Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: G’n glimlagte te sien, oë doen praatwerk, sê onnie

Saam met al die leerlinge wat nou terug is, het daar ’n nuwe energie gekom. Ja, ’n mens mis die drukkies en glimlagte, maar jy leer om met jou oë te praat.

Dit was die reaksie van een van die onderwyseresse van die Laerskool Constantiapark in Pretoria.

Die skool het Maandag die res van sy leerlinge vir ’n tweede keer terugverwelkom, nadat die gr. 7’s reeds vroeër vandeesmaand teruggekeer het.

Om ’n gesonde afstand te handhaaf, is die leerlinge alfabeties in twee groepe gedeel, met Groep A en Groep B wat weekliks roteer om skool by te woon.

Dié week is dit Groep A se beurt met die leerlinge in gr. R tot gr. 6 wat uiteindelik by die gr. 7’s aangesluit het.

Die week wat leerlinge nie by die skool is nie, kry hulle skoolwerk om tuis te doen.

“Ons skool het besluit om met al die vakke voort te gaan, want ons voel aan die einde van die jaar moet ’n leerling sy graad se hele kurrikulum onder die knie hê,” sê dr. Louis Dey, skoolhoof.

Gr. 1-leerlinge aan die Laerskool Constantiapark in Pretoria hou ’n gesonde afstand terwyl hulle buite hul klaskamer in ’n ry aantree. Die res van hierdie skool se leerlinge het Maandag teruggekeer, nadat die gr. 7’s reeds twee weke gelede teruggekeer het. Foto: Deaan Vivier

Die skool het sowat 1 600 leerlinge, waarvan slegs 23 aangedui het om voort te gaan met die kuberskool wat die skool al vroeg tydens die staat van inperking ingestel het.

Baie skole het Maandag leerlinge in gr. R, 1, 2, 3, 4, 6, 9, 10 en 11 terugverwelkom.

Die Laerskool Constantiapark het egter grade vroeër ingefaseer, met die gr. 5’s wat ook terug is.

Gr. 12’s het op 3 Augustus teruggekeer skool toe, terwyl die gr. 7’s ’n week later op 10 Augustus aangemeld het.

“Talle navorsing dui daarop dat die skool die beste plek is vir ’n kind. Die skool is ’n oefenveld vir die lewe en dis waarom ons glo kinders moet terugkom skool toe sodat hulle kan leer,” sê Dey.

Pyle is op die stoepe aangebring sodat leerlinge net in een rigting loop om tweerigtingverkeer te voorkom. Wanneer leerlinge buite die klaskamers aantree, is daar merkers wat aandui waar hulle moet staan.

“Die maats het net hul ritme vandag (Maandag) gevind en aangegaan asof ons glad nie weg was nie. Die kinders wil hier wees,” sê Marna du Plooy, die gr. 7-graadhoof.

“Onder hierdie omstandighede klou hulle nogal aan hul maats vas en dit is lekker om te kan sosialiseer omdat jy nou mag – al is dit van ’n afstand af.”

Sy verduidelik dit is asof die kinders vir die onderwysers energie gegee het.

Du Plooy mis dit egter om vir die leerlinge drukkies te kan gee. “En om tande te sien as hulle glimlag – ’n mens mis dit. Jy leer wel om met jou oë te praat.”

Merke is op die stoep buite klaskamers aangebring om aan te dui waar leerlinge moet staan.Foto: Deaan Vivier
Gr. 1-leerlinge sit ’n entjie van mekaar af op die veld voor huistoegaantyd. Hul ouers moet buite die skoolterrein vir hulle wag.Foto: Deaan Vivier
Gr. 1-leerlinge se ouers wag buite die skoolterrein vir hul kinders om ’n gesonde afstand te handhaaf.Foto: Deaan Vivier
’n Klas gr. 3-leerlinge het Maandag weer teruggekeer skool toe. Om ’n gesonde afstand te handhaaf, het die Laerskool Constantiapark sy leerlinge alfabeties in twee groepe gedeel wat weekliks roteer om skool by te woon.Foto: Deaan Vivier

Sy erken dat sy ’n streng juffrou is wat gewoonlik van stilte in die klaskamer hou, maar die Covid-19-pandemie het dit ietwat verander. “Ons het hulle eintlik aangemoedig om ’n bietjie meer tussenin met maatjie te gesels. Ek wil amper sê my hele aanslag in die klas het verander,” sê Du Plooy.

Annedien Smit, ’n gr. 6-onderwyser, sê die grootste uitdaging vir haar is die maskers wat leerlinge en onderwysers moet dra. “Jy moet jou liggaamstaal aanpas om dieselfde boodskap oor te dra. Jy moet op ’n ander manier luister om van agter ’n masker te hoor wat iemand eintlik probeer sê.”

Smit sê omdat daar minder leerlinge in ’n klas is, kan onderwysers meer aandag aan ’n spesifieke kind gee en dit is makliker om dissipline toe te pas.

Milla Botes, ’n gr. 7-leerling en die hoofmeisie, sê die jaar is toe nie so uitdagend nie omdat sy vinnig by die nuwe normaal aangepas het.

Sy mis egter haar vriende wat in die ander groep (Groep B) ingedeel is, hoewel sy nou nuwe maats in haar klas gemaak het.

“Ek voel ons skool is baie voor met die werk. Dit is asof ons glad nie afwesig was nie, want die kuberskool was so goed dat ons heeltyd op datum gebly het met die skoolwerk,” sê Milla.

SE du Toit, ’n gr. 7-leerling en die hoofseun, sê hy mis dit om rugby te speel. Hy geniet dit wel om tweeweekliks skool toe te kom.

’n Gr. 3-leerling ontsmet haar hande in die klaskamer.Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Koronavirus  |  Onderwysers  |  Leerlinge  |  Covid-19  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.