Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: ‘Grey-massageveg’ op video net skyn

Wat op ’n video lyk soos ’n massageveg tussen leerlinge van Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein is inderwaarheid ’n tradisie wat net te ver gevoer is.

Dit is die gebruik dat die gr. 11-koshuis- en -stadsleerlinge vir geesbou op mekaar afstorm met die eerste saalbyeenkoms van die jaar. Nadat die leerlinge Woensdag egter in ’n “skyngeveg” betrokke geraak het waarvan beeldmateriaal op sosiale media versprei is, word dié gebruik onmiddellik gestaak.

’n Skermgreep van die beeldmateriaal wat op sosiale media die ronde doen. In die video wat versprei word lyk dit asof massas leerlinge van Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein mekaar bykom.
Die video was absoluut iets wat in isolasie afgeneem is. Dit was ’n gedramatiseerde voorstelling.

“Die video was absoluut iets wat in isolasie afgeneem is. Dit was ’n gedramatiseerde voorstelling,” sê Deon Scheepers, skoolhoof.

Hy sê die afstorming is deel van die mededinging tussen die koshuis- en stadsleerlinge aan die begin van die jaar.

Die hele hoërskool begin daarna voor die saalperiode in die Reünie-saal in die twee groepe “teen mekaar” sing.

Scheepers sê die geesbou is in aanloop tot volgende week se atletiekbyeenkoms en swemgala waar die skool se leerlinge in dié verband met mekaar meeding.

“Hierdie ‘opsweep’ van die twee groepe is ’n baie ou tradisie,” sê Scheepers.

Ná volgende week se sportbyeenkomste “verenig almal weer as Grey-kollege”.

Deon Scheepers, hoof van Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein, Donderdag in ’n onderhoud met Netwerk24. Foto: Katleho Mokuena

Die skyngeveg is egter volgens hom nie deel van dié gebruik nie. Die voorval moet in konteks gesien word.

“Ek dink die leerlinge se motief was dalk reg, maar hulle het dit (die afstorm-tradisie) net ’n stappie te ver gevat (met die skyngeveg) wat die dramatisering daarvan betref.”

Hy sê daar was geen beserings nie en geen leerlinge of ouers het gekla nie. Hy meen die betrokkenes het die voorval in die lig van die geesboutradisie geïnterpreteer.

Volgens Scheepers was die personeel nie daarvan bewus dat ’n skyngeveg sou plaasvind nie. Die saalbyeenkoms het soos gewoon voortgegaan toe die personeel daarná die saal betree het – die skyngeveg het toe reeds bedaar.

“Grey-kollege sal nooit enige voorstelling van geweld ondersteun nie en as dit so geïnterpreteer is, vra die skool regtig om verskoning.

“Ons Reünie-saal is natuurlik vir ons ’n baie spesiale plek en ’n ou wil nie die persepsie skep dat daar afbreuk gedoen word aan ons saal waardeur baie generasies Grey-seuns is nie.”

Scheepers sê die leerlinge sal steeds teen mekaar meeding en betrokke wees by geesbou, maar sal voortaan die saal instap en nie na mekaar hardloop nie.

“Ek dink as dit mense ontstel, as dit afbreuk doen aan Grey se tradisies, dan moet ’n mens dit net anders benader.”

Meer oor:  Deon Scheepers  |  Bloemfontein  |  Grey-Kollege
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.