Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Leerkrag wat kind ‘aanrand’, gee dalk nooit weer skool

’n Onderwyser mag dalk nooit weer klas gee nie nadat hy in ’n ondersoek daaraan skuldig bevind is dat hy ’n gr. 5-leerling van ’n laerskool in Tafelsig, Kaapstad, “ernstig aangerand” het.

Die saak het voor die raad vir arbeidsverhoudinge in die onderwys, die sektorale bedingingsraad, gedien en daar is bevind dat Abdul Galant, ’n voormalige onderwyser van Huguenot Primary School, die leerling met die vuis in die gesig en maag geslaan het tydens ’n onderonsie in 2019.

Die onderonsie het gekom nadat Galant die leerling verbied het om toilet toe te gaan en die leerling dit geïgnoreer het.

Huguenot Primary School in Tafelsig, Mitchells Plain. Foto: Google Maps

Galant het ontken dat hy die kind geslaan het en gesê die kind is ’n “gereelde sondaar”. Hy het volgehou dat hy bloot die kind aan die skouers gegryp het, en dat die kind gedreig het om hom van aanranding aan te kla.

Gail McEwan, wat die voorval namens die raad ondersoek het, het die leerling se weergawe van gebeure aanvaar “omdat dit strook met dié van ander ooggetuies”.

Daarbenewens het die leerling se gesig dae ná die voorval opgeswel en gekneus gelyk.

’n Afskrif van die uitslag van haar ondersoek is na die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro) gestuur, met die aanbeveling dat Galant se onderwyssertifikaat teruggetrek word.

Alle onderwysers moet by Saro registreer en dié raad reguleer onderwysers in die private en die openbare sektor. Die raad is by magte om iemand te verbied om ooit weer as onderwyser te werk.

Luidens McEwan se verslag het die leerling getuig dat hy en sy klasmaats op die betrokke dag in ’n ry gestaan het om kos te kry by die skool se voedingskema toe die leerling Galant vra of hy toilet toe kan gaan.

Galant was daardie dag in beheer van die voedingskema.

Toestemming is geweier, maar die leerling is nogtans saam met ’n groep vriende toilet toe.

Galant het die klompie daar vasgetrek, maar die meeste van hulle het weggehardloop.

Luidens McEwan se verslag het Galant die seun “twee keer hard in die gesig geslaan” en ook in die maag.

Hierna het die leerling weggehardloop, met Galant agterna. Brunhilde Hartnick, die skoolhoof, het die twee naby die hek van die skool gekry.

Galant het weggeloop en die leerling het Hartnick vertel van die onderonsie en die beweerde aanranding.

Die leerling het luidens die verslag erken dat hy verkeerd was om Galant se opdrag te ignoreer, maar voer aan hy het ’n groot nood gehad.

Hartnick het getuig dit was nie die eerste voorval waarby Galant betrokke was nie.

Hy is in 2018 met R5 000 beboet en het ook ’n finale skriftelike waarskuwing gekry nadat hy ’n leerling met sy hand gestoot het.

Hy het ook in 2017 ’n skikkingsooreenkoms aangegaan waarin hy met R3 500 beboet en skriftelik gewaarsku is. In dié voorval het hy ’n leerling aangerand deur haar met ’n boek in die gesig te gooi, is getuig.

McEwan sê in haar verslag lyfstraf word nie meer toegelaat nie en net omdat die leerling nie mediese hulp gesoek het ná die voorval nie, beteken nie dat die saak nie ernstig is nie.

“Galant se optrede was wetlik en moreel afkeurenswaardig,” sê McEwan in haar verslag. Sy het bevind dat Galant nie geskik is om weer met kinders te werk nie.

Galant se verteenwoordiger wou nie met die media praat nie.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het die besluit verwelkom.

“Ons het geen verdraagsaamheid ten opsigte van die mishandeling van ons leerlinge nie,” sê Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD.

Meer oor:  Kaapstad  |  Tafelsig  |  Onderwyser  |  Skool  |  Aanrand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.