Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Erken Afrikaans as inheemse taal, eis betogers

Die erkenning van Afrikaans as inheemse taal en dat dit is as volwaardige akademiese taal gebruik word, is van die eise wat betogers in ’n versoekskrif aan die Universiteit Stellenbosch (US) oorhandig het.

Die belangegroep DAK Netwerk het Vrydag die optog gelei, met betogers wat deur die Eikestad se middedorp gestap en akademici ingesluit het.

Dr. Leslie van Rooi, die US se senior direkteur van maatskaplike impak en transformasie, het die versoekskrif ontvang en gesê die US verwelkom insette en kommentaar op die taalbeleid.

Van Rooi het in antwoord op ’n vraag van die media gesê: “Ons taal, my moedertaal, sal nog vir baie geslagte met ons wees.” Hy het ook gesê daar is ’n plek vir Afrikaans in skole en hoër onderwys, “maar Afrikaans moet binne verhouding met ander tale staan”.

Betogers neem Vrydag deel aan ’n optog van die DAK Netwerk om ’n versoekskrif aan die Universiteit Stellenbosch te oorhandig te midde van die hersiening van sy taalbeleid. Foto: Jaco Marais

Wat die rol van Afrikaanssprekendes betref, het hy gesê: “Ons [Afrikaanssprekendes] moet ’n unieke, goeie plek vir [Afrikaans] in ’n multikulturele konteks oopmaak.”

Prof. Wim de Villiers, US-rektor, is vroeër vandeesweek positief vir die koronavirus getoets en kon nie self die versoekskrif in ontvangs neem nie.

Prof. Deresh Ramjugernath, viserektor vir leer en onderrig, sê in ’n verklaring van die US daar is tans groot belangstelling in die hersiening van die universiteit se taalbeleid.

“Die universiteit verwelkom uiteenlopende menings en sienings en ’n robuuste debat. Dit is duidelik dat verskeie belangegroepe veral die posisie van Afrikaans op die hart dra, soos vandag se optog deur die DAK Netwerk ook bewys.”

Insette vir die eerste konsepbeleid kan nog teen 12 April ingedien word en moet op die US se aanlyn platforms gestuur word.

Deur die oggend het krete soos “Afrikaans is ’n inheemse taal” deur die strate van Stellenbosch weergalm terwyl die optoggangers na die kampus gestap het.

Die DAK Netwerk sê in sy versoekskrif hy het met verontwaardiging verneem van die 2016-taalbeleid wat van die vorige taalbeleid afgewyk het, waar Afrikaans en Engelse voorheen op gelyke vlak geplaas is.

Dr. Leslie van Rooi van die US staan voor deelnemers aan die DAK Netwerk se optog. Foto: Jaco Marais

“Nie net het dit ’n woede onder ons mense ontketen nie, maar dit het ook visioene van die verlede van ontmagtiging en vernedering teweeggebring.”

Die eise sluit in dat die US Afrikaans as ’n inheemse taal erken, dit “as ’n volwaardige akademiese taal aangewend word” terwyl die universiteit hom steeds verbind tot meertaligheid om die Wes-Kaap se bevolking te weerspieël.

Verder eis die DAK Netwerk dat Afrikaanssprekende studente die geleentheid gegun moet word om minstens ’n eerste kwalifikasie in Afrikaans te behaal, terwyl die US ook om verskoning moet vra “vir die vernedering wat nie-wit studente in die verlede ervaar het”.

“Dié Afrikaanse studente is erg deur die toelatingsbeleid van die US benadeel. Eers was dit op grond van velkleur gedoen, en die hersiene taalbeleid van die universiteit bring hul basiese menseregte weer in gedrang.”

Laastens eis die groep ook dat die “kultuur van robuuste debatvoering” weer sy plek op die US-kampus moet inneem.

Prof. Hermann Giliomee, bekend vir sy studies van geskiedenis en politieke wetenskap, het tydens die betoging gesê na sy mening is die afskaling van Afrikaans “een van die donkerste oomblikke” in die US se geskiedenis.

“Dit was gewoon opportunisties en onnadenkend en slordig uitgevoer. Dit het ’n gevoel van disrespek vir Afrikaans en mense van alle kleure wat dit praat.”

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, plak ’n versoekskrif teen die ingang van een van die Universiteit Stellenbosch se administrasiegeboue. Foto: Jaco Marais

Volgens Giliomee, ’n voormalige US-raadslid, moet Afrikaans die voertaal van die universiteit wees en studente alle vakke in Afrikaans kan volg, terwyl Engels steeds beskikbaar is en as aanvullende taal gebruik word.

Hy voer aan die US moet ’n “radikale poging” aanwend om die agterstand in die onderrig van Afrikaanssprekende bruin studente reg te stel, terwyl Engelssprekende bruin en wit studente aan die universiteit toegeneem het.

“Dit is die een instelling wat ek dink die meeste sy eie ondersteuningsgroep en taalgemeenskap amper verwerp het, ter wille van een of ander illusie om ’n groter, beter plek op die ranglyste te verdien.”

Giliomee het ’n beroep gedoen dat die gemeenskap die afskaling van Afrikaans teenstaan en onderrig in Afrikaans aan die US opeis.

• Navrae oor die indieningsproses vir die hersiening van die taalbeleid kan per e-pos aan taal@sun.ac.za gestuur word.

Prof. Hermann Giliomee lees die DAK Netwerk se versoekskrif. Foto: Jaco Marais

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.