Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Lesufi ‘geskok’ oor 21 000 wat gr. 1 druip
Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng. Foto: Trevor Kunene

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Saterdag sy skok uitgespreek oor meer as 21 000 leerlinge wat verlede jaar gr. 1 gedruip het.

Hy het beloof om streng op te tree teenoor skole wat nie op standaard is nie.

Lesufi het Saterdag op ’n geleentheid in Randburg gepraat waar inligting oor die vordering van laerskole in dié provinsie bekend gemaak is.

“Van nou af sal al die grade van gr. R tot gr. 12 belangrik wees.”

Lesufi sê die nasionale geïntegreerde assesseringsraamwerk sal geïmplementeer word om seker te maak dat alle laerskole streng getoets word.

“Die uitslae van dié assesserings sal aan die publiek bekend gemaak word soos wat ons met die gr. 12-uitslae doen.

“Ek verstaan steeds nie hoe 21 000 gr. 1-leerlinge dié graad druip nie. Ons stel die toekoms van meer as 21 000 leerlinge uit.”

Luidens ’n verklaring is daar altesame 1 432 laerskole in Gauteng met altesame 232 555 leerlinge wat verlede jaar in gr. 1 was. 21 704 van die leerlinge het gedruip.

Die prentjie in gr. 2 lyk nie veel beter nie, waar altesame 16 219 leerlinge uit 225 015 verlede jaar gedruip het.

Ek verstaan steeds nie hoe 21 000 gr. 1-leerlinge dié graad druip nie. Ons stel die toekoms van meer as 21 000 leerlinge uit.
Panyaza Lesufi

Lesufi sê skole in die provinsie gaan van nou af ’n gradering ontvang, soortgelyk aan hoe hotelle gegradeer word.

“Al ons skole in Gauteng gaan gegradeer word met punte vanaf een tot vyf. ’n Skool wat ’n punt van vyf kry, is ’n briljante skool, vier is ’n goeie skool, drie is ’n gemiddelde skool, twee is ’n slegte of swak skool en een is wanneer ’n skool gesluit moet word,” sê hy.

Luidens syfers wat deur die onderwysdepartement bekend gemaak is, is 38,9% van skole in die provinsie verlede jaar geklassifiseer as “baie goeie” skole. Dié syfer het vanjaar drasties toegeneem tot 90,2%.

In 2019 is 35,2% van skole gegradeer as “goed”, en in 2020 het die syfer gedaal tot 7,7%.

In 2019 is sowat 20,8% van skole as “betreklik goed” geklassifiseer en in 2020 1,9%.

Daar is vanjaar minder “swak” skole. Dié het gedaal van 5% in 2019 tot 0,2% in 2020.

Lesufi sê wanneer ouers aanlyn aansoek doen vir ’n plek vir hul kinders in skole sal hulle kan sien volgens watter gradering dié skool beoordeel is.

Hy sê dit is sodat ouers kan sien daar is wel skole in townships wat goed vaar; dié skole is nie noodwendig net in voorstedelike gebiede nie.

Lesufi het hom streng uitgespreek oor skole wat nie op standaard is nie. Hy sê skole wat teen onder 60% presteer, kan verwag dat hy persoonlik met hulle sal praat.

Hy sê die dae is verby dat hoërskoolonderwysers die laerskoolonderwysers gaan blameer dat leerlinge nie goed genoeg voorberei is nie. Laerskoolonderwysers gaan ook nie meer die blaam op gr. R-onderwysers kan plaas vir leerlinge se agterstand nie.

“Van nou af is elke graad belangrik, en ons het goeie onderwysers vir elke graad nodig.”

Hy sê gr. R gaan nou ’n volwaardige graad word en ten volle geïntegreer word met die res van ’n kind se skoolloopbaan.

“Verby is die dae dat gr. R-leerlinge skool toe kom om te sing, eet, slaap en dan weer huis toe gaan. Ons gr. R-leerlinge gaan onderrig ontvang terwyl hul brein nog sag is.”

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Opvoeding  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.