Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Leer eers in Afrikaans, en jy kom verder ...’
Die sang-duo Die Jaloersbokkies – Nedine Blom en Jawaahier Petersen – was ook by die bekendstelling van Afrikaans.com, Fedsas en die Dagbreek Trust se skole-muurkunsprojek. Foto: DANIE VAN WYK

Engels is dalk die wêreldtaal en dis “mos smart” om jou kind van vroeg af in Engels te laat leer, maar leer éérste in Afrikaans en jy sal sien hoe jy verder in die wêreld kan kom.

Dit was die woorde van dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Dagbreek Trust, Vrydag aan leerlinge van Ravensmead Sekondêre Skool waar die Dagbreek Trust ’n muurkunsprojek bekend gestel het.

Afrikaans.com en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) is aan die stuur van sake van hierdie projek. Luidens ’n persverklaring poog Afrikaans.com met dié projek om deur kleurvolle muurskilderye wat binne die gemeenskap se konteks verstaan word, die lekker en positiewe van Afrikaans in skoolverband uit te lig.

Johan Crous, Henry Botha en Llewellyn Brown – al drie adjunkbestuurderders van Fedsas in die Wes-Kaap – asook dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Dagbreek Trust, en Danie van Wyk, bestuurder by die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust in die Wes-Kaap, by die bekendstelling van die muurkunsprojek by die Ravensmead Sekondêre Skool. Foto: VERSKAF

“Die Afrikaans.com-span verf een muur by elk van die deelnemende laer- en hoërskole en plaas foto’s en videomateriaal op sosiale media,” verduidelik Eloff.

“By laerskole woeker die muurkuns met woorde wat lees en verbeelding aanmoedig en word leerlinge aangemoedig om Afrikaans met passie en oorgawe te geniet en te gebruik. Daar word ook ’n wen-klas gekies wat ’n biblioteek-in-’n-boks ontvang.

“By hoërskole sal leerlinge aangemoedig word om onder die hutsmerk #droomgroot17, op sosiale media deel te neem aan ’n kompetisie.”

Eloff sê die situasie in die Wes-Kaap is anders as in die Noorde waar Afrikaans as moedertaal bedreig word.

Die “goeie” posisie van Afrikaans in die Wes-Kaap moet egter nie as vanselfsprekend aanvaar word nie, maan hy.

Hy het baie klem gelê op die belang van moedertaal-onderrig.

“Moenie Engels los nie, maar leer in Afrikaans. ’n Mens leer byvoorbeeld wiskunde beter in Afrikaans,” het hy gesê.

“Ongelukkig is daar baie ouers wat meen hoe vinniger ek my kind in Engels laat skoolgaan, dit beter vir my kind gaan wees. Dis mos ‘smart’.

“Maar ek wil sê dit ís nie smart nie. Natuurlik is Engels belangrik – dis die wêreldtaal – maar jy moet eerste in Afrikaans leer, dan kan jy verder in die wêreld gaan.”

Hy het die name van sakelui soos Koos Bekker genoem wat destyds in Afrikaans gestudeer het en vandag ’n voorste wêreld-sakeleier is.

“Moenie laat iemand jou vertel jy móét in Engels gaan studeer en dat dit jou verder gaan vat nie.”

Afrikaans.com, Fedsas en die Dagbreek Trust het muurkunsprojek bekend gestel by die Sekondêre Skool Ravensmead. Van links is Luciano Saunders, Tyron Lanez en Joseph Cloete by die Afrikaans.com-span, René Arendse (naaslinks) en Jessica Wright (naasregs).Foto: VERSKAF
Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.