Reginah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, het Vrydagoggend aangekondig skole heropen eers op 15 Februarie.
Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër gesê daar is geldige kommer oor of dit wys is om skole te heropen te midde van die tweede vlaag van die koronavirus-pandemie.
Verskeie rolspelers in die onderwys is geraadpleeg en almal was dit eens dat skole se heropening uitgestel moet word in die lig van die druk op die gesondheidstelsel.
Die kabinet en die koronavirus-bevelsraad het dus besluit om die heropening van skole met twee weke uit te stel. Skoolbestuurspanne moet op 25 Januarie by skole aanmeld en onderwysers op 1 Februarie.
Kleuterskole wat onder die departement van maatskaplike val, word nie geraak deur vanoggend se aankondiging nie en die matriekuitslae word steeds op 23 Februarie bekend gemaak.
Lees die departement se verklaring hier.
Fokus op e-onderrig as situasie versleg
As die situasie nie verander nie, sal seker gemaak word dat onderrig plaasvind.
Daar is gepraat oor al die private verskaffers en vennote en belanghebbendes wat saam met die departement werk om e-onderrig te verbeter. As die situasie versleg, sal e-onderrig nagejaag word.
Tuisleer-opsie kan weer werk
Verlede jaar het ouers die opsie gehad dat hul kinders van die huis af kan leer.
Ouers het dan die werk by onderwysers gaan afhaal.
Dit sal weer so kan werk, meen Matthews.
Die departement probeer private skole, wat reeds die week geopen het, oortuig om ook eers op 15 Februarie te heropen, saam met staatskole.
Skoolgeld moet betaal word
Volgens Mhaule word onderwysers vergoed uit die geld wat uit skoolfondse kom. Daarom moet ouers hul skoolgeld betaal.
Daar is wel opsies vir ouers wat hul werk verloor het.
Kleuterskole is oop
Matthews het benadruk dat sentrums vir vroeë kinderontwikkeling, oftewel private kleuterskole, onder die departement van maatskaplike ontwikkeling val.
Dit is dus net die heropening van laer- en hoërskole wat uitgestel word.
“As private kleuterskole gereed is, mag hulle heropen, want ouers moet gaan werk. Hulle hoef nie te wag tot 15 Februarie nie.”
Nuwe variant
Mhaule sê navorsers van die departement van basiese onderwys werk saam met navorsers van die gesondheidsdepartement.
Die ministeriële advieskomitee het gemeen laer- en kleuterskole kan heropen omdat die data wys dat jonger kinders is nie so ’n groot risiko is nie.
Ouer leerlinge is geneig om meer te wil sosialiseer en hul maskers af te haal en vir mekaar drukkies te gee.
Daar is egter nie genoeg bekend oor hoe die nuwe variant beweeg nie. Daarom is besluit om eerder te wag.
Die departement sit egter nie met gevoude arms nie.
Daar word daaraan gewerk om aanlyn onderrig te versterk sodat ’n onderwyser wat tuis is met leerlinge kan kommunikeer.
Datums vir matriekuitslae onveranderd
Mzwandile Matthews, raadgewer van die minister van basiese onderwys, sê ’n rooster is opgestel vir die bekendmaking van die matriekuitslae.
Dié datums bly so, tensy Umalusi of die minister van basiese onderwys anders besluit.
Volgens Matthews is private skole in konsultasies probeer oortuig om ook hul heropening uit te stel.
Die departement kan hulle egter nie dwing nie.
Konsultasie kom oor pad vorentoe
Daar sal gou met provinsies vergader word oor die stand van gereedheid. Belanghebbendes sal gekonsulteer word oor die pad vorentoe.
Mhaule sê sy waardeer dit dat belanghebbendes die situasie verstaan. Daar moet as land saamgewerk word om lewens te red.
Die lewe van onderwysers en leerlinge moet gered word. As ons saamwerk, sal die geveg gewen word.
Mhaule het die nuuskonferensie waargeneem omdat Angie Motshekga, minister van onderwys, ongesteld is.
Mhaule het gesê sy weet nie of Motshekga se siekte met Covid-19 verband hou nie.
“Sy is by die huis. Die dokters het gesê sy moet rus.”