Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Leerlinge sal mettertyd geplaas word, sê departement

Die departement van basiese onderwys het verlede week sy deure vir onderrig aan meer as 13 miljoen leerlinge oopgemaak vir die nuwe akademiese jaar.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basies onderwys. Foto: Argief

In ’n verklaring skryf Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, Gauteng, die Wes-Kaap en die Durban-omgewing in KwaZulu-Natal ervaar groot druk met skoleplasings.

“Die departement verstaan die frustrasie van ouers vanweë ’n gebrek aan plasing. Ons herhaal egter alle leerlinge sal mettertyd geplaas word.”

Daarby is meer as ’n halfmiljoen leerlinge oor die land heen – en 21 307 leerlinge met spesiale behoeftes – afhanklik van die departement se vervoer na hul skole. Tans kan al die leerlinge egter nie geakkommodeer word nie.

“Die departement het egter kommer uitgespreek oor die gebrekkige skoolinfrastruktuur en tekortkominge in veiligheid, sanitasie en vervoer wat onderrig die afgelope week in sommige dele van die land vertraag het,” sê Mhlanga.

“Verlede week het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, in ’n toespraak gesê een van die departement se prioriteite is die voltooiing van die geïntegreerde infrastruktuur-ontwikkelingsplan.”

Sowat 9,2 miljoen leerlinge ontvang daagliks kos by die skool as deel van die departement se voedingsprogram.

Volgens Mhlanga is die departement bewus van leerlinge wat by skole weggewys word omdat hulle nie identiteitsdokumente het nie, asook skole wat nie rapporte aan leerlinge uitreik nie weens uitstaande skoolgeld.

“Ons doen ’n beroep op skole om hul te weerhou van gedrag wat as ’n oortreding van die Suid-Afrikaanse Skolewet en die Grondwet beskou kan word.”

Mhlanga sê die departement is ontsteld oor dié voorvalle:

* die verdrinking van Enock Mpianzi (13) gedurende ’n gr. 8-oriënteringskamp van Parktown Boys High;

* die verdrinking van Keamohetswe Seboko (12) van die Laerskool Bekker by die skool se koshuis in Magaliesburg;

* die verdrinking van ’n gr. 11-leerling van Mpolweni High School in KwaZulu-Natal by Ballitostrand;

* die mesdood van ’n 18-jarige leerling van Kopanelo Secondary School in Noordwes;

* die brandstigting by die Khutlo-Tharo Secondary School in Sebokeng en Tokelo High School in Evaton (albei in Gauteng); en

* die dood van Emmanuel Tshivhase, ’n Gautengse skoolhoof.

Mhlanga sê terwyl die verdrinkings ondersoek word, moet die publiek nie spekuleer nie.

“Die departement betuig sy innige meegevoel aan die familie en skoolgemeenskappe van die oorledenes. Die departement veroordeel brandstigting en diefstal ten sterkste. Ons vertrou dat die wetstoepassingsagentskappe diegene sal aankeer wat verantwoordelik is vir skade aan skoolinfrastruktuur,” sê Mhlanga.

Meer oor:  Leerders  |  Skoolplasings  |  Skole  |  Onderwysdepartement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.