’n Laerskoolleerling se afskeidsbriefie het vandeesweek ’n Bloemfonteinse onderwyseres se hart vermurwe nadat sy ’n onblusbare liefde vir Afrikaans by die kind kon kweek.
Helena Nolte, ’n remediërende onderwyseres (RO) vir gr. 5’s in die privaatskool Eduplus in Langenhovenpark, sê Linako Mtati (gr. 7), wie se huistaal Xhosa en eerste taal Engels is, kon soos talle ander wat by die skool aankom, nie ’n woord Afrikaans praat of verstaan nie.
In die brief, wat Linako op haar laaste skooldag vir Nolte gegee het voordat sy terug is na Port Elizabeth, skryf sy nadat sy by Nolte in die klas begin het, het sy “verlief” op Afrikaans geraak.
“My punte het begin styg en ek het die taal baie geniet.”

Linako Mtati (gr. 7) Foto: Verskaf
Nolte was nie net haar onderwyseres nie, skryf sy verder, maar ’n ma vir haar.
Nolte sê sy is baie trots op die briewe wat sy van haar leerlinge kry, en hou elkeen.
Omdat Afrikaans haar na aan die hart lê, kom die leerlinge se belangstelling spontaan, meen sy.
“Ons maak so baie grappies en het so baie lekkerte in die klas.”
Sy sê daar is talle leerlinge, van so ver as Egipte, wat nie ’n woord Afrikaans kan praat nie.
“Dan vat ons sommer ’n boekie en vertaal woord vir woord, soos vir ’n klein babatjie.”

Die brief wat Linako Mtati aan haar onderwyseres Helena Nolte geskryf het. Foto: Verskaf
Sy meen dis wonderlik hoe kinders van nature soos sponse is. ’n Duitse meisie het net Afrikaans begin leer danksy die lesse wat Nolte aan haar medeleerlinge gegee het.
Dan is daar ’n Zimbabwiese leerling wat ook nog geen blootstelling aan Afrikaans gehad het nie. Nolte onthou dié leerling se eerste dag.
“Ons twee gaap mekaar aan. Dan begin jy net en ons wys maar klein prentjies. O, hulle is lief vir diere! Dan werk ons dit uit en dan gróéi dit net!”
Sy sê Linako het omtrent uitgeskiet en presteer in Afrikaans.
Sy was in 2019 in Nolte se klas, maar sy het elke nou en dan by haar vorige juffrou se klas aangegaan om met haar punte vir ’n mondeling of opstel te gaan spog.
Sy het Linako se nommer op haar selfoon as “Linako my Afrikaanse kind” gestoor.
“Ek is oneindig trots op haar.”