“Hoekom staan jy só? Is jy bang vir my? Is jy bang vir my? Hoekom is jy bang vir my? Hoekom? O, wag, want ek is ’n half-porra.”
Dít is een van talle uitlatings deur ’n leerling in skoolklere voor ’n skool, glo in Randfontein, Gauteng, voordat sy ’n medeleerling meer as een keer met die vuis bydam.
’n Video van dié bakleiery is reeds meer as 70 000 keer op Facebook gekyk, terwyl dit al meer as 5 000 keer gedeel is.
In dié video kan daar gehoor word hoe ’n ander seun die meisie aanhits en uitroep: “Wys hom hoekom hy dan moet bang wees vir jou.”
Ná die aanhitsing spring die meisie vorentoe met haar vuis gebal, maar die seun buk betyds voordat haar vuis hom kan tref.
“Moenie vir my f***** buk nie,” sê die meisie voordat sy die seun met die vuis in die gesig slaan.
Die seun probeer daarna sy gesig beskerm deur sy hande voor sy gesig te hou, maar die meisie beveel hom om sy hande weg te vat.
Wanneer hy sy hande wegvat, slaan sy hom weer in die gesig, terwyl ’n ander seun en meisie doodluiters die bakleiery op ’n kampstoel sit en aanskou.
“Kom. Kom, moet nou nie huil nie. Kom,” sê die meisie vir die seun wanneer hy ineenkrimp en teen die hek op sy hurke gaan skuil.
Sy rug is na die kamera gedraai.
Die meisie klop die seun daarna op die skouer, waarna sy wegloop.
Dié video is so baie gedeel dat daar groepe gestig is om die seun te ondersteun. Mense vaar uit teen die meisie in hul kommentaar by die video.
“Kommin man, sies. Wys wat by jou huis aangaan,” skryf een gebruiker, terwyl ’n ander meen die meisie moet geskors word.
Die meisie se ma het glo regsadvies ingewin.
Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het Donderdagoggend aan Netwerk24 gesê hulle is bewus van die video, maar gaan nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.
Netwerk24 het die betrokke skool herhaaldelik gebel, maar geen antwoord gekry nie.