Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Lesufi laat koppe rol ná Parktown-tragedie

Daar is steeds ’n kultuur van geheimhouding by Parktown Boys’ High School in Johannesburg, ondanks pogings van die Gautengse departement van onderwys om dit te verander, sê Panyaza Lesufi, LUR van onderwys.

Hy het Vrydag op ’n mediakonferensie gepraat en aangekondig dat Malcolm Williams, skoolhoof van die skool, geskors is.

Talle klagte oor Williams en die skool se beheerliggaam is sedert die dood van Enock Mpianzi (13), ’n gr. 8-leerling, ontvang.

Sy lyk is verlede Vrydag in die Krokodilrivier by die Nyati-oord naby Brits gekry nadat hy vermoedelik tydens ’n wateraktiwiteit op sy skool se gr. 8-oriënteringskamp daar verdrink het.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, praat Vrydag op ’n mediakonferensie oor die Parktown Boys’ High School. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Lesufi het Vrydag gesê die beheerliggaam se lot sal Vrydagaand op ’n vergadering met die ouers van die skool bepaal word.

Ná Enock se dood het die departement die prokureursfirma Harris Nupen Molebatsi, ’n onafhanklike maatskappy, aangestel om die voorval te ondersoek.

Williams is geskors op grond van die voorlopige bevindings van dié ondersoek.

“Aanspreeklikheid is vir ons regering van die uiterste belang,” sê Lesufi.

Die departement doen ook ’n ondersoek na die onderwysers wat saam op die kamp was.

“Ons kan nie die onderwysers as ’n groep aankla nie, daarom moet ons bepaal wie watter verpligtinge gehad het en of hulle dit nagekom het.”

Lesufi het ook gesê die kamp was onwettig. ’n Skool moet drie maande voor enige kamp by sy distrikskantoor daarvoor aansoek doen vir goedkeuring.

Lesufi sê die skool het op 19 November, minder as twee maande voordat die kamp op 15 Januarie begin het, aansoek gedoen.

Beamptes van die distrikskantoor wat met dié aansoeke werk, was ook nalatig en is geskors.

“Die amptenare wat die aansoek verwerk het, moet ook verantwoording doen omdat hulle moes vasstel of die kamp aan alle veiligheidsaspekte voldoen,” sê Lesufi.

Skole sal voortaan by die departement self moet aansoek doen as wateraktiwiteite op ’n kamp aangebied word. Toestemming by die distrikskantore sal nie in sulke gevalle voldoende wees nie.

Die amptenare wat die aansoek verwerk het, moet ook verantwoording doen omdat hulle moes vasstel of die kamp aan alle veiligheidsaspekte voldoen.

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die aansoekproses word uiteengesit in die departement se regulasies oor plaaslike en internasionale toere vir leerlinge by openbare skole, wat in 2012 saamgestel is.

Dit bepaal dat Gautengse skole wat in die provinsie reis, drie maande voor die tyd by die distrikshoof aansoek moet doen. Volgens hom moet daar vir toere en kampe wat buite die provinsie plaasvind ook drie maande voor die tyd aansoek gedoen word, maar dit word by die hoof van die onderwysdepartement gedoen.

Harris Nupen Molebatsi Prokureurs is in 2018 aangestel om beweerde nalatigheid en wanpraktyke by die skool te ondersoek. Dit was nadat Collan Rex, ’n sportafrigter by die skool, van seksuele misdrywe met die seuns beskuldig is. Hy is September 2018 skuldig bevind en dien tans tronkstraf uit.

Die firma het toe reeds aanbeveel dat die kampe gestaak word.

Op ’n vraag oor waarom dit steeds voortgegaan het, het Lesufi gesê: “Ons moet onthou drie belangrike aspekte is destyds ondersoek, naamlik die skool se gedragskode, bewerings van seksuele misdrywe by die skool en die kampe self asook die ontgroeningspraktyke wat daarmee saamgaan.

“Ons het die leierskap van die skool en die gedragskode verander. Hoewel ons alles op papier reggestel het, lyk dit egter of die kultuur van geheimhouding steeds voortgaan en dit is iets wat ons beslis sal moet ondersoek,” sê Lesufi.

Volgens hom is ’n span van die prokureursfirma ook besig om die omstandighede by die oord self te ondersoek.

“Ek het op Google gelees van die ander verdrinking in 2010 daar. Ons sal moet kyk waarom die plek so gewild is ondanks die feit dat dit as ’n doodskamp bekend staan,” sê hy.

Kol. Adèle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig Mellony Sias (18) van die Hoërskool Adamantia in Kimberley het op 10 April 2010 verdrink tydens ’n rivieraktiwiteit, “wat baie ooreenstem met dié waaraan Enock deelgeneem het”.

Nog ’n leerling, Tumi Mokomane (12), is volgens Myburgh op 5 September 2009 tydens ’n swemaktiwiteit daar dood. Hy is die volgende oggend op die bodem van die swembad gevind.

Op 14 Maart 2002 is Tuso Moalusi (17) ook by die oord dood nadat hy ook tydens ’n rivieraktiwiteit verdrink het, sê Myburgh.

Sy kon nie bevestig nie dat Portia Sowela (14) in 1999 by die kamp dood is soos deur EWN berig.

Daniël Eloff, regsverteenwoordiger van die oord, sê hulle weet van drie ander sterftes by die kamp.

“Met elkeen van die voorvalle het die polisie in hul ondersoeke bevind die oord is nie aanspreeklik nie. In al drie vorige gevalle was die oorledenes nie besig met ’n programaktiwiteit nie,” sê Eloff.

Lesufi het bygevoeg Parktown Boys’ High is steeds een van die beste skole in Gauteng ondanks dit wat nou gebeur het.

“Daar is elemente wat verwyder moet word, maar daar is ook goeie elemente in die skool en ons moet daaraan erkenning gee.”

KASSIE:

Die stappe wat Lesufi aangekondig het, is:

* Die skorsing van Malcolm Williams, die skoolhoof.

* Die skorsing van amptenare in die distrikskantoor wat die skool se versoek om op die kamp te gaan, behartig het.

* Skole sal voortaan by die departement self moet aansoek doen as daar wateraktiwiteite op ’n kamp is en nie meer net toestemming by die distrikskantore kry nie.

* Onderwysers wat op die kamp was, word ook ondersoek.

* Nog koppe kan rol as die ondersoek voltooi is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.