Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Skoolhoof berispe ouers ná partytjie

Hy kan nie sy teleurstelling verwoord as hy dink hoe onverantwoordelik sy matriekleerlinge en hul ouers was toe ’n “40 days”-partytjie verlede Donderdag gehou is nie.

Dawie Kriel, hoof van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, het in ’n video op die skool se Facebook-blad ’n pleidooi gelewer en gesê dit was hoogs onverantwoordelik van ouers om hul kinders toe te laat om dié partytjie by te woon.

“As u dink dat dit die regte ding was om u kind na 40 days te stuur waar kinders sonder maskers verkeer het, dan dink ek moet u so ’n klein bietjie stilte vat en dink waarmee u besig is,” het ’n hoogs ontstelde Kriel gesê in die video wat Woensdag geplaas is.

Die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp. Foto: Dennis Delport

Teen Donderdagmiddag is dit reeds meer as 200 000 keer op Facebook gekyk. Die jaarlikse 40 days-partytjie word deur matrikulante landwyd gehou om hul laaste 40 skooldae te vier.

Die partytjie van matrikulante van die Hoërskool Noordheuwel het op ’n tyd gekom waar die skool reeds gewikkel was in ’n nuwe uitbreking van die koronavirus onder leerlinge en onderwysers.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het aan Netwerk24 gesê dat daar teen Donderdagmiddag 50 aktiewe gevalle van die virus by die skool is. “Dit sluit 43 leerlinge en sewe onderwysers in,” sê hy. Daar is ook 100 leerlinge en personeellede in isolasie.

Mabona sê geen van die virusgevalle is weens nalatigheid deur die skool nie. “Die skool het baie goeie maatreëls in plek. Die gevalle is opgedoen by die huis of sosiale geleenthede,” sê hy. Hy sê die skool is steeds oop en die departement monitor die situasie deeglik.

“Weens 40 days is vyf matrieks nou positief vir die virus getoets. Ek moes ook tussen 30 en 40 matriekleerlinge vir isolasie stuur,” sê Kriel in die video. Hy het in ’n vorige video ook by matrieks en ouers gepleit om eerder dié soort partytjies te vermy.

Kriel sê hy is veral bekommerd oor sy onderwysers se welstand weens die jongste virusgevalle. “Die aantal infeksies onder my onderwysers staan op vyf. My tweede onderwyser is gehospitaliseer. Die ander een is steeds ernstig siek.”

Weens '40 days' is vyf matrieks nou positief vir die virus getoets. Ek moes ook tussen 30 en 40 matriekleerlinge vir isolasie stuur.

Kriel doen in sy video ’n beroep op ouers om hande te vat met die skool om die uitbreking van die virus by die skool saam te beveg. “Ons moet meer verantwoordelik begin optree. Ons moet verantwoordelikheid vat vir ons kinders se optrede. Ons kan nie meer ons kinders na partytjies toe stuur nie. Dit maak nie saak of daar vyf of 50 kinders gaan wees nie. Op hierdie stadium is dit onverantwoordelik. So ek pleit by u: Vat hande met die skool. Dit maak nie saak hoeveel keer ek die skool laat skoonmaak en hoe goed my sanitasieprogram is nie. As die kinders in die aande na kuiers gaan, beteken dit niks. So ek vra u mooi, kom ons wees streng met ons kinders. Kom ons kry hulle in die huise en ons hou hulle in die huise,” pleit Kriel by sy ouergemeenskap.

Hy het Donderdag direkte navrae van Netwerk24 na die onderwysdepartement verwys. Dit het egter onbeantwoord gebly.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het Donderdag gesê hy verstaan leerlinge se frustrasies en behoefte om sosiaal te verkeer. “Dit is egter onaanvaarbaar. Die partytjie bring vir jou tydelike bevrediging. Jy stel jou lewe en jou geliefdes se lewens in gevaar en dit is beslis nie die moeite werd nie. Die leerlinge moet besef hierdie is ’n ernstig kwessie,” sê hy.

Colditz sê leerlinge is ook deesdae geneig om die virus se maatreëls as “skoolreëls” uit te maak en daarom hoef dit nie buite die skool gevolg te word nie. Hy sê hy verstaan Kriel se frustrasies omdat hy alles doen om die skool te beveilig en dan verontagsaam leerlinge die regulasies na-ure.

Die aantal infeksies onder my onderwysers staan op vyf. My tweede onderwyser is gehospitaliseer. Die ander een is steeds ernstig siek.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, het Donderdagmiddag gesê sy verneem met kommer van die partytjie wat deur die Hoërskool Noordheuwel se matrikulante gehou is. “Dit is uiters onverantwoordelik. Hoeveel keer moet ons nog vra dat die regulasies nagekom moet word? Hoe langer mense nie die regulasies nakom nie, hoe langer gaan ons in ’n derde vlaag van infeksies wees,” sê sy.

Sy sê die virusgevalle weens die partytjie sal beslis ’n impak hê op nie net die skool se aantal gevalle nie, maar ook op Krugersdorp s’n.

Meer oor:  Hoërskool Noordheuwel  |  Partytjie  |  Matrieks  |  Skoolhoof  |  Krugersdorp  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.