Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Lesufi: Ouers moet opvatting oor skole verander

Die plasing van leerlinge in Gautengse skole was vanjaar ’n uiters pynlike proses, sê Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys.

Hy het Dinsdag op ’n nuuskonferensie in Johannesburg gesê ondanks die moeilike plasingsproses, sal 99,2% van alle leerlinge wat in die provinsie geregistreer is, teen Woensdag die skoolklok hoor lui.

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het Dinsdag gesê die probleem is nie om leerlinge te plaas nie, maar eerder om ouers tevrede te hou. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Riaan van der Bergh, bestuurder van onderwystegnologie by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê egter Lesufi bou strooipoppe.

“Dis so goed soos om te sê 99,2% van ’n land se mense het nie hoë bloeddruk nie, maar ons ignoreer die 0,8% wat aan hartaanvalle doodgaan. Vir daardie 0,8% wat nie geplaas is nie, is dit ’n groot probleem,” sê Van der Bergh en voeg by dat Lesufi hier net na dié leerlinge verwys wat reeds geregistreer is.

So staan sake wat skoleplasings betref, volgens Lesufi:

Appèlle nie almal toegestaan

Alle appèlle sou teen Dinsdagaand gefinaliseer gewees het.

Hy sê hul grootste probleem is ouers wat hul kinders slegs in ’n spesifieke skool wil hê en nie by ander skole waar plek wel beskikbaar is nie.

Volgens hom het hulle sowat 700 appèlle ontvang, “hoewel ons die meeste van die appèlle nie kon toestaan nie vir die doodeenvoudige rede dat skole (waar ouers hul kinders geplaas wil hê) vol is”.

Lesufi sê dit is “verouderde, historiese persepsies” wat ouers noop om hul kinders in bepaalde skole te plaas.

“Die mooi skole wat deur apartheid gebou is, is besig om te verouder,” sê Lesufi.

Hy sê die grootste kwessie is nou of hulle geld moet gebruik om dié skole se infrastruktuur op te knap, of moet hulle die geld gebruik om nuwe skole te bou. Die regte balans tussen die twee moet nog gevind word.

Hy sê voorts skole sal voortaan, net soos hotelle, gradeer word, sodat ouers kan weet wat om te verwag en dat mense se opvatting verander kan word.

“As jy by ’n tweester-hotel gaan slaap, weet jy jy gaan dalk in die nag deur kokkerotte besoek word,” het hy geskerts.

“Ons doen ’n beroep op ouers om teen middernag (Dinsdagaand) die skool te aanvaar waar die departement hul kind geplaas het, anders gaan hulle daardie plek verbeur,” sê Lesufi.

Ons doen ’n beroep op ouers om teen middernag (Dinsdagaand) die skool te aanvaar waar die departement hul kind geplaas het, anders gaan hulle daardie plek verbeur.

Die leerlinge sal dan deel van die laat aansoeke vorm.

Khume Ramulifho, die DA se woordvoerder vir basiese onderrig, hou egter vol dat die departement hulle oor meer as 2 000 appèlle ingelig het.

“Ek dink Lesufi verwys net na die appèlle wat hulle wel ondersoek het en nie na alles wat hulle ontvang het nie,” sê Ramulifho.

Laat aansoeke

Laat aansoeke open Woensdag en sluit weer op Vrydag 24 Januarie. Daar is tans 912 laerskole en 374 hoërskole wat nog plek vir leerlinge het.

Lesufi sê laat aansoeke sal net by skole met plek ingedien word, en daar sal geen appèlproses vir dié aansoeke wees nie.

Lesufi het in Desember gesê daar is 27 000 leerlinge wat nog nie geplaas is nie, “omdat hul ouers nie die nodige dokumentasie ingedien het nie”.

Op ’n vraag oor dié leerlinge het Lesufi Dinsdag gesê hul aansoeke is van die stelsel af verwyder.

“Ons kan net aanneem die mense is nie ernstig daaroor om plek vir hul kinders in skole te kry nie en dat dit mense is wat die stelsel wil toets.

Edward Mosuwe (links), Gautengse departementshoof van basiese onderrig, en Panyaza Lesufi, LUR, op ’n nuuskonferensie Dinsdag. Foto: Arisa Janse van Rensburg

“Diegene wat wel ernstig was, maar nie die nodige dokumentasie ingedien het nie se aansoeke kon nie verwerk word nie en nou neem hulle ons kwalik,” sê Lesufi.

Afgesien van wat ouers sê, het hulle volgens hom verskeie boodskappe en e-posse gestuur voordat die kinders se name uit die stelsel verwyder is.

Die 27 000 leerlinge sal dus Woensdag weer aansoek moet doen. Hy het beloof dat alle plasings teen 31 Januarie afgehandel sal wees.

