Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Leerlinge lê leeg in G’stad oor gevaarlike skoolgeboue
Die gehawende geboue van die Laerskool Anderson in Griekwastad. Foto: Verskaf

Sowat 900 skoolkinders dwaal doelloos in die strate van Griekwastad rond terwyl die skoolterrein van die Laerskool Anderson ’n “rommelterrein van gevaarlike geboue geword het”.

’n Diep kraak in ’n balkon se vloer van een van die skoolgeboue. Foto: Verskaf

So sê Henk Brand, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), wat die skool Woensdag besoek het.

Dit volg nadat ouers die skool op die eerste skooldag gesluit het weens vrese vir hul kinders en die onderwysers se veiligheid. Die ouers het toe geëis dat die onderwysdepartement 17 mobiele klaskamers by die skool oprig.

Die vyf mobiele klaskamers wat intussen afgelewer is, is volgens Brand ook in ’n haglike toestand en gevaarlik.

“Daar is geen plafonne nie, die vloere is stukkend, die isolasiemateriaal hang uit en een van die klaskamers kort ’n vierde muur.”

Hy sê dis onmenslik en vernederend van die departement om van die onderwysers en kinders te verwag om van dié mobiele klaskamers gebruik te maak. Hy meen die amptenare gee nie om nie.

“Die mobiele klaskamers is net so gevaarlik soos die skoolgeboue. Die skoolgeboue moes lankal gesloop word. Die mure, trappe en vloere kraak, die houtmure tussen die klaskamers is vol gate en die plafonne hang uit. Boonop is die dak van asbes gemaak, wat hoogs gevaarlik is. Die onderwysers sê daar sif gedurig stof op hulle. Hulle vrees dit is asbes, wat ernstige gesondheidsgevare inhou.

Een van die mobiele klaskamers wat afgelewer is, skort ’n vierde muur. Foto: Verskaf
Die plafonne in die bestaande klaskamers val uit. Foto: Verskaf

“Dit is nie asof die departement eers onlangs van die probleme gehoor het nie. Die ouers kla al jare lank. Intussen het die pragtige ou klipgebou van die skoolkoshuis by die hoërskool afgebrand. As die departement dit spoedig herstel het, kon die leerlinge daar onderrig ontvang het.

“Die onderwysers moet daagliks vir diens aanmeld. Al die voorbereiding vir die skooljaar is gedoen. Nou sit hulle vir sewe uur in die skoolkoshuis en niksdoen, wat hoogs frustrerend is.

Die ou hoërskoolkoshuis wat ’n paar jaar gelede afgebrand het, is steeds nie herstel nie. Foto: Verskaf

“Wat gaan van die 900 skoolkinders in die geweldige arm gemeenskap word as hulle nie skoolgaan nie en in die strate ronddwaal?”

Brand gaan sy klagtes in ’n brief aan die departement en sy vakbond se hoofkantoor rig.

Geoffrey van der Merwe, departementele woordvoerder, sê hulle is daarvan bewus dat daar nog geen onderrig vanjaar by die skool plaasgevind het nie.

“Die departement ondervind ’n ernstige vertraging in die aflewering van mobiele klaskamers. Die bestaande geboue kan weens die gevaarlike toestande nie gebruik word nie.

“Ons is besig om ongebruikte mobiele klaskamers van ander skole af te verskuif. Dit is ’n tydrowende proses. Ons kan net een klaskamer per dag aflewer. Die gemeenskap het 17 klaskamers geëis.

“Ons versoek die gemeenskap om die kinders te laat skoolgaan soos wat die mobiele klaskamers afgelewer word. Die situasie is betreurenswaardig en ons probeer ons bes om dit spoedig op te los.”

Meer oor:  Saou  |  Griekwastad  |  Gevaarlik  |  Verwaarloos  |  Onderwysdepartement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.