Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Leerplan dalk gesny

Die weglaat van nienoodsaaklike dele van die kurrikulum uit vanjaar se skoolleerplan kan moontlik deel van die groter oplossing vorm om die skooljaar te red.

Dit is volgens Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), en Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). Klopper en Colditz het egter gewaarsku dis nog heeltemal voortydig “en gevaarlik” om die finale besluite vooruit te loop oor hoe om die skooljaar te red te midde van Covid-19-inperkings.

Chris Klopper, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

“Ons kan nou hoogstens sê dat die besnoeiing van vakinhoud oorweeg word om te verseker dat die noodsaaklike aspekte van die kurrikulum met die oog op volgende jaar gedek sal word,” het Klopper Sondag gesê.

Colditz het gewaarsku mense moet ophou spekuleer omdat dit angs, onsekerheid en spanning verhoog oor hoe die verloop van die virus die skooljaar gaan raak.

“Ons het nie beheer hieroor nie, maar ons is tevrede dat die minister van (basiese) onderwys en haar departement baie verantwoordelik optree.”

Colditz sê die moontlike besnoeiing van die kurrikulum is maar een van vele moontlikhede wat oorweeg word in ’n “geïntegreerde poging” om die skooljaar te red.

“ ’n Mens kan nie sommer net dele van die kurrikulum uitsny nie, maar daar kan wel oorweeg word om sekere aspekte uit te laat wat nie noodsaaklike boublokke vir die volgende skooljaar is nie. Daar is beslis ruimte vir verfyning van die kurrikulums, maar ook verskillende maniere om dit te doen. Sekere toetse en assesserings kan byvoorbeeld weggelaat word.”

Paul Colditz

Volgens Colditz raadpleeg die nasionale onderwysdepartement rolspelers wyd, onder meer onderwysvakbonde, skoolbeheerliggame en provinsiale onderwysdepartemente. Daar word selfs met ander staatsdepartemente soos die departement van waterwese en sanitasie geskakel om seker te maak skole het genoeg skoon water.

“Finale toestemming van die gesondheidsdepartement en kabinet is nodig voordat enige skole weer kan heropen.”

Volgens Colditz is dit ook voortydig om oor die Junie-eksamen te spekuleer, maar hy dink wel dis onwaarskynlik dat dié eksamen sal voortgaan.

“Ek voorspel egter die rekordeksamen vir die matrieks sal wel plaasvind ter voorbereiding op die eindeksamen.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale departement van basiese onderwys, het Sondag bevestig sy departement is besig met ’n drie weke lange gesprek (met rolspelers) oor ’n herstelplan vir skole.

“Die besonderhede verander die hele tyd. Ek kan daarom nie kommentaar lewer oor die voorstelle (van kurrikulumbesnoeiing) nie. Dit wat verlede week bespreek is, verskil van dit wat byvoorbeeld vandag oorweeg word.”

Eugenie Gregan het Vrydag berig ’n beweerde konsepplan van die onderwysdepartement oor die infasering van die skooljaar het uitgelek. In dié “dokument” met ’n embleem van die onderwysdepartement, word daar uiteengesit hoe die skooljaar vanaf 6 Mei weer geleidelik ingefaseer gaan word.

Die departement van basiese onderwys het in reaksie hierop aan News24 gesê daar kan nog nie oor die plan uitgebrei word nie omdat die besonderhede nog uitgestryk moet word.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysersvakbond Naptosa, sê ’n finale dokument moet nog gepubliseer word en dat die proses van gesprekvoering nog aan die gang is.

“Dokumente is deel van ’n breër gesprek wat in die volgende paar dae afgehandel sal word.”

Colditz het met verwysing na die uitgelekte dokument ook beklemtoon dis verwarrend en in hierdie stadium nog “fopnuus” wat onnodig angs wek. Talle rolspelers glo infasering is die regte benadering, maar glo die konsepplan se volgorde moet heroorweeg word.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Paul Colditz  |  Elijah Mhlanga  |  Koronavirus  |  Skooljaar  |  Onderwys  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.