Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Lesufi loop deur oor Afrikaans-uitlatings

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Maandag opnuut onder die Afrikaanssprekende gemeenskap deurgeloop oor sy uitlating dat dit sy “verstand te bowe gaan” dat daar nog vir Afrikaanse onderrig baklei word.

Lesufi is uit verskeie oorde skerp gekritiseer nadat hy op ’n mediakonferensie van die Gautengse departement van onderwys in Johannesburg onder meer gesê het as jy op Afrikaanse onderrig aandring, kelder jy jou kinders se toekoms omdat daar nie meer Afrikaanse universiteite in die land is nie.

Panyaza LesufiFoto: Argief

Sy uitlating volg net enkele weke nadat pres. Cyril Ramaphosa op ’n ANC-byeenkoms in die Atterbury-teater in Pretoria gesê het hy bly verbind daartoe dat Afrikaans sy regmatige plek in die Suid-Afrikaanse samelewing kry.

Lesufi se uitlating is ook strydig met die amptelike beleid van die departement van onderwys.

Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV, sê hierop Afrikaans is die derde grootste taal in Suid-Afrika met sewe miljoen Suid-Afrikaners wat dit daagliks oor grense heen as moedertaalsprekers gebruik.

“Daarmee saam is daar miljoene Suid-Afrikaners wat dit as tweede- en derdetaalsprekers gebruik.

“Ons hoef nie vir Afrikaans te veg nie, die feite spreek vanself,” sê Titus.

“Sonder taal is onderwys gedoem tot die krisisse wat elke dag opduik. Kyk na die rol van taal in suksesvolle skole. Kyk veral na die agterstande van inheemse tale. Dit gaan om meertaligheid en nie eentaligheid nie.”

Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê Lesufi “slaan die bal heeltemal mis” met sy uitlatings.

“Navorsing wêreldwyd het al oor en oor bewys dat kinders wat moedertaalonderrig ontvang, beter daaraan toe is. Dié kinders raak ook later in hul lewe ander tale makliker baas.

“Die werklikheid is dat wanneer slegs Engels as onderrigtaal gebruik word, meer kinders benadeel word.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het Lesufi daarvan beskuldig dat hy sy eie politieke aspirasies voorop stel, al beweer hy hy tree op in die beste belang van leerlinge, ongeag hul huistaal.

Klopper sê dit is ouers se grondwetlike reg om hul kinders in hul moedertaal te laat onderrig.

AfriForum het Lesufi in ’n verklaring daarvan beskuldig dat sy uitsprake oor Afrikaans kwetsend is en op ’n ernstige aantasting van Afrikaanssprekendes se waardigheid neerkom.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van dié organisasie, sê Lesufi het ’n minagtende houding jeens Afrikaans en Afrikaanssprekendes.

“Lesufi gee voor dat hy ’n kampvegter teen rassisme is, maar huiwer nie om in dieselfde asem kwetsende uitsprake teenoor die Afrikaanssprekende deel van die bevolking te maak nie.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale departement van onderwys, het by navraag gesê dié departement se beleid is dat alle tale gelyk is. Geen taal geniet voorkeur nie.

Lesufi het onder meer ook gesê: “In Suid-Afrika het ’n sekere ras vaardighede en ’n ander ras het nie vaardighede nie. ’n Sekere ras is in universiteite en ’n ander ras rook nyaope in die townships. Ons moet dié neiging verbreek.

“Apartheid is deur mense geskep en apartheid sal deur die mensdom vernietig word.

“Dié wat gedink het ons kinders moet tuinmanne en teemeisies wees, is nou bang ons kinders word aktuariële wetenskaplikes.”

Die LUR het in reaksie op ’n Twitter-boodskap van Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, dat Lesufi suksesvolle skole teiken pleks van wanfunksionele skole regruk, geantwoord: “As jou voorgeslag nie vir ons moddersloot-onderwys gegee het nie, was daar nie nou wanfunksionele skole nie. Buitendien, alle skole behoort aan al ons kinders.”

Kriel het gesê die ANC moet herbesin oor die wenslikheid daarvan om Lesufi in enige pos aan te stel waarin hy verdere polarisasie kan veroorsaak.

“Lesufi hou ’n ernstige bedreiging vir goeie menseverhoudinge in die land in,” sê Kriel.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale departement van onderwys, het by navraag gesê dié departement se beleid is dat alle tale gelyk is. Geen taal geniet voorkeur nie.

Hy sê die departement het om dié rede in 2014 begin met ’n projek om swart inheemse tale op skoolvlak te bevorder.

Die ANC het nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Saou  |  Panyaza Lesufi  |  Chris Klopper  |  Jaco Deacon  |  Onderwys  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.