Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Leerlinge, onnies moet gewoond raak aan tuisleer

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê die departement van onderwys se jongste aankondiging is ’n aanduiding dat skole moontlik moet regmaak vir ’n langer sluiting en hulle moet voorberei op die gebruik van ’n gemengde leermodel.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdag gesê weens die onsekerheid oor die gevolge van die Covid-19-uitbreking is dit nie nou al moontlik om te sê wanneer die skole sal heropen nie.

Fedsas sê onderwysers, ouers en leerlinge kan die tyd gebruik om gewoond te raak aan die konsep van elektroniese leer (e-leer).

Volgens Riaan van der Bergh, onderwystegnologiebestuurder van Fedsas, is die uitdaging vir onderwysers om hulle voor te berei vir die inwerkingstelling van ’n gemengde leermodel.

“Hierdie tyd is ideaal om nuwe vaardighede aan te leer en om ook lesse voor te berei om jou werklading vir later vanjaar te verlig.

“Ons weet nie hoe afwesighede weens siekte en ouers se voorkeure vorentoe gaan lyk nie. Afwesighede kan dalk toeneem ná die staat van inperking. Dit sal dan help as daar aanlyn lesse is,” verduidelik hy.

Met min infrastruktuur en goedkoop of selfs gratis sagteware en platforms kan die beperkte tyd van ’n opvoeder nou gedupliseer word. ’n Les se reikwydte strek verder en hoewel die salariskoste nie verminder nie, vermeerder die waarde vir geld en die onderwyser se tyd word gedupliseer.

Een van die voorstelle is om lesse op te neem en op ’n sentrale hardeskyf of in ’n “wolk” te stoor. Dié lesse kan dan deurlopend gebruik word om onder meer werk in te haal en vir hersiening en eksamenvoorbereiding.

“Met min infrastruktuur en goedkoop of selfs gratis sagteware en platforms kan die beperkte tyd van ’n opvoeder nou gedupliseer word. ’n Les se reikwydte strek verder en hoewel die salariskoste nie verminder nie, vermeerder die waarde vir geld en die onderwyser se tyd word gedupliseer,” sê Van der Bergh.

Hoewel die werklikheid van skoolsluitings weens Covid-19 nou meer lig op e-leer werp, sê Fedsas ’n geïntegreerde leer- en onderrigproses en die gebruik van hulpmiddels vir afstandsonderrig word al geruime tyd gebruik. Afwesighede is ook ’n bestaande probleem.

Van der Bergh meen die pandemie is nie die enigste rede waarom tegnologie in die onderwyssiklus geïntegreer moet word nie.

“Die doel is om meer waarde te put uit die wonderlike werk wat deur opvoeders in die klas gedoen word en ook meer tyd vir opvoeders beskikbaar te stel,” sê Van der Bergh.

“Die rol van die opvoeder kan nie deur tegnologie vervang word nie. Dit sou wees soos om te aanvaar dat ’n geweer ’n polisiebeampte sou vervang. Dit is die instrument in die hande van die gebruiker wat daaraan waarde gee.”

Van der Bergh sê die hulpbronne wat op die departement se webwerf beskikbaar gestel is, is ’n goeie stap deur die departement, veral omdat dit bekostigbaar en toeganklik is, en op ’n wye verskeidenheid platforms beskikbaar is.

“Die inhoud is meer generies van aard en is nie noodwendig eie aan alle leerlinge se leerstyle, die skool se beste praktyk, die skool se skedule of kontak met eie onderwysers gekoppel nie, en is ook meestal tot Engelse materiaal beperk.

“Dit is wel puik bykomende en ondersteuningsmateriaal en op kort termyn baie geskik. Daar is ook baie leesmateriaal gratis in alle landstale beskikbaar,” sê hy.

Volgens Van der Bergh is die hulpbronne daarop gemik dat leerlinge self of saam met ouers of versorgers daardeur werk.

