Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kwessie oor Afrikaans nie so groot, sê US aan MRK
Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, Maandag in die sitting. Foto: Jaco Marais

Sover dit die Universiteit Stellenbosch (US) aangaan, is die saak oor die “verbod op Afrikaans in koshuise” onderling opgelos, en word dit nou deur politieke figure en die media opgeblaas.

Só het prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, en sy span Maandag in ’n sitting van die Menseregtekommissie (MRK) in Stellenbosch gesê.

Die ondersoek handel oor bewerings dat studente in koshuise soos Minerva en Irene aan die begin van die jaar verbied is om Afrikaans in koshuise en selfs in informele omgewings te praat.

Daar was glo ook voorvalle in Huis Francie van Zijl op die Tygerberg-kampus en by die studenteorganisasie Capri.

Die MRK-kommissarisse André Gaum en Chris Nissen was onder andere in die paneel. Verskeie lede van die US-bestuurspan was ook teenwoordig, onder wie prof. Deresh Ramjugernath, viserektor van onderrig en leer, en dr. Choice Makhetha, hoof van studentesake.

“Ons het met studenteleiers en studente in gesprek getree om ’n gemeenskaplike begrip van die taalbeleid en die implementering te verseker,” het De Villiers gesê.

“En sover ons bewus is, is die kwessies bevredigend opgelos. Die proses het ooreenkomstig ons taalbeleid geskied.”

Ons het met studenteleiers en studente in gesprek getree om ’n gemeenskaplike begrip van die taalbeleid en die implementering te verseker.

Makhetha het hom ondersteun en gesê die jong mense in die leiersposisies is baie opgewonde (oor hul taak) en probeer baie hard om inklusief te wees.

“Hulle het mekaar langs die pad verkeerd verstaan. Wanneer sulke misverstande kop uitsteek, kom studente bymekaar om dit op te los. In dié betrokke gevalle is dit opgelos en die partye was tevrede.

“Maar in politieke kringe en in die media is die saak lewend gehou. Die indruk word gewek dat die probleem groter is as wat dit regtig is,” het Makhetha gesê.

De Villiers het gesê in geen van sy gereelde vergaderings met die studenteraad, wat een van die kanale vir klagtes oor taal is, is die beweerde onderdrukking van Afrikaans opgehaal nie.

Die afgelope twee jaar is ook geen klagtes oor die gebruik van Afrikaans onder adv. Rina Meyer, die US se ombud, se aandag gebring nie.

Meyer is die US se ombud wat aandag gee aan alle probleme en klagtes van studente, ouers of personeel wat nie bevredigend deur die bestaande strukture gehanteer is nie.

Matthew du Plessis, ’n senior regsbeampte van die MRK, het aan De Villiers en sy span, wat ook deur regsverteenwoordigers bygestaan is, gesê geen klagtes is ontvang van mense wat aangesê is om nie Xhosa te praat nie.

Lede van die paneel van die Menseregtekommissie is van links Fadlah Adams, senior navorser van die MRK, Chris Nissen en André Gaum,albei kommissarisse. Foto: Jaco Marais

“Die klagtes is oor Afrikaans. Is die blote feit dat ons hier sit, nie ’n aanduiding dat die US iets gemis het nie?”

Hy het De Villiers direk gevra: “As ons dié klagtes en bewerings ontvang het, het u steeds volle vertroue in die taalbeleid? Daar moet êrens ’n probleem wees wat goed versteek is,” het Du Plessis gesê.

“Dit is nog steeds bewerings wat ondersoek word, en ons onafhanklike ondersoek (deur die ouditfirma Deloitte) is aan die gang,” het De Villiers geantwoord.

“Dinge kan en gaan verkeerd loop. Solank ons die regte meganismes het om probleme aan te pak, is ek oortuig daarvan dat die taalbeleid, volgens die beskikbare inligting, na wense werk.”

Du Plessis wou weet watter stappe die US bereid is om te doen indien in sy onafhanklike ondersoek bevind word dat studente of personeel sy taalbeleid verkeerd geïmplementeer het.

“Ons sal ’n herstellende benadering wil volg, want dit is oomblikke wat ’n geleentheid vir leer bied. Ons as ’n instelling leer en dit is hoe ons groei,” het De Villiers geantwoord.

US ‘reageer nie sterk’

Gaum het die US se aanvanklike reaksie op die bewerings in die media opgehaal en gesê dit wil voorkom asof die US nie besonder sterk gereageer het nie.

“Die US keur die beweerde oortredings nie pertinent af in sy aanvanklike verklaring nie,” het Gaum gesê. “Maar verlede week is dit onomwonde gestel dat die US dit afkeur.

“My vraag is, waarom was die aanvanklike reaksie nie sterk en afkeurend nie, maar een wat daarop neerkom dat dit nie as ernstig beskou word nie?”

