Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Lesufi dryf etniese veldtog teen Afrikaans – ATR

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het ná die heraanstelling van Panyaza Lesufi, LUR vir basiese onderwys in Gauteng, sy kommer oor Afrikaans in Gautengse skole uitgespreek.

Lesufi is aanvanklik as die LUR vir finansies aangewys in die provinsie se uitvoerende raad, maar is twee dae later op 31 Mei na sy ou portefeulje teruggeskuif.

Dit was as gevolg van die reaksie van die publiek en die onderwyssektor, het David Makhura, Gautengse premier, toe verduidelik.

Conrad Steenkamp, hoof van die ATR, sê hulle is bekommerd dat Lesufi sy “opportunistiese etniese veldtog teen Afrikaans” gaan voortsit.

“Die minister (LUR) bedryf beginsellose populistiese magspolitiek en het homself ongelukkig ook as ’n onbetroubare gespreksvennoot bewys.”

Panyaza Lesufi Foto: Tebogo Letsie

Steenkamp sê noudat Lesufi teruggeskuif is, kan meer druk op Afrikaanse skole in Gauteng verwag word, wat daartoe sal lei dat daar meer hofsake en meer etniese mobilisering om taalkwessies sal wees.

“Ons moet ons egter nie blind staar teen die persoon van die minister nie. As populis hang sy mag af van negatiewe persepsies en emosies wat terugreik na die apartheidsera en diep in die gemoedere van die kiesers van Gauteng en elders geanker is.”

Steenkamp sê indien weerstand gebied wil word, moet daar teen “hierdie ou grense” heen gewerk word om “negatiewe stereotipes en persepsies oor Afrikaans en sy sprekers af te breek”.

“Hoe beter die verhouding met die breë gemeenskap is, hoe minder suurstof is daar vir opportunistiese streke.”

Steenkamp is verder van mening dat Afrikaans dalk op sy eie kan “oorleef”, maar dat die taal slegs in vennootskap met die ander inheemse tale van die land kan floreer omdat samehorigheid ’n sterker posisie bied om die “growwe populisme te besweer.

Dr. Conrad Steenkamp

“Samehorigheid tussen Afrikaanssprekendes is nodig om die minister en pogings om sy etniese mobiliseringspolitiek na ander provinsies uit te brei, op ’n kalm maar berekende wyse teen die staan.”

Steenkamp meen Afrikaanse gemeenskappe moet meer vir mekaar begin omgee, verskille van die verlede oorbrug en versoening tussen mekaar bevorder, want die behoud van Afrikaansmediumonderwys hang daarvan af.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het Netwerk24 se versoek om kommentaar ontvang. Die departement het wel later laat weet dat hulle geen kommentaar gaan lewer nie.

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.