“Daar is wel ’n volgende fase nodig en dit is waar die leerlinge met hul onderwysers afstandkontak het.

“Ons werk aan raad vir drie rolspelers: skoolbeheerliggame wat planne kan beraam om die moontlike groter ontwrigting van die skooljaar te beperk, ’n sentrale plek vir ouers en leerlinge om goeie en relevante hulpbronne te kry, en hulpbronne en platforms vir onderwysers om hul eie materiaal te genereer en te deel.”

Die volgende hulpbronne is op die onderwysdepartement se webwerf beskikbaar:

- Mind the Gap”-studiegidse vir gr. 12. Die gidse is volgens die Caps-kurrikulum ontwikkel en is in Afrikaans en Engels beskikbaar.

- Hersieningsbrosjures vir gr. 12.

- ’n Hulpbronpakket vir gr. R wat lesplanne, plakkate en stories insluit.

- Selfstudiegidse vir gr. 10 tot gr. 12.

- Storieboeke vir gr. 1 tot gr. 3 in al die amptelike landstale.

- “Siyavula”-handboeke vir gr. 4 tot gr. 12.

- “Thunderbolt”-boeke vir gr. 4 tot gr. 6.

- Handboeke vir wiskunde, natuurwetenskap en tegnologie vir gr. 7 tot gr. 9.

- Hulpbronne vir gebaretaal.

- ’n Verskeidenheid leesstof.

*Die multimedia-hulpbronne sluit in:

- Skakels na leersame apps (vir Android-toestelle).

- E-eksamens om gr. 12-leerlinge te help met eksamenvoorbereiding.

- Oudio-lesse vir gr. 12.

- Video-lesse vir gr. 12.

- Interaktiewe werkboeke vir gr. R tot gr. 4.

Die departement het ook skedules beskikbaar gestel vir lesse wat op radio- en TV-stasies aangebied sal word. Volgens Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, word die skedules bygewerk namate meer mediavennote hul platforms beskikbaar stel.

Die lesse sal in Engels aangebied word. Dit is nog nie duidelik of alle gemeenskapsradiostasies die lesse sal uitsaai nie.

Die voorlopige skedules kan hier afgelaai word:

LAAI SKEDULES AF

* Klik hier vir DStv se uitsaaiskedules

* Klik hier vir die skedule met radiolesse

Hulpbronne op ander platforms

Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied ook van 31 Maart tot 9 April daagliks gratis aanlyn lesse regstreeks vir matrikulante aan in wiskunde, lewenswetenskap, Afrikaans huistaal, fisiese wetenskap, Engels eerste addisionele taal, besigheidstudies, wiskundige geletterdheid en rekeningkunde. Die lesse is op die aanlyn platform “Die Wolkskool” beskikbaar.

Luidens ’n verklaring van die SOS is “Die Wolkskool” tot 30 Junie gratis en is ander leerinhoud vir gr. 4 tot gr. 12 ook beskikbaar.

Die program Klaskamer10 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) sal op wiskunde en fisiese wetenskappe vir gr. 8 tot gr. 12 fokus. Klaskamer10 word elke weeksdag om 15:00 uitgesaai en die omnibus is Saterdae beskikbaar. Die program is ook op DStv Catch Up beskikbaar sodat leerlinge herhaaldelik daarna kan kyk.

Pearson South Africa het ook ’n verskeidenheid aanlyn platforms vir leerlinge en onderwysers beskikbaar gestel.

- Classroom Solutions: Gratis hulpbronne vir onderwysers en leerlinge kan hier afgelaai word.

- Letterland: ’n Storie-gegronde benadering om drie- tot tienjariges te leer lees, skryf en spel.

- Smart-Kids: Taal- en wiskundige leermateriaal vir gr. R tot gr. 7 wat op die Caps-kurrikulum gegrond is.

X-kit Achieve: Hulpbronne soos studiegidse en eksamen-oefenbeke vir gr. 8 tot gr. 12.

Meer oor:  Fedsas  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.