Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Ouers eis meer onderwysers

Ouers van ’n Bolandse skool sê hulle gaan nie ophou betoog nie en gaan ook nie hul kinders toelaat om skool toe te gaan nie totdat meer onderwysers aangestel word.

Die ouers van leerlinge aan die Weltevrede Sekondêre Skool op Wellington het Woensdag “self die skool toegemaak” omdat hul klagtes oor oorvol klasse by die skool – waar daar tot 66 kinders in een klas is ­– volgens hulle geen gehoor vind nie.

Sowat 50 ouers en die meer as 700 leerlinge het Woensdagoggend buite die skool betoog en geëis dat meer onderwysers aangestel word.

Aubrey MacKay, sekretaris van die beheerraad, sê daar is klasse met 60 leerlinge en een met selfs 66 leerlinge.

Só lyk een van die klaskamers waarin leerlinge sit. Party deel ’n skoolbank. Foto: Jaco Marais

“Ons kinders kap om in die klas. Dis ’n gesondheidsrisiko.”

Van die kinders moet selfs banke deel, sê sy.

“Die onderwysers kan nie gehalte-onderrig gee nie, want hóé gee jy klas vir 60 kinders? Die klasse is vol en beknop en dit raak baie warm hier by ons.”

Sy sê drie onderwysers het die skool verlede jaar verlaat en een het vanjaar “ ’n pakket” gevat.

“Hierdie poste is nooit gevul nie. Dit is onaanvaarbaar vir ons kinders om in sulke toestande les te kry. Ons sal nie ophou betoog totdat nog onderwysers by die skool aangestel word nie. Ons sal môre (Donderdag) voortgaan.”

Daar is ook nie ’n pos vir ’n onderwyser om verbruikerstudies vir leerlinge van gr. 10 tot gr. 12 aan te bied nie.

‘Regte prosedure moet gevolg word’

Talle ouers het Woensdagoggend buite die skool betoog en plakkate rondgeswaai. Foto: Jaco Marais

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sê hy is bewus van die betogings en doen alles wat hy kan.

“Die beheerraad het die leerlinge vanoggend (Woensdagoggend) huis toe gestuur. Hulle soek bevestiging van bykomende poste, wat ons op die oomblik nie kan voorsien nie,” sê Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD.

Op die oomblik is die leerling-onderwyser-verhouding 37:1 in die Wes-Kaap.

“Dit is nie ideaal nie, maar ons het egter nie die geld om vir meer onderwysers te betaal nie. Ons was nog altyd baie openhartig oor die uitdagings waardeur die departement tans in die gesig gestaar word.”

Van die plakkate het gevra vir beter onderrig vir hul kinders. Foto: Jaco Marais
Ouers het Woensdagoggend vroeg hul kinders uit die skool gehaal ná die betogings. Foto: Jaco Marais

Sy het die proses hoe poste toegeken word, verduidelik: Tien dae nadat die skooljaar begin het, word ’n opname gedoen om akkurate statistieke te kry van die getal leerlinge en onderwysers in elke skool.

“Sodra hierdie inligting geverifieer is, sal die WKOD ’n besluit neem oor waar bykomende poste toegeken kan word.

“Om dié besluit te neem voordat hierdie proses afgehandel is, sal onverantwoordelik wees aangesien ’n mens nie net poste kan toewys sonder om seker te maak waar die grootste behoefte is nie.”

Hammond sê die departement is bewus van die uitdagings by die Weltevrede Sekondêre Skool. “Hierdie inligting sal deur die opname geverifieer word. Die skool het ingevolge die proses vir meer onderwysers aansoek gedoen. Ons is in konstante kontak met die skoolbestuur om hierdie uitdagings die hoof te bied, sowel as die pos vir ’n onderwyser vir verbruikerstudies.

“Dit is ongelukkig dat leer en onderrig ontwrig is. Ons doen ons bes om te verseker dat die proses so gou moontlik afgehandel word sodat skole weet of hul aansoeke vir meer poste suksesvol is.”

Meer oor:  Wellington  |  Protes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.