Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Omstrede kuns 'skend Christene se regte'

Vryheid van spraak beteken nie die skending van ander mense se oortuigings en godsdiens nie. Artistieke vryheid beteken ook nie jy kan die regte van ander – soos om hul godsdiens te laat respekteer – skend nie.

Só sê Thoko Mkhwanazi-Xaluva, uitvoerende hoof van die Ontwikkeling van Godsdiens-erfenis en Kulturele Regte.

Sy was ook onlangs nog voorsitter van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL).

Mkhwanazi-Xaluva het gereageer op ’n video, wat wyd op sosiale media versprei is, waarin kunswerke te sien is in die vorm van drogbeelde wat soos duiwels lyk, tekeninge van Jesus as ’n hanswors en découpage-werk wat met opgeskeurde Bybelbladsye bedek is.

In dié video praat ’n man wat sê dat hy ’n oudleerling en pa van leerlinge in die Grantleigh-skool in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, is. Grantleigh is deel van die Curro-groep.

Die pa wys ontsteld na die omstrede kunswerke deur ’n matriekleerling van die skool wat glo tydens ’n prysuitdeling uitgestal word. Hy sê: “My God is nie ’n hanswors nie.”

Van die kunswerke uit die versameling wat die Christelike gemeenskap aanstoot gee. Foto: Skermgreep
Hierdie prent sinspeel op Die Laaste Avondmaal, ’n 15de eeuse muurskildery deur Leonardo da Vinci. Jesus in die middel word as ’n hanswors voorgestel. Foto: Skermgreep
Van die kunswerke uit die versameling wat die Christelike gemeenskap aanstoot gee. Foto: Skermgreep
Van die kunswerke uit die versameling wat die Christelike gemeenskap aanstoot gee. Foto: Skermgreep
Van die kunswerke uit die versameling wat die Christelike gemeenskap aanstoot gee. Foto: Skermgreep
Van die kunswerke uit die versameling wat die Christelike gemeenskap aanstoot gee. Foto: Skermgreep

“Die Grondwet laat elke persoon die vryheid van oortuiging toe, maar daardie oortuiging van jou mag nie ander mense se oortuigings skend nie,” sê Mkhwanazi-Xaluva.

“Dis betreklik verstommend dat só ’n blatante misbruik van ander mense se oortuigings by hierdie skool ten toon gestel word. Dis ’n blatante misbruik van die grondwetlike regte van ander leerlinge en hul families wat Christene is en behoort nie toegelaat te word in ’n land soos Suid-Afrika nie.”

Dr. Johan Thom, senior lektor in die kunsdepartement van die Universiteit van Pretoria, sê hier is twee kante ter sprake.

“Aan die een kant lyk dit asof dit anti-Christen is. Aan die ander kant lyk dit asof Christenskap aangeval word, en dít verg ’n baie klein (kop)skuif.”

Thom sê omdat die kunstenaar nie heeltyd by sy kunswerk staan om te verduidelik wat dit beteken nie, rus die onus van interpretasie op die toeskouer.

Volgens Thom sien die toeskouer soms meer van hom- of haarself en sy of haar eie vrese in ’n kunswerk as wat die betekenis van die kunswerk self raakgesien word.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê om geloof met disrespek te hanteer en te laat deurgaan as kuns is onaanvaarbaar.

Die vryheid van spraak kom “steeds met ’n verantwoordelikheid”.

Die skool sê

Grantleigh het in ’n omsendbrief gesê die projek is deel van ’n finale voorlegging aan die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) en is uitgestal in die skool se portaal as deel van ’n jaareinduitstalling.

Bybelblaaie bedek die kunswerke. Foto: Skermgreep

’n Interne ondersoek is onderweg.

“Ons wil beklemtoon die kommentare is nie ’n akkurate voorstelling van ons skool en die betrokke situasie nie en ons behou ons regte voor in dié verband.”

Die Curro-groep sê in ’n verklaring die video is sonder die skool se toestemming op sosiale media gelaai en ongeag versoeke om nie ’n leerling se kunsprojek in die openbaar te vertoon nie, omdat dit binne die toegewysde tema verstaan moet word.

Die groep sê hy gaan nie kommentaar lewer voordat die skool se interne ondersoek afgehandel is nie.

“Alle skole binne die Curro-groep neem ’n Christen-etos aan. Dit beteken dat die waardes van die Christelike geloof gehandhaaf word. Curro verwelkom, respekteer en heg waarde aan personeellede en leerlinge van verskillende gelowe.”

Die groep sê voorts Curro verwelkom alle konstruktiewe kommentaar, maar veroordeel kuberboeliery, godsdienstige onverdraagsaamheid, haatspraak, afbrekende taal en die wanvertolking en kommentare wat die handelsnaam in ’n slegte lig stel.

Politieke reaksie

Dr. Imran Keeka, DA-woordvoerder oor onderwys in KwaZulu-Natal, sê in ’n verklaring: “Hoewel die DA se toesig oor onafhanklike skole weens wetgewing beperk is, kan niemand ontken dat die beelde in die videogreep baie ontstellend is nie. Ewe onrusbarend is dat (die kuns) binne die mure van ’n skool met ’n sterk Christelike etos is.

“Daar is egter ’n Handves van Menseregte wat gerespekteer moet word.”

Hy sê hoewel die reg op vryheid van spraak en uitdrukking in dieselfde handves vervat is, bestaan “dit nie sonder beperkings en verantwoordelikheid” nie.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-woordvoerder oor basiese onderwys, sê in ’n verklaring dié voorval plaas klem op die spanning tussen gemeenskappe se gevestigde waardestelsels en die radikale individualisme van die liberale ideologie.

“Terwyl die VF Plus hom nie vir sensuur beywer nie, is verskillende aspekte vir die party problematies. Indien vertoning van die ou Suid-Afrikaanse vlag byvoorbeeld ’n hofbevel kan uitlok, sou ’n mens verwag dat ander groepe, soos Christene, se oortuigings ook sensitief hanteer word.”

Meer oor:  Thoko Mkhwanazi-Xaluva  |  Johan Thom  |  Grantleigh-Skool  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.