Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Lesufi se plan sal begrotings in die wind skop

Dit gaan die staat en ouers se sakke ruk as Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, sy plan deurvoer om talle skole in dubbel- en parallelmediumskole te verander.

Lesufi het Vrydag sy plan vir onderwys in die provinsie by Nasrec in Johannesburg voorgehou.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng. Foto: Deaan Vivier

Hy staan vas daarby dat die departement nie gaan bes gee in sy pogings om klaskamers nierassig te maak met nuwe taal- en soneringsbeleide nie.

“As iemand sê ‘ek wil net in Afrikaans onderrig word’, sal ek dit toelaat, ek sal vir jou ’n onderwyser gee om jou te onderrig, maar indien jy in jou moedertaal, Afrikaans, onderrig wil word, beteken dit nie die hele skool moet Afrikaans wees nie,” sê Lesufi.

Hy stel voor dat leerlinge met verskillende moedertale in dieselfde skole onderrig word.

“Jy kan blok A toe gaan vir Afrikaans en ons sal blok B toe gaan vir Engels of Pedi in dieselfde skool.”

Ouers sal moet opdok vir ekstra onderwysers

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê Lesufi se planne gaan basies veroorsaak dat skole in dubbel- of parallelmediumskole omskep word.

“Eerstens word alle skole in Suid-Afrika gefinansier asof dit enkelmediumskole is. Dubbel- en parallelmediumskole is baie duurder om te bedryf en is meestal net volhoubaar in ryker gemeenskappe.”

Colditz sê die staat voorsien ook nie genoeg personeellede aan parallelmediumskole om suksesvol te wees nie.

“ ’n Klomp geld gaan van die ouers verhaal moet word sodat dié soort skole genoeg personeellede kan aanstel.”

Colditz sê verder dat Lesufi nie slegs Afrikaanse enkelmediumskole moet takel nie, maar ook Engelse skole.

“Enige uitspraak wat Lesufi oor Afrikaanse skole maak, moet ook Engelse skole geld. Van die 2 077 skole in Gauteng is slegs 133 Afrikaanse enkelmediumskole. As Engelse mense die reg het om enkelmediumskole te hê, het die Afrikaanse gemeenskap dieselfde reg.”

Die onderwysdepartement gaan net seker moet maak dat hulle genoeg onderwysers aanstel om leerlinge in verskillende tale te onderrig.
Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van Sadou

Wat wil die gemeenskap hê?

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê indien ’n skool ten volle benut word en heeltemal vol is, is dit die beheerliggaam van die skool se verantwoordelikheid om te kies watter onderrigtaal aangebied word.

“Indien ’n skool egter nie 100% benut word nie en nie heeltemal vol is nie, moet daar gekyk word na die gemeenskap se behoeftes as ’n onderrigtaal gekies word.”

Moedertaalonderrig vir almal

Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), sê dié vakbond moedig rasse-integrasie aan.

“ ’n Skool is ’n plek waar alle tale bevorder moet word. Ek glo moedertaalonderrig en onderrig in alle tale moet op dieselfde vlak aangebied word,” sê hy.

Maluleke sê Sadou ondersteun Lesufi se siening dat alle skole onderrig moet verskaf aan alle leerlinge, ongeag hul agtergrond of moedertaal.

“Die onderwysdepartement gaan net seker moet maak dat hulle genoeg onderwysers aanstel om leerlinge in verskillende tale te onderrig.”

As ons nie vroeëkinderontwikkeling regkry nie, sal ons ook nie onderwys regkry nie.
Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng

Nog planne

Lesufi het Vrydag verder gesê die departement gaan voortgaan om die provinsie se onderwysbeleid te verander, onder meer deur ’n voorstel dat alle skooluniforms van volgende jaar af die Suid-Afrikaanse vlag moet toon.

“Dis ons land se vlag, ons kinders moet dit ken. Ons is duidelik hieroor, dié ons-en-hulle moet tot ’n einde kom.”

Lesufi het ook ’n boodskap vir leerlinge gehad: “Ons is moeg vir jul swak gedrag. As jy soos ’n misdadiger behandel wil word, sal jy soos ’n misdadiger behandel word.”

Nog ’n verwikkeling in die onderwyssektor is dat vroeëkinderontwikkeling nou van die departement van maatskaplike ontwikkeling na die onderwysdepartement geskuif gaan word.

“Alle laerskole moet hulself voorberei om gr. R en gr. RR aan te bied,” sê Lesufi.

Hy sê vroeëkinderontwikkeling lê die fondament vir onderrig in die provinsie.

“As ons nie vroeëkinderontwikkeling regkry nie, sal ons ook nie onderwys regkry nie.”

Meer oor:  Fedsas  |  Sadou  |  Saou  |  Panyaza Lesufi  |  Chris Klopper  |  Paul Colditz  |  Mugwena Maluleke  |  Gauteng  |  Onderwys  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.