Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Ouers boos buite kantore van onderwys-departement

Chaos heers Sondagoggend by Tshwane se onderwysdepartement vir die suidelike streek se kantore in Pretoria waar ouers vroegdag opgedaag het nadat die departement hulle gevra het om te kom.

Die ontstoke ouers is almal ouers van 2020 se gr.1- en gr.8-leerlinge wat nog nie in Gautengse skole geplaas is nie.

Daar was egter niemand by die kantoor om hulle te ontvang nie.

’n Ouer voor die streekskantoor se deure, wat anoniem met Netwerk24 gepraat het, sê sy is een van minstens 3 000 ouers wat vroegoggend opgedaag het nadat die departement Saterdagmiddag ’n dringende SMS uitgestuur het.

“Ons moes alles los en kanselleer en sommige ouers kom van so ver as Soshanguve (30 km noord van Pretoria). Dit kos baie geld,” het sy ontsteld gesê.

Skare mense wag voor dooiemansdeur.Foto: Verskaf

Die SMS wat ouers Saterdagmiddag ontvang het, lees: “Beste ouer, as jy nog nie ’n aanbod vir plasing vir jou gr. 1 of gr. 8-leerling vir 2020 se plasings ontvang het nie, besoek asseblief jou naaste streekskantoor Sondag, 3 November, van 09:00 tot 16:00.”

Maar toe ouers opdaag, was daar niemand. “Sekuriteit het vorms in ons hande gestop met vrae vir inligting wat reeds op die departement se stelsel behoort te wees. Toe is daar weer niemand om dit in te neem nie. Ouers is wóédend,” sê sy.

“As ons net vorms moes kry, hoekom kon ons dit nie van die webblad aflaai nie? Hoekom moes ons so duur betaal om in te kom? Hier is ouers wat nie die stad of middestad ken nie. Almal is verward en soek antwoorde, maar hier is niemand.”

Sy sê ouers het aanhou aankom soos sy die perseel verlaat het. Selfs die Tshwane-metropolisie moes skarebeheer toepas.

Luidens die departement se digitale stelsel, kan ouers voorstelle maak vir skole waar hulle hul kinders wat volgende jaar graad een en graad 8 toe gaan, kan inskryf, maar die departement besluit uiteindelik en stel die ouers per SMS in kennis watter skole “aangebied” is. Die “aanbod” moet dan aanvaar of verwerp word.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale departement van basiese onderwys, het aangedui dat hy ook talle oproepe kry van ouers wat probeer verstaan wat aangaan. Hy sê hy stel ondersoek in en sal later terugvoering gee.

Hy sê hy neem kennis van ouers se angstigheid oor die plasingsituasie.

Intussen het die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, die blaam op Twitter voor die ouers se deur geplaas en gesê hulle het sy personeellede geïntimideer “en in sommige gevalle selfs aangeval”.

“Ons het hulle (personeel) aangemoedig om terug te gaan werk toe.”

Die vorms wat veiligheidswagte in ontstoke ouers se hande gedruk het. Foto: Verskaf
Ouers sê die vorms is reeds op die stelsels. Hulle verstaan nie waarom hulle weer die inligting moet verskaf nie. Foto: Verskaf

Hy het ook gesê die groot probleem is ouers wat nie die aanbiedinge wat die departement aangestuur het, aanvaar het nie en diegene wat nie dokumentasie ingedien het nie. Dis nie seker na watter dokumentasie verwys word nie.

Steve Mabona, woordvoerder van die plaaslike departement, het by navraag gesê daar is amptenare by hul kantore, “en ongelukkig het ouers ons amptenaar aangerand en ons skootrekenaar gebreek”.

Die ma met wie Netwerk24 gepraat het, sê dis geensins waar nie. “Hy verskuif nou die onbekwaamheid van amptenare in sy departement.”

Netwerk24 het reeds Vrydag navrae aan die plaaslike departement gerig om te probeer verstaan waarom daar soveel chaos oor die aanlyn registrasieproses heers en wag nog steeds op kommentaar.

Hierdie is ’n ontwikkelende storie. Hou Netwerk24 dop vir meer.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Opvoeding  |  Onderwys  |  Tshwane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.