Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Leerlinge in Vrystaat kry klas oor radio
Young woman recording a podcast in a studio, close

Vrystaatse leerlinge wat tuis sit weens die staat van inperking, moet weet hulle is nie met vakansie nie, maar hulle moet hard werk by die huis.

Gemeenskapsradiostasies gaan ingespan word om skoollesse van gr. 12-leerlinge aan te bied en vakadviseurs van die Vrystaatse onderwysdepartement gaan daarmee help. Leerlinge sal op ’n spesiale Facebookblad van die departement vrae kan vra as hulle vashaak. Onderwysers sal hulle dan help en die antwoorde verskaf.

So het Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, Donderdag in Bloemfontein gesê op ’n nuuskonferensie waar Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, en haar LUR’e gepraat het oor hul planne vir die 21 dae van inperking.

Makgoe sê verskeie selfoonmaatskappye soos Vodacom, MTN, Cell C en ander gaan data gratis aan Vrystaatse leerlinge beskikbaar stel sodat hulle hul skoolwerk aanlyn kan doen.

“Leerlinge sal moet aanpas en leer om met behulp van sosiale media te leer sonder dat daar ’n onderwyser voor in die klaskamer staan.”

Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys

Gr. 12-leerlinge sal al hul vrae op ’n spesiale Facebookblad kan vra, soos byvoorbeeld ’n wiskundeprobleem waarmee hulle vashaak en dan sal die antwoord daar verskaf word.

Almal sal met die gewone skoolprogramme moet aangaan asof skole oop is, sê Makgoe.

Hy het leerlinge ook gemaan om alles tuis en dit wat hulle gebruik om mee te leer, gereeld diep te reinig en om persoonlike higiëne toe te pas en gereeld hul hande te was.

Hy sê die Vrystaatse onderwysdepartement het ’n program aan die gang gesit om skooltoilette veral baie mooi skoon te maak. Siekekamers by skole sal ook ontsmet word en met maskers en handskoene toegerus word sodat leerlinge wat siek word wanneer die skole heropen het, daar geplaas kan word.

“Ons gaan die gesondheid van ons leerlinge eerste stel, sonder om skoolwerk te verwaarloos.”

Makgoe sê dit is duidelik dat meer verpleegkundiges in die toekoms by skole aangestel sal moet word, veral waar skole koshuise het. ’n Geïntegreerde program vir maatskaplike gesondheid gaan by skole geïmplementeer word en ouers sal ondersteun word.

“Ons gaan wenke aan ouers stuur oor hoe hulle kinders oor die lang tydperk tuis kan hanteer en om kinders se angstigheid so te bestuur dat die kinders nie mismoedig terugkom skool toe nie. Hulle moet uitsien daarna om weer skool toe te kom wanneer dit kan gebeur.”

Makalo Mohale, Vrystaatse LUR vir ekonomiese sake, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake, sê hotels en lodges in die Vrystaat word gesluit, maar van dié plekke gaan as hospitale ingerig word met beddens vir siek mense wat onder kwarantyn geplaas moet word.

Hy sê alle sjebiens en tavernes in die Vrystaat word ook gesluit en geen uitsondering sal gemaak word nie. Kosstalletjies op straat is ook almal gevra om te sluit en smouse sal nie in die tyd met hul sakebedrywighede op straat mag voortgaan nie.

Makalo Mohale, Vrystaatse LUR vir ekonomiese sake, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake

Mohale sê die verligtingsfonds vir kleinsakeondernemings met ’n omset onder R2,5 miljoen per jaar, moet geregistreerde sakeondernemings wees wat aan sekere wetlike vereistes voldoen voordat hulle vir verligting kan vra om werkers te betaal.

Dit is meestal sakeondernemings met swart eienaarskap wat by die fonds sal baat vind omdat van die vereistes is dat hulle 70% swart-eienaarskap moet hê, dat 50% vroue moet wees en 30% gestremdes. Die ondernemings moet ook al langer as drie maande bestaan en vir werkloosheidsversekering vir werkers geregistreer wees.

Spaza-winkels moet gelisensieerd wees en deur Suid-Afrikaners besit word om vir hulp in aanmerking te kom.

Mohale sê die afdeling van sy departement wat veeartsenydienste lewer en die antistropingseenheid sal met hul werk voortgaan.

Gadija Brown, Vrystaatse LUR vir finansies, sê die Covid-19-pandemie gaan die Vrystaatse ekonomie ’n harde slag toedien, maar dat hulle meganismes in plek gesit het om te kan herstel.

“Ons wil die belange van alle Vrystaters voorop stel. Ons gaan beskermingstoerusting soos handskoene, maskers, reinigers en ander noodsaaklike middels en toerusting by Vrystaatse mense koop sodat hulle kan oorleef.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.