Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Geskiedenis-vraestel billik, sê matrieks

Die matrieks het Woensdag die tweede geskiedenis-vraestel geskryf.

Sommige leerlinge aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria meen die vraestel was billik en dat daar heelwat vrae was wat die leerlinge geïnteresseer het.

Harry Cassidy (18) Foto: Andrea Küsel

Harry Cassidy (18) sê hy is tevrede met die vraestel. “Die opstelle waarvoor ek geleer het, is wel gevra.”

Harry sê die brongegronde vrae was interessant.

In dié vraag moes leerlinge bronne, soos uitreksels uit koerante en boeke, gebruik om sekere vrae te beantwoord.

In vraag 1.3 is leerlinge gevra om ’n uitreksel te bestudeer uit ’n onderhoud met die fotograaf Sam Nzima, wat die bekende foto van Hector Pieterson op 16 Junie 1976 in Soweto geneem het.

Leerlinge word dan gevra om te verduidelik waarom Nzima nie gestop het om Pieterson te help nie.

“Dit was interessant om die vraag uit die fotograaf se perspektief te sien. Gewoonlik is die bron uit dié stuk geskiedenis die polisie of die kinders wat die dag daar was,” sê Harry. Hy stem saam dat daar geen buitengewoon moeilike vrae was nie.

Chris Maree (18) sê die vraestel was billik, alhoewel daar vrae was wat insig geverg het.

“By die brongegronde vrae moes jy die konteks van die uittreksels verstaan om die vrae reg te kry.”

Maree sê dié vraestel was heelwat makliker as die vraestel tydens die rekordeksamen.

Stefan Klopper (18) meen die vraestel was op standaard.

Die vraag wat hy die meeste geniet het, was vraag 4 wat gaan oor die verset teen apartheid.

Chris Maree (18). Foto: Andrea Küsel

In dié vraag moes leerlinge die verskillende vorme van weerstand bespreek wat internasionale anti-apartheidsorganisasies gedurende die 1980’s onderneem het, wat tot die uiteindelike ineenstorting van die apartheidsregime bygedra het.

Josef Henning (18) stem saam dat daar nie werklik moeilike vrae was nie.

Die vraag wat hy die meeste geniet het, was vraag 6, wat gaan oor die einde van die Koue Oorlog.

In dié vraag moes leerlinge verduidelik tot watter mate die val van die Berlynse Muur in 1989 die weg vir die Nasionale Party en die ANC gebaan het om samesprekings te begin.

Cobus Loots (17) sê die vrae was goed gebalanseerd en interessant.

Stefan Klopper (18). Foto: Andrea Küsel

Hy meen dit is van uiterste belang dat kinders op skool geskiedenis moet neem.

“Geskiedenis is waar ons vandaan kom en dit bepaal waar ons vandag is en waarheen ons op pad is.”

Hy sê Suid-Afrika se geskiedenis is veral belangrik omdat mense moet verstaan waarom die land tans is waar dit is.

“Dit was maklik. Ek het nog die hele jaar goed gedoen in dié vraestel, daarom was dit nie so moeilik vir my nie. Hulle het maar dieselfde gevra as in die rekordeksamen,” sê Chris Bruyns (18).

Hy sê daar was geen vrae wat leerlinge sou uitvang nie.

Bruyns hoop om 90% vir die vraestel te ontvang.

Josef Henning (18). Foto: Andrea Küsel
Cobus Loots (17). Foto: Andrea Küsel
Chris Bruyns (18). Foto: Andrea Küsel

Meer oor:  Geskiedenis  |  Matriekeksamen2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.