Private sektor moet help

Lesufi het aangekondig dat die departement tydelik leerlinge in die Curro-groep se skole sal plaas.

Hy sê die leerlinge wat daar sal skoolgaan, is wel almal verlede jaar geplaas, maar weens infrastruktuurkwessies by skole of die ontevredenheid van ouers, moes die leerlinge verskuif word.

“Hulle sal tydelik daar skoolgaan en nie meer betaal as die skool waarvoor hulle aansoek gedoen het of waar hulle geplaas was nie.

As ouers byvoorbeeld gevra het hul kind moet in die Jeppe’s High School for Girls geplaas word, maar die skool is vol, sal die leerling na Curro gaan en net soveel betaal soos wat hy of sy in Jeppe’s sou betaal,” sê Lesufi.

Dit is nie duidelik hoe lank leerlinge in die skole sal bly nie.

Op navrae oor of leerlinge dan Curro-skoolklere sal moet koop, al gaan hulle later na ’n ander skool oorgeplaas word, sê Lesufi, “natuurlik”.

“Ons wil nie hê die leerlinge moet uitgesonder word omdat hulle anders lyk nie.”

Ons wil nie hê die leerlinge moet uitgesonder word omdat hulle anders lyk nie.

Volgens hom sal die leerlinge dieselfde kurrikulum volg as al die ander leerlinge in die land.

Nadia Rossouw, woordvoerder van Curro, het gesê hulle sal teen Woensdag kommentaar lewer.

Nuwe skole

Lesufi het beloof dat hy tot die verstryking van sy termyn in 2024, elke maand ’n skool gaan open.

Die eerste is die Noordgesig Primary School in Johannesburg wat Lesufi Woensdag gaan open.

In dieselfde asem sê hy hy glo nie dit is eintlik nodig om meer skole te bou nie en daar is genoeg plekke as ouers se voorkeure en persepsies uit die weg geruim word.

Ramulifho meen Lesufi se belofte is glad nie so indrukwekkend soos dit voorkom nie.

“Die meeste van die skole is in elk geval reeds beplan. Die skole is ook nie noodwendig nuwe skole nie, maar skole wat heropen gaan word,” sê Ramulifho.

Skole wys leerlinge weg

Ramulifho en Lesufi het albei ook melding gemaak van die kwessie dat skole nou leerlinge wegwys ondanks die departement se plasings.

Lesufi het ’n beroep op die skole gedoen om hul kapasiteit te vergroot en beloof dat die nodige hulpbronne aan hulle beskikbaar gestel sal word.

Ouers maak self planne

Ouers het begin om self planne te maak.

Deirdré van der Merwe sê hulle het in November verlede jaar onverwags van Centurion na die Moot-omgewing in Pretoria verhuis.

Haar dogter Zikita Balfour (13) was aanvanklik vir haar gr. 8-jaar by ’n skool in Centurion ingeskryf.

“Die skool het gesê ek moet dit aanvaar.”

Die skool in Centurion het gesê hulle sal reël dat sy na ’n skool in die Moot oorgeplaas word.

“Toe hulle dit wou doen, was die skool reeds vol,” sê Van der Merwe.

Tot haar frustrasie was die departement in Desember gesluit. Maandag het sy egter die lang rye by die skool in die Moot aangedurf en hulle het haar dogter geakkommodeer, hoewel hulle reeds vol is.

“Ek was desperaat. Ek het tot nou toe nog niks van die departement gehoor nie,” sê Van der Merwe.

Ek was desperaat. Ek het tot nou toe nog niks van die departement gehoor nie.

Adele Vermeulen van Krugersdorp het Maandag ook maar sake in eie hande geneem.

Vermeulen het aanvanklik haar dogter by ’n Engelse laerskool ingeskryf. Sy het sedert verlede jaar weekliks navrae by die departement gedoen om uit te vind waar haar dogter plek het, maar dit het op dowe ore geval.

Maandag het sy haar gewend tot die skool wat reeds vol is.

“Die skoolhoof het gesê sy hande is afgekap en net die departement kan leerlinge plaas.

My dogtertjie was so hartseer en emosioneel omdat al haar maatjies skool toe gaan en sy nie, dat ek Maandag summier na ’n ander Afrikaanse laerskool gery het en haar daar ingeskryf het.

"My dogtertjie was so hartseer en emosioneel omdat al haar maatjies skool toe gaan en sy nie, dat ek Maandag summier na ’n ander Afrikaanse laerskool gery het en haar daar ingeskryf het,” sê Vermeulen.

Sy sê dat sy nou oor naweke haar kind se skoolwerk vir haar in Engels sal moet verduidelik en dat sy steeds geen terugvoering van die departement ontvang het nie.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.