Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Lesufi kap dié wat vir Afrikaans baklei

“Geen rassis gaan in ons pad staan om ’n nierassige onderrigstelsel te skep nie,” het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, Sondag by die departement se kantoor in Johannesburg gesê.

Hy het ’n mediakonferensie gehou om die aanpassings in die aanlyn registrasie vir aanstaande jaar se gr. 1- en gr. 8-leerlinge in die provinsie bekend te maak.

“In Suid-Afrika het ’n sekere ras vaardighede en ’n ander ras het nie vaardighede nie. ’n Sekere ras is in universiteite en ’n ander ras rook nyaope in die townships. Ons moet die tendens breek,” het Lesufi gesê.

“Apartheid is deur mense geskep en apartheid sal deur die mensdom vernietig word.

Panyaza Lesufi
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, op die mediakonferensie op 19 Mei. Foto: Simon Sonnekus
Netwerk24 Simon Sonnekus
Apartheid is deur mense geskep en apartheid sal deur die mensdom vernietig word.

“Dié wat gedink het ons kinders moet tuinmans en teemeisies wees, is nou bang ons kinders word aktuariële wetenskaplikes.”

Lesufi het sekere partye uitgesonder wat “nie saamstem met die voedingsgebiede en die behoefte om ’n nierassige opvoedingstelsel te skep nie”.

“Dié wat ’n sekere taal praat, het gevoel hulle moet buite die formele konsultasieproses teen die departement saamspan. Dit is die Skoleondersteuningsentrum (SOS), die burgerregteorganisasie AfriForum en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU),” het Lesufi gesê.

Dié partye het aangedring dat leerlinge se taal van onderrig in aanmerking geneem word. Hulle was ook ongelukkig dat ouers die skool naaste aan hulle as eerste keuse moes aandui, ondanks die skool se taal van onderrig en leer.

Elaine Krige, woordvoerder van SOS, het gesê die sentrum neem eksepsie teenoor die “aggressiewe en aanvallende manier” waarop Lesufi die mediakonferensie gelei het.

“Hy hou aan om te sê ons is rassisties en ons wil nie hê die Engelse kinders moet beter onderrig kry nie. Dis glad nie waar nie. Ons beywer ons vir die bevordering van moedertaalonderrig in alle tale,” sê Krige.

“Jy kan ook nie 25 jaar ná die land ’n demokrasie geword het apartheid vir jou eie tekortkominge blameer nie.”

Lesufi het ook gesê dit gaan sy verstand te bowe dat die partye vir Afrikaanse onderrig baklei.

“Daar is nie meer Afrikaanse universiteite in die land nie. As jy op Afrikaanse onderrig aandring, kelder jy die kinders. Waar gaan die kinders ná skool studeer?”

Daar is nie meer Afrikaanse universiteite in die land nie. As jy op Afrikaanse onderrig aandring, kelder jy die kinders. Waar gaan die kinders ná skool studeer?

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, het gesê dié uitlating is onwaar.

“Moedertaalonderrig bevorder juis meertaligheid, want jou kanse is soveel meer om ander tale baas te raak. Net omdat jy in jou moedertaal onderrig ontvang het, sal jou nie belemmer as jy eendag in Engels gaan studeer nie.”

Die stelsel is wel verander sodat jy tydens die aansoekproses kan sien watter tale die skool akkommodeer.

“Ons het aanvaar mense moet die keuse van hul taal toegelaat word,” het Lesufi gesê.

“Ek wil egter beklemtoon dat ons kinders by enige skool kan aansoek doen. Taal is nie ’n voorloper om aanvaar te word nie.

“As jy Tshivenda praat, kan jy steeds by ’n Afrikaanse skool aansoek doen. Ons sal op grond van die getalle vasstel of ons onderrig in Tshivenda kan aanbied,” het Lesufi gesê.

“As die meerderheid leerlinge Afrikaans praat en hulle benut al die klaskamers, sal ons hulle toelaat om dit te doen. Maar as hulle nie al die klaskamers benut nie, is ons in die posisie om nog ’n taal in te voer.”

Lesufi het gesê dit pla hom dat die partye op die nippertjie teen die departement saamgespan het, aangesien al die skole met die aanvanklike regulasies tevrede was.

“Die departement het met al die 2 300 skole in Gauteng en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole gekonsulteer. Die skole het ook die reg gehad om te appelleer.”

Die departement het selfs ’n taakspan aangestel wat al die skoolbeheerliggame verteenwoordig het en wat twee jaar lank aan die regulasies gewerk het.

  • Aanlyn aansoeke open Maandag om 08:00 en maak op 22 Julie om 00:00 toe.
Kriteria vir plasing

Die plasing van leerlinge sal volgens dié kriteria (volgens volgorde van belangrikheid) plaasvind:

1. Woonadres

2. As die aansoeker reeds ’n sibbe in die skool het

3. Die ouers se werkadres(se)

4. Die aansoeker se ouers moet in ’n 30 km-radius van die skool se voedingsgebied woon of werk.

5. Jy kan vir enige skool aansoek doen, maar die kanse is skraal dat jy aanvaar sal word as jy nie aan die eerste vier vereistes voldoen nie.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Onderwys  |  Aanlyn Registrasie  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.