Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Langer vlak 4-inperking kan skole erg terugsit

As pres. Cyril Ramaphosa besluit Suid-Afrika bly steeds op vlak 4 van inperking kan dit die onderwysdepartement se plan in die wiele ry om alle kinders teen 2 Augustus heeltyds terug by die skool te hê.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: GCIS

Alle skole heropen Maandag, maar die plan is laerskole met beperkte kapasiteit, wat voor die vakansie net op ’n rotasiebasis oop was, se leerlinge sal tot 2 Augustus steeds roteer.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, het egter Saterdag toegegee dat onderwysowerhede mooi sal moet besin oor die 2 Augustus-plan as die land ná vandag steeds op inperkingsvlak 4 is.

“Die ROM (raad van onderwysministers) sal dan (as vlak 4 in werking bly) die besluit versigtig moet evalueer om al die laerskoolkinders terug te stuur.”

Dit kom terwyl data en onderwyskenners aantoon dat die land se leerlinge akademies reeds in bitter groot moeilikheid is.

Motshekga sê as sy haar sin kon kry, was laerskoolkinders al in die tweede kwartaal heeltyds terug. “Ons voel as iets drasties nie gebeur nie, wag ’n katastrofiese toekoms met ’n generasie wat twee jaar se skool sou verloor.”

‘Dan wag daar ’n katastrofe.’

As dinge verkeerd gaan in die laerskool, gaan dit baie moeilik wees om daardie skade later te beredder, sê sy. Sy het erken daar is “groot probleme” op hoërskoolvlak ook.

Motshekga sê al is “baie” geld bestee aan radio- en televisieprogramme om die kinders te help inhaal, “is dit nie baie effektief nie”.

Die mees onlangse Nids-Cram (National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey)-studieverslae, wat onder meer die impak van die pandemie op die onderwyssektor meet, het gewys in die slegste gevalle het sommige laerskoolkinders tot een hele jaar se leerverlies getoon. Die navorsers reken leerverlies vir kinders in kwintiel 1- tot kwintiel 3-skole kan tussen 70% en 100% beloop.

Minstens 126 skole en leersentrums in KwaZulu-Natal is geplunder, besteel of aan die brand gesteek tydens verlede week se oproer. Kabels, heinings, rekenaartoerusting, kombuisware en watertenks is gesteel en skoolbiblioteke is aan die brand gesteek. Daar word dié naweek geskarrel om mobiele klaskamers en 20 stowe, waarmee kos vir die skoolvoedingskema berei word, voor môre te vervang. Na raming beloop die skade meer as R300 miljoen, sê Motshekga.

Ondanks die grootskaalse inentingsveldtog teen Covid-19 is daar steeds onderwysers wat bang is om terug te keer skool toe.

’n Matriekonderwyser by ’n groot skool in Pretoria sê hoewel sy ingeënt is, is sy tog bekommerd.

“Ek weet nie waar die kinders die vakansie was nie. Om ingeënt te wees beteken nie ek kan dit (Covid-19) nie kry nie.”

“Almal is onseker. Ons mag vir ’n maand nie Gauteng verlaat nie, maar almal moet terug skool toe? Die dubbelstandaarde maak my moeg.”

Intussen het die uurglas leeggeloop vir die sowat 16 000 onderwysers wat weens onderliggende siektetoestande van die huis kon werk.

Almal moet Maandag terugkeer skool toe, ook dié met onderliggende siektetoestande.

Luidens ’n omsendbrief wat Vrydag aan provinsies gestuur is sal onderwysers wat die inenting om mediese redes geweier het ’n gedetailleerde mediese verslag moet indien wat aandui dat dit ’n wesenlike gesondheidsbedreiging inhou sou hulle die entstof ontvang of dat hulle allergies is daarvoor.

Onderwysers wat weier om op te daag vir werk, of diegene wat weens siekte as ’n hoë risiko geag word en nié andersins geakkommodeer kan word nie, kan in sommige gevalle afgedank word.

Dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê dit gebeur maar in elke werkplek. Die skool is ook ’n sakeonderneming, sê hy.

Meer oor:  Mathanzima Mweli  |  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Inperking  |  Skole Heropen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.