Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Lesufi se rassisme-raad ‘diskriminerend’

Skole se gedragskode en taal- en godsdiensbeleid diskrimineer steeds teen swart leerlinge, sê die Gautengse onderwysdepartement wat besig is om ’n adviesraad op die been te bring om rassisme in dié provinsie te ondersoek.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het tydens ’n sitting van die provinsiale wetgewer op 19 Junie gesê hy wil die raad stig om onderwysers en leerlinge vir rassisme te monitor.

Die VF Plus het vrae oor die voorgenome raad aan Lesufi gestel, waarna die konsep-verwysingsraamwerk bekend gemaak is. Die party sê volgens die skriftelike antwoord wat hy ontvang het, is die rede vir die stigting van die raad wit-op-swart-rassisme.

In die raamwerk word voorbeelde van rassisme by skole in die provinsie gelys, onder meer leerlinge wat glo by die private skool Curro Roodeplaat volgens ras geskei is.

Nog ’n voorbeeld is die gedragskode by die Pretoria High School for Girls wat sekere haarstyle verbied het (dis later opgehef). Swart leerlinge by dié skool het ook beweer onderwysers het hulle “ape” en ander neerhalende name genoem.

Voorvalle van rassisme deur ’n onderwyser by die St. John’s College en beweerde rassisme deur ’n onderwyser by die Parktown Boys’ High School word ook genoem.

Volgens die raamwerk vereis hierdie en ander voorvalle dat die departement ondersoek instel na rassisme by skole in die provinsie.

“By skole in Gauteng manifesteer rassisme op verskillende maniere, soos by die skeiding van leerlinge in klasse op grond van ras, asook die gebruik van beleid om diskriminerende praktyke in werking te stel, soos om swart leerlinge toegang tot ’n skool te weier, die skole se gedragskode, taal- en godsdiensbeleide wat nie inklusief is nie, en onderwysers wat neerhalende woorde gebruik as hulle met swart leerlinge praat.”

By skole in Gauteng manifesteer rassisme op verskillende maniere, soos by die skeiding van leerlinge in klasse op grond van ras, asook die gebruik van beleid om diskriminerende praktyke in werking te stel, soos om swart leerlinge toegang tot ’n skool te weier, die skole se gedragskode, taal- en godsdiensbeleide wat nie inklusief is nie, en onderwysers wat neerhalende woorde gebruik as hulle met swart leerlinge praat.

Adv. Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus en lid van die Gautengse wetgewer, sê in ’n verklaring die raad is “in die sonde van rasse vooroordeel” gebore.

“Geen melding word gemaak van swart-op-wit-rassisme nie. Dit is dus vir die VF Plus baie duidelik dat die raad tot stand gebring word ten einde wit onderwysers en leerlinge op ’n eensydige wyse te ondersoek sonder dat ag geslaan sal word op omgekeerde diskriminasie en rassisme.”

Die party het ’n klag oor die raad by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien en sê hy beskou die stigting van die raad as ongrondwetlik, omdat dit volgens hom teen wit onderwysers en leerlinge diskrimineer.

Volgens Alberts dien die verwysing na die gebruik van taal en godsdiens om leerlinge uit te sluit as bewys dat die raad gebruik gaan word om nie-Engelstalige skole te teiken om hul taalbeleid te verander.

“In wese is die voorbeelde eintlik ANC-kode om Afrikaanse skole seer te maak en alle skole te dwing om meertalig te word wat sal lei tot uiteindelike Engelstalige skole. Daarom beskou die VF Plus hierdie raad as ’n blote instrument wat die vernietiging van Afrikaanse en ander nie-Engelstalige skole moet verhaas.

“Die ironie hiervan is dat Afrikaanse ouers se belastinggeld gebruik word om die raad te skep en sy lede te betaal wat daarop gerig is om hul taal en kultuur te help vernietig terwyl Afrikaanse skole reeds net 6% uitmaak van alle skole in Gauteng,” sê Alberts.

Die VF Plus beskuldig Lesufi van polariserende gedrag en sê die party sal alles in sy vermoë doen om die stigting van die raad te verhoed.

Die ironie hiervan is dat Afrikaanse ouers se belastinggeld gebruik word om die raad te skep en sy lede te betaal wat daarop gerig is om hul taal en kultuur te help vernietig terwyl Afrikaanse skole reeds net 6% uitmaak van alle skole in Gauteng.

Lesufi het in antwoord op die VF Plus se vraag gesê meer besonderhede oor die raad kan eers verskaf word wanneer die verwysingsraamwerk gefinaliseer en goedgekeur is.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het nie op versoeke vir kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.