Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: ‘Chaos’ met skoleplasings

Dit was Woensdag chaos by die Vodacom ICT-sentrum in Sunnyside, Pretoria, waar honderde ouers om antwoorde oor skoleplasings gaan pleit het.

Ouers het ook vroegoggend reeds by die Mamelodi Teachers’ Centre tougestaan om vir hul kinders ’n plek in ’n skool te bewimpel.

Dit kom nadat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, Dinsdag gesê het dat 99,2% van leerlinge wat in die provinsie geregistreer is, plek gekry het en Woensdag skool toe kon gaan.

Hy het Dinsdag ook gesê dat alle leerlinge wat verlede jaar aansoek gedoen het, teen 3 Desember geplaas is.

Lesufi het beloof dit sluit die ongeveer 700 appèlle in wat die departement ná verlede jaar se eerste ronde van aansoeke ontvang het.

Honderde ouers staan Woensdag buite die Vodacom ICT-sentrum in Sunnyside, Pretoria, om hul kinders se lot oor skoleplasings te hoor. Foto: Deaan Vivier

Hoewel die meerderheid appèlle volgens Lesufi misluk het weens ’n gebrek aan plek in skole, het hy beloof dat almal teen Dinsdagaand sou weet waar hulle kinders Woensdag moes aanmeld.

Nonala Buthlezi, een van die ouers wat vroegoggend reeds in Sunnyside was, het wel verlede jaar appèl aangeteken teen haar dogter Azize Maphumulo (14) se plasing in ’n skool waar sy Woensdag veronderstel was om haar hoërskoolloopbaan te begin. Sy het steeds geen antwoord op die appèl gekry nie.

‘Dis chaos hier’

“Dis chaos hier. Ek het verlede jaar appèl aangeteken en ek het tot nou toe niks van die departement gehoor nie. Hulle het aanvanklik gesê ons moet Maandag hier wees, maar hulle was nog toe en het gesê ons moet vandag terugkom. Is dit net ’n speletjie wat die regering met ons speel?” wou ’n moedelose Buthlezi weet.

Papy Kumekele het sedert 06:00 in dieselfde tou as Buthlezi gestaan om duidelikheid te kry oor sy dogter Kiria (7) se plasing in gr. 1.

Hy het haar verlede jaar op die aanlyn stelsel ingeskryf en haar dokumentasie ’n dag ná die afsnydatum ingedien. Die departement sou aanvanklik op 30 Augustus met plasings begin het.

Die departement het na bewering geweier om dit te aanvaar, al het Lesufi die sperdatum tot die einde November aangeskuif.

“Nou staan ons hier en doodgaan in die son en niemand wil ons sedert Maandag help nie,” sê Kumekele.

Nazir Akoon, nog ’n ouer, sê hy en sy gesin het vanjaar van Potchefstroom na Gauteng verhuis.

“Ons was nie bewus van die aanlyn stelsel nie en nou het my kinders in gr. 1 en gr. 6 nie plek nie. Die twee in gr. 9 en gr. 11 is eers Dinsdag geplaas,” sê Akoon.

Ouers staan buite die Vodacom ICT-sentrum in Sunnyside, Pretoria, om hul kinders in skole te kan plaas. Foto: Deaan Vivier

Teen 13:00 was nie een van hulle al geholpe nie.

In Mamelodi was dit net so erg.

Christopher Mdau was sedert 05:30 daar om ’n oorplasingskaart vir sy dogter Ofentse (6) te kry.

Sy is aanvanklik weggewys by die laerskool in Silverton, Pretoria, was sy haar gr. R jaar voltooi het. Die skool is naby Mdau se werk en het hom aan die begin van 2019 die versekering gegee dat sy kind daar met gr. 1 sal kan begin.

Ofentse is egter by ’n skool in Mamelodi geplaas, sowat 5 km van waar die gesin woon.

Mdau het by ’n ander laerskool in Silverton gaan aanklop. Die skool het gesê hulle het plek, maar dat hulle ’n oorplasingskaart van die departement benodig.

Mdau het dit verlede jaar aangevra en is Woensdag na die sentrum met die hoop dat hy dit uiteindelik sal kry.

“Hoekom moet ons so sukkel? Ons staan hier in die son sonder enige hulp of water. Van die mense hier gaan tot twee dae by hul werke moet afvat. Dit is mos nie reg nie?” sê Mdau.

Hy voeg by dat van die ouers al sedert 01:00 in die tou slaap.

Boitumelo Modikoane, wie se dogter Woensdag met gr. 8 moes begin het, het sedert 05:00 tougestaan.

Ouers staan Woensdag in ’n lang tou buite die Mamelodi Teachers’ Centre om hul kinders vir skool te registreer.Foto: Deaan Vivier

Volgens haar het sy in Junie verlede jaar die aanlyn aansoek voltooi en haar dogter se dokumente ingehandig, maar sê haar dogter is in die “verkeerde skool” geplaas.

Modikoane het eers by die Pretoria-distrikskantore gaan aanklop, maar is na die sentrum in Mamelodi verwys.

“Dit is so frustrerend. Kan die aanlyn proses gestop word, want ons wil nie meer aanlyn (aansoeke) hê nie,” pleit Modikoane.

Steve Mabona, die departement se woordvoerder, het nie op navrae oor die chaos by sentrums gereageer nie.

Lesufi het wel Dinsdag gesê laat aansoeke sal tot en met 24 Januarie oop wees en dat alle leerlinge wat aansoek doen teen 31 Januarie geplaas sal wees.

Khume Ramulifho, die DA se Gautengse verteenwoordiger vir basiese onderrig, gaan Donderdag Olifantsfontein Primary in Clayville, Olifantsfontein, besoek. Luidens ’n verklaring het die skool ’n groot klomp aansoeke ontvang, sowel as talle klagtes oor die plasings wat by die skool gemaak is.

Ouers sit al glo sedert Woensdag 01:00 voor die Mamelodi Teachers’ Centre met die hoop dat hul kinders in skole geplaas sal word. Foto: Deaan Vivier
Ouers staan Woensdag tou buite die Mamelodi Teachers’ Centre om hul kinders te registreer.Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Skoleplasings  |  Panyaza Lesufi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.