Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Leerlinge maskers en al terug skool toe

Met maskers, reiniger en maatreëls om ’n veilige afstand te verseker, het skole in die Wes-Kaap Maandag hul gr. 7- en gr. 12-leerlinge ontvang.

Die leerlinge het die oggend met hul aankoms ’n siftingsproses ondergaan en deur die dag voorligting oor die maatreëls tydens die staat van inperking ontvang.

By sommige skole is daar reeds klas gegee, terwyl van die leerlinge aanlyn met hul skoolwerk kon byhou.

Matrieks van die Hoër Jongenskool Paarl staan Maandag op ’n skoolveld en behou ’n veilige afstand van mekaar op die eerste dag dat gr. 7’s en gr. 12’s in die Wes-Kaap na hul skole terugkeer. Foto: Verskaf

In Bellville, Kaapstad, het 93% van die Hoërskool D.F. Malan se matrieks opgedaag, maar dié met onderliggende toestande het tuis gebly.

“Groter vertrekke is vir groter klasse gebruik, en ons het eenrigting-gange geskep sodat leerlinge kan rondloop sonder te veel kontak met mekaar,” sê Samantha Prinsloo, bemarker by die hoërskool.

“Ons het ook die pouses geskuif na verskillende tye en die leerlingraad het twee video’s gemaak om vir die leerlinge te verduidelik hoe die reëls werk.”

Matrieks van die Hoërskool Bellville in Kaapstad ontvang oriëntering oor die skool se veiligheid- en gesondheidsplan. Foto: Verskaf

Hoewel die matriekonderwysers terug is, gaan die res voort met afstandleer en help sekere ander personeel ook met die siftings.

Die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch het 117 van sy 131 matrieks ontvang.

“Die algemene gevoel is dat ons versigtig is om terug te wees, maar gereed is om matriek te voltooi,” sê Stephan Meyer, kommunikasiebestuurder.

Die matrieks se “leuse” vir die jaar is “own every second”.

Theo Pellissier, hoof van die Hoërskool Stellenbosch, neem die koors van Rafeeqah Agnew, hoofdogter. Foto: Verskaf

Byna al die matrieks van die Hoër Jongenskool Paarl het opgedaag, met enkeles wat nog “ingery” word, het Derek Swart, die hoof, gesê.

“Ons is baie tevrede met hoe dinge verloop. Die personeel is ook baie positief. Ek dink die manne besef nou daar moet ingespring en gewerk word.”

Roshin Ramawoothar, hoof van John Ramsay Sekondêr in Bishop Lavis, sê die skool was slaggereed vir sy matrikulante, maar net 17 van die 95 het opgedaag.

Die matrieks gaan deur die siftingsproses by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Foto: Verskaf

Hy hoop dat meer leerlinge van Dinsdag af sal kom, maar sê hy weet ook dit hang alles af van wat Angie Motshekga, minister vir basiese onderwys, die oggend op haar mediavergadering sou sê.

“Ons het vandag oriëntasie gedoen met die leerlinge wat wel hier was om vir hulle te sê hoe die skooldag vorentoe gaan lyk, wat ons en hulle gaan doen en nie gaan doen nie.”

Ramawoothar sê hulle wag nou net op die aangepaste kurrikulum vir gr. 8 tot gr. 11, sodat die onderwysers se voorbereiding daarvoor kan begin.

Die gr. 12-leerlinge van die Worcester Gimnasium staan Maandagoggend tou om in te gaan. Foto: Verskaf

By die Kairos- Sekondêre Skool in Heidelberg in die Suid-Kaap het 40 van die skool se 52 leerlinge opgedaag.

“Opleiding is gegee en ’n oefenlopie met klaswisseling is gedoen. Die leerlinge is positief en gee goeie samewerking. Die personeel werk baie goed saam en is tussen die leerlinge,” sê Vivian Prins, die hoof.

Liezel Visagie, hoof van die Kampsbaai Laerskool, sê die leerlinge se eerste dag terug het baie goed verloop.