De Villiers het dit ten sterkste ontken. “Ek stem glad nie saam dat daar nie behoorlik en vroegtydig gereageer is nie. Inteendeel, ons verklaring maak dit duidelik dat dit nie in pas is met die taalbeleid nie en indien dit op dié manier toegepas is, sou dit nie korrek wees nie.”

Gaum het gesê inklusiwiteit is ’n goeie ding, en duidelik ’n baie groot prioriteit vir hierdie universiteit. “Maar dit kan dalk wees dat daar in die naam van inklusiwiteit uitsluiting plaasgevind het en dat sommige menseregte oortree is.”

Prof. Wim de Villiers (regs) in gesprek met ’n regsadviseur, adv. Jeremy Muller. Foto: Jaco Marais

De Villiers het gesê dit is verregaande dat hy, enigiemand in die bestuurspan of enige ander personeellid van die US die medium van kommunikasie in informele ruimtes wil reguleer.

Hy het dit benadruk dat die US die klagtes ernstig opneem en met die nodige ywer hanteer.

Gaum en Nissen het vrae aan hom gerig oor die US se departement Afrikaans en Nederlands se ope brief aan De Villiers wat wyd opslae gemaak het.

De Villiers het gesê hy vergader Dinsdag met dié departement en sal daar die kwessies wat in die brief opgehaal is, bespreek. Dit sluit die bewering in dat die departement nie by die hersiening van die taalbeleid betrek is nie.

Hy ontken dié bewering.

Die US het ook onder skoot gekom oor sy nuwe kenteken, waarop Afrikaans heel laaste staan terwyl dit op ou logo’s eerste gebruik is.

De Villiers het gelag toe dié kwessie opgehaal is en gesê dat dit bloot om ontwerpredes was. Gaum het gevra of dit nie dalk gegewe die huidige taaldebat ’n swak besluit was nie.

“Ek stem nie saam nie,” het De Villiers prontuit geantwoord.

Protes buite lokaal

’n Klein groepie mense het Maandagoggend buite die Stias-sentrum in Maraisstraat ’n stille protes gehou om hul misnoeë oor die “voortdurende marginalisering van Afrikaans” te toon.

Frederik van Dyk, ’n meestersgraadstudent aan die US, met ’n plakker oor sy mond in stille protes Maandagoggend buite die lokaal. Foto: Jaco Marais

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK-netwerk, het gesê hy en ander belanghebbendes, soos die Afrikaanse Taalraad, sal “voortdurend bewusmaking kweek” en soveel moontlik sittings bywoon.

Dr. Leslie van Rooi, hoof van sosiale impak en transformasie aan die US, het gesê die US verwelkom die betoging en het gesê dit maak deel van die “deelnemende proses” uit.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP, het De Villiers in ’n verklaring daarvan beskuldig dat hy “steeds volstrek geweier het om antwoorde te verskaf oor die sistemiese diskriminasie teen Afrikaanse studente wat deur die huidige taalbeleid veroorsaak word”.



Die US se aanvanklike reaksie, 28 Maart:

“Die universiteit is vandag oor hierdie aangeleentheid ingelig en sal nou dringend met die studenteleierskap van die Minerva-koshuis in gesprek tree om te probeer verstaan waarom hierdie opmerkings deur ’n studenteleier gemaak is. Uit die inligting wat tans beskikbaar is, blyk dit nie te wees in die gees van andersins konstruktiewe gesprekke met studenteleiers en koshuise om by ’n gedeelde begrip van die 2016-taalbeleid uit te kom nie. In die belang van deursigtigheid en goeie bestuur het die US verlede week besluit om ’n onafhanklike ondersoek na die gebruik van taal in koshuise en sosiale ruimtes te loods.”


Die groep wat protes aangeteken het buite die sentrum. Van die rolspelers is Danie van Wyk, voorsitter van die DAK-netwerk (regs) en Ria Olivier van die Afrikaanse Taalraad (naasregs). Voor is Frederik van Dyk, ’n meestersgraadstudent aan die US. Foto: Jaco Marais
Die US-verklaring oor die bewerings, 5 Mei:

“Daar is nie ’n beleid om slegs Engels in koshuise te gebruik nie, en studente kan nie verbied word om Afrikaans of enige ander taal te praat nie. Dit is nie in ooreenstemming met ons 2016-taalbeleid, ons visie of ons waardes nie. Die US is ook geboekstaaf dat as studente aangesê word om nie Afrikaans in sosiale verband te gebruik nie, dit verkeerd is. Dit is eweneens verkeerd as studente onder druk geplaas word om nie Afrikaans te gebruik in ’n kursus met spesifikasies wat wel vir Afrikaans voorsiening maak nie. Dít is nie ons beleid nie; dit is nie veronderstel om te gebeur nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.