle.

Dié kamp is daarop gemik om die nuwe leerlinge aan mekaar bekend te stel en om deur verskeie aktiwiteite ’n omgewing te skep wat op spanwerk fokus.

Volgens die skool het die seuns Woensdagmiddag deelgeneem aan ’n water-aktiwiteit waar opgeleide kamp-fasiliteerders toesig gehou het.

Dit is gevolg deur ’n staproete en aandete voordat die kinders die aand in die veld geslaap het.

“Donderdagoggend het dit duidelik geword dat ’n seun vermis word.”

Die noodprosedure is in werking gestel en Enock se pa is ingelig. Omstreeks 15:20 het die skoolhoof Enock se pa weer gekontak om te bevestig hul soektog na sy seun is onsuksesvol. Vervoer is gereël om Enock se familie saam met twee opgeleide beraders na die kamp te bring.

Donderdagaand is besluit om alle aktiwiteite op te skort en die leerlinge vroeg ná Vrydagoggend se ontbyt terug te neem skool toe.

“Om 11:00 die Vrydag het die skool die tragiese nuus gekry dat die lede van die polisie se soek-en-reddings-eenheid Enock Mpianzi se lyk gevind het.”

parktown, Enock Mpianzi
Enock se lyk is Vrydagoggend gekry. Foto: Felix Dlangamandla

Die skool het sy medelye met die Mpianzi-familie uitgespreek, asook onderneem om hulle te ondersteun waar dit moontlik is.

parktown
Enock Mpianzi (13) se ma, Anto, het op die grond inmekaargesak en bitterlik gehuil toe sy die bevestiging van haar seun se dood kry

’n Groep ouers, wat onder die naam “Zoe” op sosiale media hul bekommernisse uitspreek oor wat gebeur het, sê hulle pleit al jare dat dié oriënteringskamp vir gr. 8-leerlinge gestaak moet word.

Hulle het Saterdagaand getwiet: “Aan die base van PBHS (Parktown Boys’ High School), aan die skoolhoof van PHBS, elkeen van julle moet diep nadink oor die definisie van growwe nalatigheid, julle noem dit ’n tragedie, maar dit lyk al hoe meer na growwe nalatigheid.”

Emma Sadleir, ’n mediaregkenner wat spesialiseer in sosialemediaplatforms, skryf: “Die Parktown Boys-storie is absoluut afskuwelik.

“Hoe f****n durf hulle ’n kennisgewing oor ’n vermiste persoon uitstuur in daardie omstandighede? Ek het dit gaan deel in die hoop dat iemand hom gesien het.

“En soveel as wat ek skoolkampe sonder selfone ondersteun, hoe kon die kinders nie met hul ouers gepraat het nie? En waarom het die ouers van die skool eers ’n dag later daarvan gehoor? Waar was die reddingsbaadjies? So baie vrae. RIP Enock Mpianzi. Jy het soveel beter verdien. En so ook jou familie.”

Abdullah Phiri het geskryf: “Die dood van Enock Mpianzi is ontstellend. Ek het dit nie van Parktown Boys High verwag nie.”

Die skool het Saterdag ook gesê op aanbeveling van die polisie en die Gautengse onderwysdepartement kan hy nie nader besonderhede bekend maak oor die ondersoek of gebeure wat tot die voorval gelei het nie.

“Ons verstaan daar is baie onbeantwoorde vrae wat baie pyn en frustrasie veroorsaak, maar ons vra vir begrip terwyl die ondersoeke aan die gang is. Nader besonderhede sal daarna bekend gemaak word,” lui die skool se verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.