Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Land is reg vir matriek-eksamen – Umalusi

Umalusi is tevrede met die maatreëls vir ’n geloofwaardige nasionale seniorsertifikaateksamen wat landwyd op 23 Oktober afskop.

Dié raad vir gehalteversekering in algemene en hoër onderwys het tussen 11 September en 1 Oktober ’n oudit van die departement van basiese onderwys se gereedheid vir die 2019-matriekeindeksamen gedoen.

Umalusi het Woensdag ’n voorlegging oor die oudit aan die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys gedoen.

Mary Louise Madalane, senior bestuurder vir evaluasie en akkreditasie by skole, het aan LP’s gesê die registrasie van alle kandidate is afgehandel en unieke eksamennommers is aan hulle toegeken. ’n Stel vraestelle vir vanjaar se eksamen is ook einde Augustus deur Umalusi gemodereer en goedgekeur.

Madalane sê 629 179 voltydse en 122 471 deeltydse kandidate was op 30 September landwyd vir die eksamen geregistreer.

Die oudit het op verskeie aspekte gefokus, waaronder bestuur, die registrasie van kandidate, die druk, verpakking en verspreiding van vraestelle en die aanstel van nasieners.

’n Groot personeeltekort is gevind in die eksamenafdelings van provinsiale departemente in Limpopo, die Noord-Kaap, Mpumalanga, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Noordwes en die Oos-Kaap.

“Die departement het egter maatreëls getref om aandag te gee aan die tekorte, soos personeel wat bereid is om oortyd te werk of om bykomende werk te doen om te verseker die eksamenwerk word gedoen,” het Madalane gesê.

Provinsiale departemente sal ook alle antwoordstelle by eksamenlokale skandeer. “Ons vind dit is baie belangrik, want ons kry soms versoeke van provinsies oor sekere antwoordstelle wat vermis geraak het. As dit geskandeer word, sal ons kan vasstel waar die probleem ontstaan het.”

Antwoordstelle sal ook geskandeer word wanneer dit by die stoorsentrum aankom, en weer wanneer dit by ’n nasiensentrum aankom.

’n Tekort aan nasieners vir sekere vakke in sommige provinsies is ook volgens Madalane geïdentifiseer.

In die Noord-Kaap is ’n tekort aan nasieners vir landboustudies en Afrikaans. Umalusi het die provinsie gevra om uiteen te sit hoe hy dié situasie gaan hanteer as genoeg nasieners nie teen die teikendatum gevind word nie.

In die Wes-Kaap was daar teen die tyd van die oudit ’n tekort aan nasieners vir geskiedenis vraestel 2, terwyl Gauteng ’n tekort aan nasieners ondervind het vir Engels vraestel 3.

Die Oos-Kaap het ’n tekort gehad aan nasieners vir Engels eerste addisionele taal, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe en Afrikaans. Reëlings is met die Vrystaat getref om die Oos-Kaap te help met die merk van vakke met ’n groot tekort aan nasieners. Limpopo het ’n tekort aan nasieners vir Engels huistaal en Afrikaans gehad.

Dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, het gesê die tendens oor jare is dat die opdragte wat dié instelling aan onderwysdepartemente gee, ernstig opgeneem word.

“Met ons verifikasie oor die vlak van gereedheid, is ons tevrede dat die departement maatreëls getref het om te verseker dat die eksamen geloofwaardig sal wees.”

Meer oor:  Matriekeksamen  |  Mary Louise Madalane  |  Umalusi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.