Die verkose komitee vir onderwys, tegnologie, sport, kuns en kultuur het sy kommer uitgespreek oor ’n voorval by ’n skool in KwaZulu-Natal waarin ’n onderwyser na bewering ses leerlinge met kokende water gebrand het.
Luidens ’n verklaring deur die komitee is daar teenstrydige weergawes van die voorval by die Siyamukela High School in Madadeni, Newcastle.
Die onderwyser het glo op 29 September kookwater oor die leerlinge gegooi wat óf laat was vir die klas, óf tydens die klas geslaap het.
Die verkose komitee het die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro) se besluit om hulle eie ondersoek te doen verwelkom. Hy het ’n beroep op Saro, asook die onderwysdepartement in KwaZulu-Natal, gedoen om hulle ondersoeke spoedig af te handel.
Die komitee sê hy veroordeel enige geweld teen leerlinge en streng dissiplinêre optrede van dié aard ten sterkste, ongeag die rede daarvoor.
“Dít is nie ’n vorm van dissipline nie, dis ’n vorm van mishandeling. Ons sal nie onderwysers toelaat om hulle frustrasies op ons leerlinge uit te haal nie,” sê Elleck Nchabeleng, voorsitter van die komitee.
Hy sê dit is ’n oortreding van die Skolewet, wat lyfstraf by skole verbied.
Muzi Mahlambi, woordvoerder vir die provinsiale onderwysdepartement, en die onderwysvakbond Sadtu het nie Sondag op navrae reageer nie.