Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Laerskole het groter steun nodig – kenners
Foto ter iilustrasie.

Die departement van basiese onderwys sal meer hulpbronne na laerskole moet skuif as hulle wil verseker meer leerlinge slaag matriek, meen kenners.

’n Nuwe verslag deur die Universiteit Stellenbosch (US) se navorsingseenheid oor maatskaplik-ekonomiese beleid (Resep), het bevind onredelike inmenging van vakbonde, ’n gebrek aan kennis en vaardighede by onderwysers en vermorste onderrigtyd en -geleenthede in laerskole is van die hoofredes waarom leerlinge in die grondslagfase onderpresteer.

Dit blyk uit die navorsing dat slegs die helfte van laerskoolleerlinge die basiese minimum hoeveelheid werk gedoen het om die hele kurrikulum te dek. Meer as 80% van leerlinge in plattelandse laerskole het slegs een bladsy wiskunde en taal per dag in hul werkboeke voltooi.

’n Groot deel van die probleem lê by die feit dat onderwysers te veel verlof neem. Die gemiddelde gr. 6-onderwyser is 19 dae per jaar uit die klas afwesig. By die armste skole is dié getal heelwat hoër.

“Meer as ’n driekwart van alle verlof word vir een of twee dae geneem – dus dié verlof waarvoor jy nie ’n mediese sertifikaat hoef te toon nie,” lui die verslag.

’n Tweede verslag deur die navorsers, getiteld Identifying Binding Constraints in Education, dui aan dat ’n disproporsionele hoeveelheid hulpbronne aan hoërskole toegeken word, terwyl laerskole nie genoeg steun ontvang nie.

Robyn Beere, direkteur van Inclusive Education, sê alle navorsing dui daarop dat as die grondslag van ’n kind se onderrig nie goed is nie, hy vir die res van sy loopbaan gaan sukkel en daarom is dit so belangrik dat meer steun aan laerskole gebied word.

“As iemand vir jou sê om jou naam te skryf, maar jy het nog nie eers geleer hoe om ’n pen vas te hou nie, hoe kan jy dit doen? Hoe vroeër ons die struikelblokke kan identifiseer, hoe beter. Daarom is dit uiters belangrik dat ons meer hulpbronne en aandag aan die grondslagfase skenk,” het sy gesê.

Prof. Servaas van der Berg, onderwysekonoom aan die US, sê dit is nodig om ouers, wat dikwels self nie kan lees nie, bewus te maak van die feit dat hul kinders sukkel, sodat hulle druk kan uitoefen op laerskool-onderwysers.

“As ons dit kan regkry dat alle kinders teen die einde van gr. 3 met begrip lees, sal ’n klomp ander dinge in plek val,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.