Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Lesufi dalk danksy Cosatu terug in ou pos

Dit blyk dat die vakverbond Cosatu druk op David Makhura, Gautengse premier, uitgeoefen het om Panyaza Lesufi weer as LUR vir onderwys in die provinsie aan te stel.

Panyaza Lesufi Donderdag in Johannesburg met sy beëdiging as LUR vir finansies. Skaars 24 uur later is hy teruggeskuif na die onderwys-portefeulje. Foto: Christiaan du Plessis

Skaars 24 uur nadat Lesufi as LUR vir finansies beëdig is, het Makhura aangekondig dat hy na sy ou portefeulje teruggeskuif word.

Nomantu Nkomo-Ralehoko, wat Lesufi sou opvolg, neem nou die finansies-portefeulje by hom oor.

Makhura het in ’n mediaverklaring gesê terugvoering van die gemeenskap buite partyverband het ’n rol gespeel in sy besluit om Lesufi terug te skuif na onderwys.

“Gister (Donderdag) het ek aangedui dat ek ernstige oorweging skenk aan die versoek en dat ek gou my besluit bekend sou maak,” sê hy.

Die onderwysvakbond Sadou het egter laat val dat Cosatu namens hom vir die heraanstel van Lesufi betoog het.

Lesufi ‘verootmoedig’

Lesufi het kort nadat hy weer in sy ou portefeulje aangestel is, in ’n Twitter-boodskap geskryf hoe dankbaar hy is. “Ek is werklik verootmoedig, mede-Suid-Afrikaners. Jul onsterflike liefde vir ons werk in die onderwys is verstommend, die druk om nié teleur te stel nie, is te hoog. My innige dank aan kameraad Nomantu, ons premier en die ANC. Laat ons weer werk vir ware nierassige en gehalte-onderrig vir almal.”

Onderaan dié twiet het Lesufi ’n skermgreep geplaas wat wys hoe sy naam meer as 3 490 twiets gelok het. Maar dis onseker of dié twiets te doen het met sy heraanstelling of die herrie oor ’n beweerde voorval van rassisme waaroor hy vroeër getwiet het. Dié voorval is intussen as fopnuus uitgewys.

Dié groepe is ontevrede

Jaco Deacon, adjunk-bestuurshoof van die Federasie vir Skoolbeheerliggame (Fedsas), sê hoewel hulle Lesufi se heraanstelling verwelkom, is daar ’n aantal “onafgehandelde sake” uit Lesufi se vorige termyn wat dringend aandag moet kry.

“Ons het ons kommer uitgespreek oor die skole-bouprogram in Gauteng en die aanlyn registrasiestelsel.

Dit (onderwys) is ’n moeilike portefeulje, maar ons het ’n goeie werksverhouding met hom opgebou.”

Tydens sy vorige termyn het Lesufi se transformasieplanne vir Gautengse skole hom in botsing gebring met drukgroepe soos AfriForum wat wil hê dat voormalige model-C-skole hulle taalbeleid behou, ondanks veranderinge in die demografie van die voergebiede van skole.

AfriForum meen egter die probleem lê daarin dat Lesufi nie gesorg het dat daar genoeg skole gebou word nie.

Carrien Bloem, hoof van onderrig by AfriForum, reken met Lesufi se terugkeer kan die strydbyl nie begrawe word nie.

“AfriForum is teleurgesteld in die besluit. Dit beteken dat die stryd in die onderwysstelsel gaan voortduur. Dit gaan nie daaroor om een taal as verhewe bo ’n ander te plaas nie, maar oor gehalte-onderrig en die bou van genoeg skole. Ons hoop mnr. Lesufi sal ophou met politieke speletjies,” sê Bloem.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se koukusleier in die Gautengse regering, bestempel Makhura se besluit as “ ? klap in die gesig van minderhede”.

Hy sê in ’n verklaring daar is geen twyfel dat Lesufi “sy vernietigingswerk met moedertaalonderrig en Afrikaans in die besonder gaan voortsit.”

Die Solidariteit Beweging is ook gekant teen die heraanstelling en beskuldig Lesufi in ’n verklaring van ’n “beheptheid om oorlog teen Afrikaanse skole te voer”, bo die bevordering van gehalte-onderwys in die provinsie. Francois Redelinghuys, kommunikasiebestuurder, sê Lesufi se rekord is “nie iets om oor opgewonde te raak nie”.

“In die eerste twee jaar van mnr. Lesufi se eerste termyn het die persentasie leerlinge in die provinsie wat wiskunde in matriek geslaag het, van 74% in 2014 tot 69% in 2016 gedaal. In dieselfde tydperk het die aantal leerlinge wat fisiese wetenskap geslaag het, van 76% tot 69% gedaal.”

Vakbonde reageer

Tseliso Ledimo, Gautengse sekretaris van die onderwysvakbond Sadou, is bly dat Makhura “na die versugting van die mense” geluister het en Lesufi na onderwys laat terugkeer het.

“Hy het groot ingrypings in die onderwyssektor gemaak en ons is bly dat Cosatu namens ons die inset gelewer het dat Lesufi in sy posisie moet aanbly.”

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê hy “deel gewis nie die opgewondenheid” oor Lesufi se terugkeer nie. Benewens Lesufi se houding jeens Afrikaans en sy “rassebril” meen die SAOU ook dat Lesufi “nie die onderskeid tussen sy politieke rol en die uitvoerende gesag van die onderwysdepartement kan tref nie.”

Chris Klopper, hoofbeampte van die SAOU, sê in ’n verklaring Lesufi se oogmerk “is gewis om die status van openbare skole as afsonderlike regspersone te ondermyn en terug te beweeg na die pre-1976-model van staatskole as ’n verlengstuk van die politieke gesag”.

Lesufi kon nie Vrydag vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Cosatu  |  Panyaza Lesufi  |  David Makhura  |  Vakverbond  |  Druk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.