Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Só lyk geskorste Schweizer-juffrou se klas eintlik

Swart en wit gr. R-leerlinge in die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes het verlede Woensdag op die eerste skooldag wel bymekaar gesit.

Die vakbond Solidariteit het Donderdag die eerste keer drie ander foto’s aan Netwerk24 verskaf wat dieselfde dag geneem is as die gewraakte foto wat tot die rasseherrie gelei het. Van die fotos is reeds op 10 Januarie op Netwerk24 gepubliseer nadat dit op sosiale media gesirkuleer is.

Op die omstrede foto sit wit en swart gr. R-leerlinge apart van mekaar in die onderwyseres Elsabé Olivier se klas. Ander foto’s wat op dieselfde dag in dieselfde klas geneem is, wys egter hoe die swart en wit kinders saam by dieselfde tafels sit.

Noordwes se onderwysdepartement het nog nie bekend gemaak of Olivier geskors gaan word terwyl ’n ondersoek na die gebeure nog aan die gang is nie. Elana Barkhuizen, die ander gr. R-onderwyseres wat die foto in Olivier se klas geneem het, is egter geskors hangende die uitslag van die ondersoek.

Elana Barkhuizen se gr. R-klas die dag toe die skole verlede Woensdag begin het. Foto: Verskaf
Hierdie foto is ook met die heropening van die skole verlede Woensdag in Elsabé Olivier se gr. R-klas geneem. Die foto wat die rasseherrie veroorsaak het, is dieselfde oggend geneem. Foto: Verskaf
Elsabé Olivier se gr. R-klas die dag toe die skole verlede week heropen het. Foto: Verskaf
Die foto wat tot die herrie in Schweizer-Reneke gelei het. Dié foto is aanvanklik alleen versprei. Foto: Twitter

Lees hier Netwerk24 se dekking op die dag toe Barkhuizen geskors is en 'n foto gepubliseer is van hoe die kinders geïntegreerd sit

Solidariteit bring volgende week ’n dringende aansoek in die arbeidshof in Johannesburg dat Barkhuizen se skorsing ter syde gestel moet word omdat dit glo onwettig was.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die gewraakte foto én die ander is die oggend geneem voordat die herrie begin het. “Die foto’s wys die volle prentjie. Alles moet saam gesien word voordat afleidings gemaak word”.

Chris Klopper, bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê Noordwes se onderwysdepartement het in sy ondersoek na die foto probeer bewys dat die “geïntegreerde foto’s” gemanipuleer is om die skool en die onderwysers te beskerm.

“Dis onsin. Die foto’s is geïgnoreer omdat dit nie die bevooroordeelde politieke agenda pas nie. Hierdie poging tot verdagmakery het egter nie die toets van die waarheid deurstaan nie.”

Klopper sê dis algemene onderrigpraktyk in parallelmediumskole dat kinders volgens taalgroepe geskei word.

Barkhuizen verduidelik in hofstukke dat alle gr. R-ouers al die twee dae vóór die heropening van die skool na die klaskamers genooi is om vir hulle die klaskamers te wys en te verduidelik hoekom kinders op sekere plekke geplaas word vir hul bepaalde opvoedkundige behoeftes. Meisies en seuns word soms apart geplaas om te voorkom dat onmin die onderrigproses belemmer, en linkshandige kinders word ook só geplaas dat hulle gemaklik kan skryf.

Net so word kinders met sekere taal- en kommunikasie-hindernisse geplaas waar hulle die beste aandag kan kry. Hoewel die skool Afrikaans-medium is, word ook kinders toegelaat wat nie Afrikaans of Engels magtig is nie. Hulle word veral aanvanklik apart gehelp met die hulp van ’n Tswana-sprekende tolk. Kinders word ook deur die loop van die eerste dag rondgeskuif namate hul opvoedkundige behoeftes duideliker word.

Freddy Sepeng, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, het ontken dat die departement nie objektief is nie of ’n politieke agenda dryf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.