Visagie het reeds Sondag ’n video aan die leerlinge gestuur waarin sy verduidelik wat die prosedures met hul aankoms sal wees. Leerlinge word eers gesif vir simptome, waarna klasse om 08:15 begin.

‘n Plakkaat hang Maandag buite die Kairos- Sekondêre Skool in Heidelberg om leerlinge te herinner om ’n veilige afstand te handhaaf. Foto: Verskaf

Van die 66 gr. 7-leerlinge, het 46 opgedaag. Leerlinge is ingelig oor die regulasies, dra maskers en behou ’n veilige afstand van mekaar, binne en buite die klaskamer, sê Visagie.

“Die kinders was baie stil vanoggend, maar het hul volle samewerking gegee.”

Visagie het met behulp van Google Classrooms met die kinders gepraat en ook self na die klaskamers gegaan om te sien dat alles goed verloop.

Tydens pouse moet die leerlinge ook ’n veilige afstand handhaaf.

Hannelie van Lill, bemarker van die Hoërskool Bellville, het bevestig dat 197 van die matrieks (85%) opgedaag het en die oggend deur die siftingsproses is.

Lisa Kruger van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch staan voor ’n banier wat die matrieks Maandag verwelkom het.Foto: Stephan Meyer

Die leerlinge se koors word met ’n skandeerder geneem, waarna hulle ’n QR-kode met hul selfone skandeer om die vrae vir die siftingsproses te antwoord.

Teen die einde van die skooldag is daar reeds vier periodes klas gegee, sê Van Lill.

Die skool het ook die wisseling van klasse so gereël dat die leerlinge altyd in een rigting beweeg en dus nooit by mekaar verbygaan nie.

Intussen ontvang tussen 70% en 96% van die leerling afstandonderrig aanlyn.

Kwaku Achiano, ’n matriekleerling van Paul Roos Gimnasium, se koors word gemeet. Foto: Francois Louw

By Paul Roos Gimnasium het ’n gees van opwinding geheers met die aankoms van die matriekleerlinge.

“Leerlinge is positief, maar verstaan die erns van die situasie en verwag dat daar streng opgetree moet word teen leerlinge wat nie die veiligheidsmaatreëls nakom nie,” het die skool by navraag gesê.

Uit die 248 matrikulante het 18 nie opgedaag nie, sowel as 5 leerlinge uit Namibië wat in kwarantyn is.

 Paul Roos Gimnasium
Leerlinge van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch stap in die gange en behou ’n afstand van mekaar. Foto: Francois Louw

Minder as 20 leerlinge het vooraf aangedui dat hul onderliggende siektes het, maar dit is meestal respiratoriese toestande wat onder beheer is. Hul ouers het hul dus laat skool toe gaan.

“Ons herinner die leerlinge voortdurend aan die voorskrifte rondom ’n gesonde afstand. Daar is merkers op die grond aangebring om hulle met die intrapslag gewoond te maak daaraan om hul afstand te handhaaf. Daar is ook kennisgewingborde oral op die terrein aangebring.”

By die Hoërskool Stellenbosch is die gr. 12-groep in twee verdeel. Groep A loop klas op Maandae en Woensdae en groep B op Dinsdae en Donderdae. Vrydae is beskikbaar vir individuele afsprake met onderwysers as leerlinge hulp benodig.

“Vanoggend se groep was klein met sowat 51 leerlinge,” sê Eileen de Beer, die skool se bemarkingsbeampte.

“Dié wat nie opgedaag het nie, was hoofsaaklik leerlinge met onderliggende siektes, asook leerlinge met ouers wat verkies dat hulle eerder aangaan met ons aanlyn klasse.”

Die klasse se sitplekke is verder uitmekaar geskuif en verskillende stelle trappe is gemerk vir op- en afstap.

- Malherbe Nienaber, Maygene de Wee, Jackie Kruger, Jana Breytenbach, Suzaan Potgieter en Ané van Zyl.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Maskers  |  Skool  |  Reiniger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.